Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só het rand van staatsrede tot staatsrede gevaar
rand

Wanneer pres. Cyril Ramaphosa Donderdag sy staatsrede lewer, doen hy dit teen die agtergrond van ’n ekonomie wat teen die toue is.

Werkloosheid is op ’n rekordvlak van 29,1% of 38,7% as ontmoedigde werksoekers bygetel word, het Statistieke Suid-Afrika dié week bekend gemaak.

Ekonomiese groei van slegs 0,4% word vir 2019 verwag (die syfers word op 3 Maart uitgereik) en daar is ’n skraal moontlikheid dat die land in ’n resessie is. Vir 2020 word ewe trae groei van tussen 0,8% en 1,2% voorspel.

Vir die rand was Ramaphosa se eerste jaar as president bitter moeilik.

Sedert Ramaphosa op 8 Februarie 2019 sy eerste staatsrede vir dié jaar gelewer het, het die rand met nagenoeg 7,8% teenoor die dollar verswak.

Hoewel wêreldfaktore buite sy beheer die verswakking aangeblaas het, het die regering ook ’n paar eie doele aangeteken, volgens ’n ontleding wat die valutahandelfirma Peregrine Treasury Solutions gedoen het oor hoe die rand van staatsrede tot staatsrede gevaar het.

Die rand het sy sterkste vlak vir 2019, R13,24, begin Februarie behaal. Teen 8 Februarie, toe Ramaphosa sy staatsrede gelewer het, was die rand egter R13,65 werd.

Peregrine sê die belangrikste faktore wat die rand deur die loop van 2019 laat verswak het, sluit in:

  • Die handelsoorlog tussen die VSA en China;
  • Die chaos om Brittanje se egskeiding van die Europese Unie (Brexit);
  • Vrese oor die verlangsaming in wêreld- ekonomiese groei;
  • Spanning tussen die VSA en Iran wat ’n paar keer opgevlam het; en
  • Die nuwe koronavirus (Covid-19) wat in China uitgebreek het.

Al dié dinge het meegebring dat wêreldbeleggers hulle in groot getalle aan ontluikende markte onttrek het, wat die rand laat verswak het.

Die rand het egter die eerste keer tot meer as R15 per dollar verswak toe ’n vurige debat begin Junie oor die nasionalisering van die Reserwebank – en oor die sentrale bank se onafhanklikheid – gewoed het.

Ramaphosa se tweede staatsrede, op 19 Junie, het pertinent die versekering gegee dat daar nie met die Reserwebank se mandaat of onafhanklikheid gepeuter gaan word nie. Dié staatsrede is gelewer ná die verkiesing in Mei, toe Ramaphosa se administrasie amptelik aan bewind gekom het.

Die rand het mettertyd weer afgekoel tot onder die R15-kerf, aangehelp deur internasionale faktore soos die Federale Reserweraad van die VSA wat rentekoerse onveranderd gelaat het.

Die rand het sy swakste vlak vir 2019, R15,46 per dollar, in Augustus gehaal, maar Peregrine skryf dit aan wêreldwye swak syfers toe, eerder as aan Suid-Afrikaanse faktore.

Plaaslike faktore wat die rand laat versterk het deur die loop van die jaar het ingesluit in Maart, toe Moody’s Investors Service die land se kredietgradering onveranderd gelaat het, en in Mei, toe die ANC die verkiesing gewen het.

Die rand het weer tot R15,09 gegly ná Tito Mboweni se mediumtermynbegrotingsraamwerk in Oktober omdat dit getoon het hoe benard die staat se geldsake is.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede  |  Wisselkoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.