Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só knou onrus ekonomie

Die onrus wat die afgelope week deur die land spoel, plaas minstens 50 000 mense se werk in gevaar.

werkloosheid
Ongeveer 50 000 mense kan werkloos wees as gevolg van die onrus in die land. Foto: Getty Images

Dit gaan ekonomiese groei ook met minstens 0,4 van ’n persentasiepunt verminder.

Dié waarskuwing kom van PwC, wat in sy jongste raming oor die ekonomie groei van slegs 2,3% voorspel. Dis teenoor die 4% wat die Wêreldbank net ’n paar dae vantevore voorspel het en die 4,2% wat die Reserwebank in Mei voorspel het.

Die ekonome van PwC onder leiding van Lullu Krugel sê die byna algehele opskorting van ekonomiese bedrywighede in KwaZulu-Natal (KZN) en dele van Gauteng weens die plundery is vergelykbaar met vlak 5 van die staat van inperking vir die Covid-19-pandemie.

Gauteng en KZN verteenwoordig meer as die helfte van Suid-Afrika se bruto binnelandse produk. Durban se hawe behartig 65% van die land se vraghouers.

“Kleinhandel en vervoer is die swaarste getref. Met dosyne winkelsentrums en kleiner winkels toe (hetsy weens plundering of as voorsorgmaatreël) en ’n magdom vragmotors uitgebrand (wat die sluiting van die belangrike N3-roete genoodsaak het), was dit beslis nie sake soos gewoonlik nie.”

Baie mense kon nie werk toe gaan nie of het gekies om tuis te bly. Google-data wat PwC ontleed het, toon 21% minder werkplek-aktiwiteite het Vrydag in KZN plaasgevind.

Krugel sê hul raming het nog nie eens in ag geneem wat die impak van die onrus op sakevertroue en beleggersentiment kan wees en hoe dit toekomstige besluite oor investering en indiensneming kan beïnvloed nie. Die model neem ook nie in ag wat die impak van kostekorte kan wees nie.

beurtkrag
PwC waarsku beurtkrag kan ook tot honderde duisende werksverliese bydra. Foto: Gallo Images/Getty Images

PwC het reeds voorheen weens beurtkrag en die trae pas van inentings sy vooruitskatting vir ekonomiese groei gehalveer – van 4,6% tot 2,7%. PwC voorspel egter ook ’n vierde vlaag Covid-19-infeksies in Desember, hoewel dit ’n kleiner vlaag gaan wees. Hiervolgens word die raming nou verder verminder tot 2,3%.

Wat beurtkrag betref, wys PwC daarop dat daar reeds in die eerste helfte van 2021 altesame 560 uur beurtkrag was. “Hoewel ’n beduidende persentasie van die onlangse kragonderbrekings buite sake-ure was, kan die totale getal ure beurtkrag aan 70 werkdae van agt uur lank gelyk gestel word.”

PwC raam dat beurtkrag die land vanjaar 275 000 poste kan kos. Sonder beurtkrag en die onrus sou groei 4,6% gewees het en sou 565 000 mense in diens geneem geword het.

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Kleinhandel  |  Onrus  |  Beurtkrag  |  Werkloosheid  |  Plundering  |  Vervoer  |  Pwc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.