Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Skrap minimum loon om werk te skep’

Suid-Afrika se werkloosheidskrisis – met 9,2 miljoen mense wat nie werk kan kry nie – gaan nie deur kosmetiese veranderinge en optimisme opgelos word nie, waarsku die Vryemarkstigting (FMF).

Suid-Afrika se werkloosheidskoers het in die eerste kwartaal van 2019 tot 27,6% gestyg. Illustrasie: iStock

Selfs al besnoei pres. Cyril Ramaphosa sy kabinet en stel hy nuwe ministers in sleuteldepartemente aan, sal dit nie help om Suid-Afrika se werkloosheidskrisis op te los nie, sê Chris Hattingh, navorser van die FMF.

Hattingh sê sodanige verandering sal net “oppervlakkig” wees.

“So lank as wat mense in die regering dink die regering is die beste toegerus om te besluit hoe mense hul lewe moet lei, maak dit weinig saak wie in beheer is.”

Sy opmerkings kom nadat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag bekend gemaak het werkloosheid het opgeskiet tot 27,6%, baie na aan die hoogste vlak nóg en uitgebreide werkloosheid is op ’n nuwe rekord van 38%. Uitgebreide werkloosheid sluit mense in wat as ontmoedigde werksoekers beskryf word en nie op die oomblik aktief werk soek nie, maar wel wíl werk.

Hattingh sê beloftes dat ekonomiese groei versnel gaan word, beteken niks totdat stappe ingestel word om rompslomp te beëindig nie. Onder dié rompslomp tel beperkende arbeidswette, insluitend die nasionale minimum loon van R20 per uur of R3 500 per maand wat in Januarie van krag geword het.

“Suid-Afrika se werkloosheidsyfers vertel ’n verskriklike verhaal. Hoe moeiliker die regering dit vir mense maak om die arbeidsmark te betree, hoe gouer sal hulle ophou werk soek.

“Terselfdertyd, hoe moeiliker en duurder die regering dit vir mense maak om ondernemings te begin en te bedryf, hoe minder mense sal hulle in diens kan neem.”

Hoewel die minimum loon se doelwit – om die lot van laags besoldigde werkers te verbeter – edel is, sê Hattingh: “Ons kan nie eksklusief fokus op retoriek wat ’n pragtige prentjie skilder oor die goeie bedoelings agter regulasies en wette nie – die gevolge moet ook bespreek word.”

Hattingh en die FMF glo dat die minimum loon die koste van arbeid verwring en dit moeilik maak vir werkgewers en werknemers om tot ’n vergelyk te kom. Dit maak dit duur om mense aan te stel en dit beperk werkskepping.

Hoe moeiliker die regering dit vir mense maak om die arbeidsmark te betree, hoe gouer sal hulle ophou werk soek.
Chris Hattingh van die Vryemarkstigting

Die FMF is nie die enigste organisasie wat teen die minimum loon gekant is nie. Die Langeberg Unemployed Forum, wat hom vir die indiensneming van werklose mense, veral jong mense, beywer, glo dit dra tot afleggings by en verhinder werkskepping.

Die teenargument is dat die minimum loon mense met werk se koopkrag verhoog, wat die ekonomie en dus werkskepping op lang termyn kan verhoog.

Hattingh sê die regering het dalk nie die aptyt om arbeidswette, insluitend die minimum loon, te verslap nie weens die mag van vakbonde, maar daar is baie ander dinge wat gedoen kan word. Dit sluit in dat ’n breëbandspektrum beskikbaar gestel word – ’n proses wat nou al jare lank sloer – sodat meer mense in die datamark kan meebring en datakoste kan verlaag. Dit sal mense op plattelandse gebiede in staat stel om van enige plek af te werk en gee hulle ook toegang tot hulpbronne vir opvoeding.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.