Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Skooltenders: Geld nog gevries

’n Groep maatskappye wat kontrakte gehad het om skole in Gauteng skoon te maak ná blootstelling aan die koronavirus, het Vrydag bloedneus gekry voor die Spesiale Tribunaal.

sanitasie
Ondernemings wat getender het om Gautengse skole skoon te maak weens besmetting met die koronavirus kan nog nie hul geld kry nie want onreëlmatighede met die tenders word ondersoek. Foto: Unsplash

Regter Lebogang Modiba het die spesiale ondersoekeenheid (SOE) gelyk gegee in die saak waarin die maatskappye wou keer dat die SOE geld vries in hul bankrekeninge wat hulle uit dié kontrakte verdien het.

Chachulani Group Investments en ’n paar ander ondernemings het 280 kontrakte by die Gautengse departement van onderwys gekry vir die sanitasie, diepskoonmaak en ontsmetting van skole teen Covid-19. Die totale koste van die kontrakte was R431 miljoen van Junie tot Augustus verlede jaar.

Maar die SOE het op 17 Junie vanjaar aansoek gedoen dat die kontrakte tersyde gestel word omdat beweer word die departement van onderwys het nie die waarde gekry waarvoor hy betaal het nie.

Die SOE het in Mei bates en geld van R40,7 miljoen van die betrokke maatskappye gevries, en in Junie ’n hofbevel gekry om nog R22,4 miljoen se bates in bankrekeninge van die maatskappye te vries, het News24 berig.

Daar was ook besware teen die manier waarop van die ondernemings die kontrakte gekry het. Van die kontrakte was bloot bestaande kontrakte wat net verleng is, en ander is sommer via Whatsapp-boodskappe aangestel, blyk dit uit Modiba se uitspraak Vrydag waarin sy die SOE gelyk gegee en die ondernemings se teenaansoek van die hand gewys het.

Volgens Modiba kon die respondente nie voldoende bewys dat die SOE se aansoek nie dringend is nie. Hoewel sommige wel op die departement se databasis as goedgekeurde diensverskaffers was, het hulle ook nie enige beswaar gehad teen die verkeerde manier waarop hulle in dié kontrakte aangestel is nie.

Die SOE voer aan daar was onreëlmatighede met die toeken van die kontrakte. Die ondernemings het nooit kwotasies ingedien vir die skoonmaakwerk nie. Die prys wat gevra is vir die skoonmaak van skole was boonop nie konsekwent nie. Daar is byvoorbeeld tussen R250 000 en R270 000 gevra vir die skoonmaak van laerskole, maar tot soveel as R290 000 vir die skoonmaak van hoërskole en R300 000 vir die skoonmaak van distrikskantore.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.