Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só help Swart Vrydag dalk die ekonomie

Swart Vrydag het bes moontlik gehelp om ’n swart gat in Suid-Afrika se ekonomie te voorkom.

Kleinhandelaars se winsgrense is onder druk. Foto: Sandile Ndlovu

Volgens Statistieke Suid-Afrika was kleinhandelverkope in November 2019 ’n stewige 2,6% méér as ’n jaar gelede. Dis die beste jaargroei in winkels se verkope sedert April 2019 se 2,7%. April is gebruiklik ’n goeie maand as Paasfees of die skoolvakansie in dié maand val.

Die jaargroei is teenoor die anemiese 0,4% wat in September en Oktober aangeteken is.

Die Investec-ekonoom Lara Hodes wys egter daarop dat kleinhandelaars beslis nie al die pad bank toe lag nie. Prysstygings bly ver onder die inflasiekoers. “Kleinhandelaars word genoop om hul winsgrense te vernou in die lig van die flou vraag.”

Siphamandla Mkhwanazi, senior FNB-ekonoom, sê hoewel November se syfers bemoedigend is, skets die syfers vir 2019 tot einde November – groei van net 1,4% – maar ’n droewige prentjie van gedempte vraag deur verbruikers. Voljaargroei vir 2018 was 2,2% en vir 2017 3,5%.

2019 het waarskynlik die traagste groei van die dekade opgelewer. Die vorige laagtepunt was -3,2% in 2009.

Tussen Oktober en November verlede jaar het winkels se kasregisters 3,1% meer geld gelok nadat die uitwerking van prysstygings weggelaat is. Dis teenoor maandgroei van 0,1% in September en -0,1% in Oktober.

Die mees gerusstellende syfer in dié stadium is egter die 1,2%-groei vir die drie maande tot einde November vergeleke met die vorige drie maande. In September was die driemaandesyfer slegs 0,7% en in Oktober 0,1%.

Nog net Desember se kleinhandelverkoopsyfers moet uitgereik word voordat die prentjie oor kleinhandel se lot in die laaste kwartaal van 2019 duidelik sal blyk. Handel – wat ook groot- en motorhandel insluit – verteenwoordig nagenoeg 15% van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk (BBP).

Die BBP vir die derde kwartaal van 2019 het met -0,6% gegroei en die verkoopsyfers is onder dié wat met ’n valkoog dopgehou word om te probeer raam of die ekonomie ook in die vierde kwartaal ingekrimp het. Dit sal beteken die land het ’n resessie betree.

SSA sê Swart Vrydag het ’n “beduidende en stygende invloed” op November se kleinhandelverkope gehad die afgelope paar jaar. Omdat modelle wat syfers seisoenaal aanpas egter op langtermynneigings gegrond is, weerspieël die syfers nog nie die volle uitwerking van Swart Vrydag nie.

Mkhwanazi sê dit lyk asof huishoudings baie pryssensitief is en meer geneig is om goed te koop wanneer dit ’n spesiale aanbieding is, soos met Swart Vrydag. Dit kan egter slegte nuus wees vir die kwartaal: “Dis moontlik dat verbruikers die kans gebruik het om hul gebruiklike Kersinkopies vroeg te doen, wat kan beteken Desember se inkopie-aktiwiteit was betreklik gedemp.

Die beste verkoopsgroei, van jaar tot jaar gemeet, was vir kos, drank en tabakprodukte wat in spesialiswinkels soos bakkerye, slagterye en deli’s verkoop word (6,2%). Verkope by algemene handelaars (3,2%), handelaars van meubels, toestelle en toerusting (3,2%), en klere- en skoenwinkels (2,7%) het ook goed gevaar.

Vooruitsigte vir 2020

Mkhwanazi sê druk op verbruikers se besteebare inkomste bly hoog weens ’n kombinasie van werkskaarste en hoër belastings. Hul aptyt vir skuld bly betreklik sterk, maar al hoe meer mense sukkel om wel krediet te bekom omdat hul kredietgeskiedenis weens wanbetalings agteruit boer.

Tesame met baie lae verbruikersvertroue – dis die laagste in twee jaar, het FNB vroeër die week bekend gemaak – lyk dit nie asof kleinhandelverkope 2020 op ’n galop gaan begin nie.

Hodes beaam dit: “Enige beduidende en volgehoue styging in huishoudelike verbruiksbesteding op kort termyn is onwaarskynlik.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.