Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Skoor vra vir stelsels teen tender-afwykings
Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge. Foto: Jaco Marais

Die nasionale tesourie moet stelsels ontwerp wat keer dat nasionale en provinsiale staatsdepartemente, munisipaliteite en ander staatsinstellings steeds korrupsie pleeg deur van tenders af te wyk, het Themba Godi, voorsitter van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), Woensdag gevra.

Uit ’n verslag van die tesourie aan Skoor blyk dit Eskom is die grootste skuldenaar in die laaste twee kwartale van die 2017-’18-boekjaar, want sy oorskryding van tenderbedrae het ’n hele R11,228 miljard beloop. Op sy hakke is die Suid-Afrikaanse Inkomstediens met R917,8 miljoen, die Suid-Afrikaanse Poskantoor met R313 miljoen, en die Staatsinligtingsagentskap (Sita) met R150,8 miljoen.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, sê in ’n verslag aan Skoor hy het ’n taakspan saamgestel om die huidige prosedures met die bestuur van afwykings en oorskrydings te ondersoek, om die misbruik daarvan te verhoed.

Godi sê Skoor het juis die sentralisering van die staat se verkrygings gesteun omdat dit korrupsie sou help keer, maar dit blyk al is daar ’n verkrygingshoof in die tesourie is daar steeds baie tenderkorrupsie wat plaasvind.

Wat afwykings van tenders betref was die departement van verdediging in die derde en vierde kwartale boaan die lys met R734 miljoen se afwykings, gevolg deur Eskom met R553 miljoen en Sita met R288 miljoen.

Die tesourie het die volgende redes gegee vir die afwykings en oorskrydings:

  • Die instellings word nie verplig om oor afwykings verslag te doen by tenders waar daar nie mededingende bodprosesse gevolg word nie. Die misbruik daarvan word dan eers deur die ouditeur-generaal se kantoor opgetel wanneer hul oudits gedoen word.
  • Sommige owerhede wyk af in kontrakte wat deur ander instellings gereël word, en daar is nie ’n verpligting op hulle om sulke afwykings aan te meld nie.
  • Sommige rekenpligtige beamptes en owerhede dink hulle is daarop geregtig om af te wyk van tenderbedrae.
  • Daar is ’n gebrek aan gevolge vir werknemers wat onreëlmatige besteding veroorsaak.
  • Sommige rekenpligtige beamptes en owerhede dink die nasionale tesourie is net daar om hul aanstelling van ’n verskaffer goed te keur, terwyl die tesourie moet toesien dat soveel as moontlik verskaffers genooi moet word om voorstelle in te dien, en die voorstelle of kwotasies moet dan deur ’n bodkomitee beoordeel word.
  • Sommige rekenpligtige beamptes doen verkrygings via afwykings al het die tesourie die afwyking afgekeur – ’n kontrak van die departement van openbare werke is as voorbeeld hiervan genoem.
  • Sommige beamptes versoek nie voorafgoedkeuring van die tesourie vir enkelbron-verkrygings nie, byvoorbeeld Denel.
  • Sommige misbruik noodklousules om langtermynkontrakte te sluit, soos die departement van waterwese en sanitasie.
  • Sommige volg skyn-tenderprosesse om die mededingers van sekere verskaffers uit te skakel.

Die tesourie sê die ouditeur-generaal het al in 2014 gewaarsku oor die misbruik van tender-afwykings. Van die gevalle is waar drie skriftelike kwotasies nie aangevra is nie, waar verskaffers gebruik is wat nie belastingklaring van die SAID het nie, waar mededingende bodprosesse nie gevolg is nie, waar ’n voorkeurpuntestelsel nie toegepas is nie, of waar die verskaffer met die laagste kwotasie en die hoogste punte nie aangestel is nie.

Volgens Godi behoort die tesourie gedetailleerde verslae te kry van alle afwykings by staatsinstellings, en nie net van dié onder sekere bedrae nie.

Meer oor:  Themba Godi  |  Skoor  |  Tenders  |  Staatsinstellings  |  Tenderbedrog  |  Parlementêre Komitee
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.