Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Skoksyfers: 10 m. toeriste in 2020 verlore

2020 was ’n droewige jaar vir Suid-Afrika se toerismebedryf en die minste buitelandse toeriste in 14 jaar het die land besoek.

blomme
Namakwaland se blommeprag is iets wat min buitelanders in 2020 persoonlik beleef het. Foto: iStock

Net meer as 4,5 miljoen internasionale reisigers het in 2020 by alle reiseindpunte soos hawens, lughawens en grensposte in die land aangekom.

Hierdie getal was in 2019 byna 16 miljoen, blyk uit Statistieke Suid-Afrika (SSA) se toerismeverslag vir 2020, wat Donderdag uitgereik is.

Dit is ’n afname van 71% in oorsese besoekers teenoor 2019, toe 15 825 296 buitelanders die land besoek het.

Die meeste van die 4 586 387 buitelandse reisigers wat Suid-Afrika wel verlede jaar as ’n reisbestemming gekies het, kom uit die res van Afrika.

k

Die verslag dui ook die besoekers se rede vir hul besoek aan Suid-Afrika aan, die wyse hoe hulle na die land reis, asook hul geslag en ouderdom aan. 

Vakansie was steeds die hoofrede vir mense se besoek aan Suid-Afrika. Slegs 1% het gekom om hier te studeer, 3,2% het vir sake en 4,5% het vir werk gekom.

k

Van die buitelandse reisigers is 699 804 as nie-besoekend aangeteken, wat daarop kan dui dat hulle vir langer hier kom woon en werk.

Net meer as 'n miljoen mense (1 084 263) het die land net vir ’n dag besoek, terwyl 2 802 320 langer gebly het.

Uiteraard was die persentasie internasionale besoekers wat die land verlaat het, ook baie minder en dit het met 70,7% vanaf 14 043 589 in 2019 teenoor 4 115 835 in 2020 gedaal.

As die aankoms- én vertreksyfers van buitelandse reisigers saamgevoeg word, was daar in 2020 ’n afname van 71,2% (12 296 800), teenoor 2019 toe dié somtotaal 42 770 167 was.

Só reis Suid-Afrikaners

Baie minder Suid-Afrikaners het ook in 2020 die land verlaat of hierheen gereis. In 2019 het 6 003 568 burgers die land ingekom, teenoor 2020 se 1 828 049, wat ’n afname van 69,6% is.

Die meeste Suid-Afrikaners het in Januarie na die land gereis en die minste tussen April en September, toe die land onder streng Covid-19-inperkingsmaatreëls was en minder as 2% Suid-Afrikaners die land binnegekom het.

Baie minder het ook die land verlaat, met net 1 623 702 in 2020 teenoor die 6 076 274 in 2019.

Die meeste burgers (62,3%) het per pad gereis, terwyl lughawens die tweede gewildste vertrek- of aankomspunt was.

Meeste internasionale toeriste uit Afrika

Die persentasie buitelandse toeriste wat in 2020 hierheen gereis het, was maar 23,6%, teenoor die 74,8% toeriste wat uit lande in die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) gekom het. Net 1,5% het van ander Afrika-lande gekom.

Die meeste besoekers van ander vastelande was vanuit Brittanje en hulle het grotendeels vir vakansie, sake-doeleindes of mediese behandeling gekom.

k

Die meeste studente het uit die VSA gereis.

Wat die SAOG-lande betref, het ’n meerderheid Zimbabwiërs hier kom vakansie hou, terwyl die meeste Namibiërs vir sake hierheen gereis het.

Die meeste studente was vanuit Lesotho, terwyl die meeste mense wat vir mediese behandeling hierheen gereis het, uit Botswana gekom het.

Die buitelandse besoekers het gemiddeld sewe dae gebly, terwyl reisigers van SAOG-lande gemiddeld net twee aande oorgeslaap het. Besoekers uit ander Afrika-lande het gemiddeld vyf dae gebly.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.