Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só hoes jy om werk te skep
Pres. Cyril Ramaphosa op die beraad oor werkskepping. Die ondertekende ooreenkoms is ’n steunpilaar van sy ekonomiese plan. Foto: Elmond Jiyane, GCIS

Verbruikers sal bykomende belasting moet betaal en die regering gaan die fiskus se sak behoorlik moet skud om die werkberaad-ooreenkoms te implementeer.

Een van die beloftes in die ooreenkoms wat Donderdag onderteken is, is om ’n “afval-ekonomie” te skep wat werk kan verskaf – spesifiek vir papier en verpakkingsmateriaal, elektriese toerusting en die beligtingsbedryf. Om so ’n herwinnings­ekonomie ’n hupstoot te gee, gaan verbruikers ’n “herwinningsbelasting” op goedere soos gloeilampe, elektriese toebehore, rekenaarkomponente en selfone moet betaal, blyk uit die ooreenkoms.

Die regering beloof ook om hand in eie sak te steek. Een prominente belofte is om gesubsidieerde elektrisiteitstariewe vir die vervaardigingsektor in te stel. Twee ander voorstelle sluit ingrypings in waar die regering lenings deur handelsbanke aan die vervaardigingsektor moet subsidieer.

Die eerste ingryping moet gedoen word deur ’n “rente-aanvul-fasiliteit” waar die regering oënskynlik sal help om die skuld te diens.

Die ander is ’n “waarborg-gerief” deur die regering, wat banke in staat sal stel om lenings oor langer tydperke af te betaal in ruil vir staatswaarborge.

Nóg ’n verbintenis wat die staat se sak kan ruk, is ’n massiewe uitbreiding in die jeugloonsubsidie. Dié subsidie is tans van toepassing vir toetreders tot die arbeidsmark wat jonger as 29 jaar oud is en minder as R6 000 per maand verdien.

Volgens die tesourie se data is R16 miljard aan die program uitgegee vanaf 2014, toe dit begin is, tot in Julie vanjaar.

Die afgelope week se belofte lui dat dié program vir tien jaar verleng word en dat subsidies dalk verhoog kan word “onderhewig aan beskikbare geld”. Die ooreenkoms stel in elk geval voor dat meer mense gedek word. Die afsnyouderdom moet verhoog word tot 35 en die inkomstedrempel tot R8 000 per maand.

Die plan vir werkskepping lê baie klem op die landbousektor en hoe meer werk daar geskep kan word.

Die ooreenkoms maak geen melding van beleidsonsekerheid oor grondonteiening nie, buiten om te sê dat die regering werk aan ’n “konsepbeleid en -wetgewing oor herverdeling”.

Die meeste van die beloftes in die ooreenkoms van 84 bladsye is om bestaande beleide uiteindelik te implementeer.

Die afgelope week se belofte lui dat dié program vir tien jaar verleng word en dat subsidies dalk verhoog kan word “onderhewig aan beskikbare geld”.

Pres. Cyril Ramaphosa het op die beraad gesê die ooreenkoms “sal ’n bykomende 275 000 direkte werksgeleenthede per jaar skep . . . bo en behalwe die werk wat in elk geval geskep sou word sonder die ingrypings wat ’n gemiddeld van 300 000 per jaar was oor die laaste vier jaar”.

Hy het egter nie die grondslag van dié stelling verduidelik nie.

’n Vorderingsverslag van die nasionale beplanningskommissie wat verlede maand opgestel is, weerspreek Ramaphosa se syfers.

Luidens dié verslag, wat City Press, susterskoerant van Rapport, onder oë gehad het, het die ekonomie tussen 2015 en 2017 net gemiddeld 182 000 poste geskep, nie naastenby 300 000 nie.

Volgens die beplanningskommissie is ’n teiken van 6% werkloosheid teen 2030 heeltemal onhaalbaar. Ramaphosa het dít erken op die beraad, maar laat blyk “iets uitsonderlik” kan nog die teikens van die nasionale ontwikkelingsplan (NOP) red.

Georganiseerde arbeid het hard probeer om ’n moratorium op alle afleggings te beding, maar die naaste wat die uiteindelike verdrag daaraan kom, is dat die private sektor “alles moontlik sal doen om afleggings te vermy”. Dít sluit die moontlikheid in dat grootkoppe eerder hul salarisse sal verminder, het die ondernemings gesê. Ramaphosa het die regering verbind tot “geen gedwonge afleggings” in die staatsdiens nie, maar vrywillige vroeë aftredes is steeds op die tafel.

Georganiseerde arbeid en sake se reaksie op die beraad was hoofsaaklik positief, berig Riana de Lange.

Kaizer Moyane, Nedlac-sameroeper in Business Unity South Africa (Busa), sê ’n belangrike verskil van dié beraad teenoor voriges is die taakspan wat aangestel is om die implementering van besluite te monitor.

Verslae sal kwartaalliks aan die president self gestuur word.

Hoewel fyner besonderhede oor die evaluering en monitering nog uitgespel moet word, bied die proses ’n belangrike kanaal vir ondernemings om hindernisse wat in spesifieke sektore implementering kniehalter, te kan rapporteer sodat oplossings gevind of beleid verander kan word.

Moyane verwelkom veral die verlenging van die jeugloonsubsidie omdat dit sekerheid vir ondernemings bied en hulle in staat sal stel om meer mense in diens te neem. Jeugwerkloosheid in die land is so hoog soos 53%.

Dr. Dennis George, hoofsekretaris van die vakverbond Fedusa, sê die beraad het gewys dat Suid-Afrika nou weer ’n visioenêre leier het. Die fokus moet nou wees op die implementering van besluite wat geneem is.

George sê die president het hom gevra om ’n belangrike vergadering met Afrikaanse sakemense te reël wat in ’n posisie is om baie in die ekonomie te belê.

Hy sê dit wys dat Ramaphosa die Afrikaanssprekendes as belangrik beskou en almal by sy planne wil betrek.

Ramaphosa het gesê die plan behoort 275 000 nuwe werkgeleenthede per jaar te skep bo en behalwe poste wat in elke geval geskep gaan word.

Hy het reeds in sy staatsrede in Februarie die beraad aangekondig. Intussen het Suid-Afrika se werkloosheidskoers in die tweede kwartaal van die jaar tot 27,2% gestyg. Volgens die breër definisie wat ook mense insluit wat nie meer werk soek nie, staan werkloosheid op 37,2%.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.