Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só groot was die ramp vir toerisme in 2020

Dis nou uiteindelik moontlik om te sien presies hoe groot die impak van die Covid-19-pandemie in 2020 op die toerismebedryf was – en die syfers is skokkend, met meer as R15 miljard se inkomste wat bloot verdwyn het.

Die V&A Waterfront in Kaapstad. Toerisme in die Wes-Kaap het veral kwaai onder die gevolge van die Covid-19-pandemie gely. Foto: Getty Images

Toerismeverblyf-ondernemings het in 2020 slegs R9,8 miljard ingevorder, teenoor R25,2 miljard in 2019 – ’n daling van 61,1%.

Dis oor alle bronne van inkomste vir die bedryf, van hotelle tot kampeerterreine.

Statistieke Suid-Afrika (SSA) het Maandag sy jongste syfers oor toerismeverblyf vir Desember, en ook die hele 2020, uitgereik.

Desember het ’n ietwat van ’n verbetering getoon teenoor vorige maande, maar die bedryf het steeds gebuk gegaan onder die pandemie en die staat van inperking se uitwerking op toerisme.

In Desember het inkomste uit verblyf vir die bedryf met 51,5% getuimel teenoor Desember 2019.

Dit was hoofsaaklik weens die 41,2%-daling in kamers wat uitverhuur is.

Die grootste impak was op hotelle. Dié ondernemings het dolleeg gestaan, met ’n besettingskoers van slegs 26,1% in wat gewoonlik die besigste maand van die jaar is.

Dit blyk asof toeriste ná ’n jaar van ellende gegaan het vir verblyf wat vir hulle of die goedkoopste was of die gerieflikste om te bespreek.

Gastehuise en -plase, met ’n gemiddelde prys van R772 per aand teenoor hotelle se R1 057 per aand, was effens voller as hotelle, maar steeds was die besettingskoers in Desember slegs 27,7%.

Maar die kategorie “ander verblyf”, waaronder Airbnb val, het ’n besettingskoers van 43% gehad, ten spyte van die pandemie.

Dié ondernemings het ’n gemiddelde prys van R1 045 per aand gevra, maar is bes moontlik gehelp deur die gerieflikheid van die Airbnb-app, wat dit vir toeriste bitter maklik maak om goeie verblyf vinnig op te spoor.

Dit beteken nie dié kategorie ondernemings het nie gesukkel nie. Ander verblyf het in Desember ’n daling in inkomste van 42,7% ervaar teenoor Desember 2019.

Ander verblyf het in dié maand R541,1 miljoen ingevorder en hotelle R1,38 miljard.

Saam is dié twee onderafdelings van verblyf verantwoordelik vir die oorhoofse meerderheid inkomste in die bedryf. Hul agteruitgang het dus ook die grootste invloed op die algehele syfers.

Hotelle se benarde situasie was verantwoordelik vir 35,7 persentasiepunte van die 51,5%-daling in inkomste uit verblyf vir die hele bedryf.

Ander verblyf was verantwoordelik vir 13,3 persentasiepunte daarvan.

Weens die herinstelling van vlak 3 van die staat van inperking aan die einde van Desember sal daar waarskynlik nog maande se droewige syfers volg.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Toerisme  |  Verblyf  |  Toerismebedryf  |  Bestemmings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.