Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Sny taks op petrol en laat rykes opdok, vra Cosatu

Tot 38% van die brandstofprys by vulstasies bestaan uit belasting, sê die vakverbond Cosatu.

Maar rykes gaan nie hou van Cosatu se voorstelle hoe die regering kan vergoed vir die wegneem van die belastings op brandstof nie.

Die petrolprys (95-oktaan) is Woensdagoggend met tussen R1,26 en R1,31 per liter tot R16,13 in Gauteng en R15,49 aan die kus verhoog.

Hoër belasting op rykes wat meer as R1,5 miljoen verdien, hoër BTW op luukse goedere, die verhoging van maatskappybelasting van 28% tot 30% en hoër boedelbelasting is van Cosatu se voorstelle om op te maak vir die verlies aan inkomste as die regering die belasting op brandstof sou wegvat.

Die regering kan ook 10% van die nasionale begroting spaar wat, volgens die ouditeur-generaal, verlore gaan weens korrupsie, vermorste en vrugtelose besteding en onbestede bedrae wat na die volgende boekjaar oorgedra word, het Matthew Parks, parlementêre koördineerder van Cosatu, in ’n verklaring gesê.

Dit kom nadat die petrolprys (95-oktaan) Woensdagoggend met tussen R1,26 en R1,31 per liter tot R16,13 in Gauteng en R15,49 aan die kus verhoog is.

Parks meen die regering moet ook op belastingontduiking deur rykes en op die handel in onwettige tabak en onwettige invoer toeslaan.

Parks noem ook die vermorste staatsuitgawes van miljarde rande wat op onder meer spyseniering en vier nuwe departementele hoofkantore, geboue vir die Tshwane-stadsraad en vir die Suid-Afrikaanse konsulaat in New York bestee word. Dit bedra glo soveel as R13 miljard.

Parks waarsku egter dat die besnoeiing van die belasting op brandstof nie ten koste van reeds swak betaalde petroljoggies by vulstasies moet wees nie. Deel van die brandstofprys – volgens Cosatu is dit ook deel van die brandstofheffing maar dit is in werklikheid ingesluit in die gereguleerde kleinhandelwinsmarges vir vulstasies – word spesifiek opsy gesit vir die salarisse van petroljoggies.

Volgens Parks moet dit beskerm word om te voorkom dat vulstasies geoutomatiseer word, want dit sal byna 100 000 werkgeleenthede bedreig.

Cosatu het ook die volgende voorstelle gemaak om die impak van duurder brandstof te versag:

1. Pak die krisis in openbare vervoer:

  • ’n Duidelike plan is nodig om te keer dat Metrorail verder in duie stort. Dit moet ’n plan teen die weghol-misdaad op treine insluit;
  • Skuif vragvervoer van die paaie na spoorlyne;
  • Belê in die bus- en taxibedryf en brei dit uit;
  • Minibustaxi’s moet hul kant bring en ophou om soos straatboewe op te tree.

2. Stop die bloeding by die Padongelukfonds:

R1,98 per liter van die brandstofprys gaan na die fonds. Dit is meer as 12% van die pompprys. Maar die fonds is in ’n volgehoue geld- en bestuurskrisis. Sy huidige tekort is R141 miljard en dit kan tot R480 miljard styg teen die huidige koers as die krisisse daar nie opgelos word nie.

Die regering beloof al jare om die fonds reg te ruk, maar hy moet nou aan die land begin sê hoe en wanneer.

3. Bou ’n plaaslike elektriesevoertuig-bedryf:

Suid-Afrika sal altyd aan die wisselvallighede van die olieprys uitgelewer wees solank as wat dit ’n brandstof-gedrewe ekonomie bly.

Die vakverbond Cosatu meen ook die regering moet die plaaslike motorbedryf aanspoor om elektriese voertuie te vervaardig. Die regering het al probeer deur die maatskappy Optimal Energy te steun met die bou van die Joule, maar het toe besluit om sy steun te onttrek. Op die promosiefoto van destyds staan Kobus Meiring, uitvoerende hoof van Optimal Energy, en Keith Helfet, ontwerper van die Joule, by ’n prototipe. Foto: OPTIMAL ENERGY

Die land het ’n groot motorvervaardigingsbedryf. Dit is tyd dat die regering ernstig met die motorvervaardigers praat oor die ontwikkeling van ’n plaaslike bedryf vir elektriese voertuie, wat motors, busse en motorfietse insluit.

Renault en Volvo het al datums aangekondig wanneer hulle slegs elektriese voertuie gaan bou. China bou al byna 1 miljoen elektriese voertuie per jaar. Volkswagen het planne om oor die volgende paar jaar 15 miljoen elektriese voertuie te bou. Tog het die regering en die plaaslike bedryf nog nie planne om Suid-Afrika as ’n nodus vir die bou van elektriese voertuie vir Afrika te vestig nie.

Parks meen dis ’n unieke geleentheid om kweekhuisgasse te verlaag, van die afhanklikheid van die olieprys te ontsnap en om Eskom te red deur ’n massiewe toename in die vraag na krag te skep.

“Al wat nodig is, is dat die regering uit sy diepe slaap wakker skrik.”

Meer oor:  Cosatu  |  Petrolprys  |  Belasting  |  Rykes
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.