Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Skrap kleinsake en spaar R230 m. – EFF

Minstens R230 miljoen kan onmiddellik bespaar word as die departement van kleinsake-ontwikkeling geskrap word.

Khumbudzo Ntshavheni, South Africas small business
Khumbudzo Ntshavheni, mininster van kleinsake-ontwikkeling. Foto: Waldo Swiegers, Bloomberg

Daar is “geen bestaansrede” vir dié ministerie en departement nie. Dit kan ’n program wees binne die nuwe departement van handel en nywerheid, het die EFF gesê in reaksie op die begrotingsposdebat oor dié departement.

Die geld wat so bespaar kan word, kan bestee word aan die ontwikkeling van kleinsake in onder meer die landbousakesektor.

Dis nie so ingewikkeld om kleinsake te steun nie. Baie kleinsakeondernemings soek nie geld nie, maar bloot ’n mark vir hul produkte, het die EFF gesê.

Die IVP het op sy beurt beklemtoon die departement maak sedert sy stigting in 2014 nog net planne, maar het nog niks uitgerig nie.

Toe die departement gestig is, was die werkloosheidskoers op 25,5%, terwyl dit vandag meer as 27% is, het die IVP gesê.

Michal Groenewald van die VF Plus het met die EFF saamgestem dat finansiering nie die grootste probleem van kleinsake is nie, maar dat die sektor bloot ’n omgewing benodig waarin hulle vrylik kan sake doen.

Kenneth Meshoe, ACDP-leier, het gesê hy hoop die nuwe minister, Khumbudzo Ntshavheni, kan die prestasie van die departement van kleinsake-ontwikkeling omswaai. “Daar was te veel stories van mense uit verskillende gemeenskappe oor hoe amptenare van die departement hulle uit geld geknoei het.

Nege amptenare van die departement is in Maart geskors, en daar moet nog gesien word hoeveel van hulle in werklikheid strafregtelik vervolg word.”

Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor kleinsake-ontwikkeling, het gesê ’n belangrike rol vir Ntshavheni behoort te wees om te verseker dat ander staatsdepartemente nie verkrygingsbeleid volg wat kleinsake ondermyn nie.

Mbhele het die voorbeeld genoem van ’n kontrak om inkhouers vir drukkers te verskaf. Kleinsakelui kla dié kontrak dwing alle staatsdepartemente om net sekere aanbevole verskaffers te gebruik, al is daar kleinsakeondernemings op die nasionale tesourie se sentrale databasis vir verskaffers geregistreer.

Die kontrak maak nie voorsiening vir afslagpryse nie en Mbhele sê hy verneem sommige van die voorkeurverskaffers vra winsmarges van soveel as 30% op die inkhouers terwyl kleinsakeondernemings gewoonlik ’n winsmarge van 10% of minder vra. Boonop word beweer die twee voorkeurverskaffers is in Londen gebaseer.

Daar is ’n nuwe produk wat die regering tot 30% op sy inkhouerbestellings kan bespaar, maar die maatskappye wat dit kan verskaf, kan nie vir die kontrak kwalifiseer nie, en die voorkeurverskaffers is nie gelisensieer om die goedkoper produk te verkoop nie. Só verloor die regering die geleentheid om honderde duisende rande te bespaar, het Mbhele aangevoer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.