Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sny die vet, Tito
Tito Mboweni

Jan Taks het tot dusver vanjaar om en by 6% minder belasting ingevorder as in die vorige jaar.

Dit is die groot kopseer waarvoor Tito Mboweni, minister van finansies, ’n kuur moet kry wanneer hy sy begroting oor tien dae aan die parlement voorlê.

Die ander is die staat se massiewe salarisrekening, wat 35% van sy uitgawes beloop.

PwC reken dié dubbele uitdaging kan die begrotingstekort vir 2019-’20 op 6,3% te staan bring – die hoogste sedert 1992.

Die land is nou by die punt waar die staat se maandelikse inkomste uit belasting R25,4 miljard minder is as sy uitgawes, terwyl dit twee jaar gelede minder as R15 miljard per maand was, sê Mike Schüssler van economists.co.za.

Inkomste uit persoonlike belasting, die grootste bron van staatsinkomste, gaan volgens die jongste syfers net 1,9% meer oplewer as in die vorige jaar – heelwat minder as die inflasiekoers van 4,13%.

BTW-invorderings sal met net 0,4% styg en maatskappybelasting sal minder oplewer: 2% minder as die vorige jaar.

Dit is veral kommerwekkend omdat BTW in 2018 met 1% verhoog is tot 15%. Dit het meegebring dat belastinginkomste uit BTW in 2018 met 12,5% gestyg het, maar nou is daar feitlik geen groei uit BTW nie.

“Dis die gevolg van die swakker ekonomie, maar dit is ook duidelik dat die Inkomstediens nog nie die spesialisvaardighede teruggekry het wat verlore gegaan het in die vorige bedeling nie,” sê Schüssler.

Daar is tekens dat die welvarendste belastingbetalers hul gordels intrek.

Die getal getakseerde belastingbetalers wat meer as R5 miljoen per jaar verdien, het in ’n jaar met net agt mense toegeneem van 8 889 in 2017-’18 tot 8 897 in die volgende jaar.

Dis die gevolg van die swakker ekonomie, maar dit is ook duidelik dat die Inkomstediens nog nie die spesialisvaardighede teruggekry het wat verlore gegaan het in die vorige bedeling nie.
Mike Schüssler

Die getal vir 2019 is nog nie beskikbaar nie.

“ ’n Mens sou verwag dat dié groep sou groei weens inflasie, maar dit kan ook wees omdat die rykste maatskappye internasionaal bedrywig is en hul direkteure nou in die buiteland belasting betaal,” sê Schüssler.

Die staat kan R100 miljard oor drie jaar spaar as hy die vet in sy salarisrekening uitsny en bespaar op ander bedryfsuitgawes, sê Jeff Schultz, senior ekonoom van BNP Paribas Suid-Afrika.

Dit is wel minder as die R150 miljard wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) in Oktober genoem is, maar is ’n begin, sê hy

Die salarisrekening beloop 35% van die regering se besteding.

Schultz sê hoewel die huidige salarisooreenkoms vir vakbondlede in die staatsdiens eers in Maart volgende jaar tot ’n einde kom, kan die sowat 33% staatsamptenare in hoër poste wat nie aan vakbonde behoort nie, geteiken word vir besparings vanjaar.

Hul verhogings kan bevries word, bonusse geskrap word en outomatiese bevordering na hoër vlakke beperk word.

Luidens dokumente van die tesourie het die regering se totale besteding aan vergoeding tussen 2006-’07 en 2018-’19 meer as verdriedubbel van R154 miljard tot R518 miljard.

Salarisverhogings hoër as inflasie was grootliks daarvoor verantwoordelik.

Lullu Krugel, hoofekonoom van PwC, sê sterk optrede om personeelkoste in bedwang te bring sal sakevertroue help herstel in die regering se vermoë om die fiskale situasie te verbeter.

Staatskuld styg stelselmatig en beloop nou sowat 60% van die bruto binnelandse produk (BBP). Weens geldelike hulp aan staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) soos Eskom kan dié skuldlas teen 2022 meer as 68% wees.

Krugel sê PwC se raming van ’n begrotingstekort van 6,3% is gegrond op die aanname dat R65 miljard minder in belasting ingesamel sal word as waarvoor die 2019-begroting voorsiening gemaak het en dat daar geen bestedingsaanpassings is nie.

“Sou die minister van finansies salarisverhogings in die staatsdiens vir die jaar bevries, kan die tekort tot 5,4% van BBP verminder word.”

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag in sy staatsrede erken trae ekonomiese groei beteken die regering se inkomste is te min om sy uitgawes te dek, die skuldlas raak onvolhoubaar en besteding is gemik op verbruik en skulddienskoste eerder as op infrastruktuur en produktiewe aktiwiteit.

“Ons kan nie so voortgaan nie.”

Die regering is in gesprek met vakbonde oor hoe die staat se salarisrekening in bedwang gebring kan word en vermorsing verminder kan word, het die president gesê.

Die begroting kom te midde van swak ekonomiese groeivooruitsigte van kwalik 0,5% vir die jaar.

Dié pessimistiese siening is grootliks te wyte aan beurtkrag, wat ekonomiese groei aan bande lê, sê Schultz.

Beurtkrag in die eerste helfte van die jaar kan BBP-groei volgens hom tot 0,4 persentasiepunte kos – vandaar BNP Paribas se groeiverwagting van net 0,5% vir die jaar.

Daar word bereken fase 2-beurtkrag kos die ekonomie R1 miljard per dag.

Met fase 4 skiet dit op tot R1,9 miljard.

Krugel sê as Mboweni se ekonomiese plan wat verlede jaar ter tafel gelê is, nou in werking gestel word, kan dit ekonomiese groei met 2,3 persentasiepunte verbeter, en 1 miljoen bykomende werksgeleenthede skep.

Kyle Mandy, hoof van belasting by PwC, sê die verwagte tekort van R65 miljard in belastinginkomste vir die jaar is grootliks te wyte aan minder BTW en maatskappybelasting in die swak ekonomiese tydperk.

In die 2019-begroting is reeds voorsiening gemaak vir sowat R10 miljard se bykomende belasting.

In die begrotingsrede op 26 Februarie kan belastingverhogings van R25 miljard aangekondig word. Dít kan ’n kombinasie van BTW en hoër inkomste uit persoonlike inkomstebelasting wees, omdat die belastingkerwe nie volledig aangepas sal word om vir inflasie voorsiening te maak nie.

Mandy meen ’n BTW-verhoging is moontlik omdat die regering min ander opsies het om sy inkomste te verhoog.

Die BTW-koers is in 2018 van 14% tot 15% verhoog.

PwC meen voorts belastingbetalers kan hulle gereed maak vir ’n inflasieverwante verhoging in die algemene brandstofheffing (van 15c/F of selfs 20c/F) en ’n verhoging van 30c/F in die brandstofprys vir die Padongelukkefonds.

Daar kan ook ’n langer lys van luukse items wees waarop ad valorem-belasting gehef word, hoër suikerbelasting en inflasieverwante verhogings in sogenaamde sondebelasting op tabakprodukte en alkohol.

Meer oor:  Ekonomie  |  Beurtkrag  |  Staatsondernemings  |  Jan Taks  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.