Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só ly SA honger weens inperking

Nagenoeg 2,2 miljoen Suid-Afrikaners het in April honger gely.

k
As die tekort aan kos te ernstig raak, kan ouers of grootouers nie meer net die kinders eerste voer nie – daar is eenvoudig nie eens meer genoeg kos vir die kinders nie. Foto: Unsplash

Hongersnood, ook onder kinders, gaan waarskynlik oor die volgende paar maande toeneem omdat die meganismes waarop mense dit die hoof kon bied in dié maand – toe net mense in noodsaaklike dienste kon werk – uitgeput is.

In dié maand het 47% van huishoudings se geld om kos te koop voor die einde van die maand opgeraak. Dis meer as dubbeld die 21% van mense wat vóór die inperking in ’n gegewe maand nie genoeg kos kon bekostig nie.

Die syfers uit ’n studie deur Servaas van der Berg, Linda Zuze en Grace Bridgman, almal van die Universiteit Stellenbosch, wys dat ouers hul kinders so lank as moontlik teen die honger sal beskerm as daar te min kos vir almal is.

Byvoorbeeld, 21% van die respondente het aangedui dat iemand in die huishouding die vorige sewe dae honger was, maar ’n kleiner persentasie, 15%, het aangedui dat ’n kind honger moes ly.

As die tekort aan kos te ernstig raak, kan ouers of grootouers nie meer net die kinders eerste voer nie – daar is eenvoudig nie eens meer genoeg kos vir die kinders nie.

  • 13% het gesê iemand in hul huishouding het drie of meer in die voorafgaande week honger gely. Dit is teenoor 5% vóór die inperking. In huishoudings met kinders moes 8% van die kinders drie of meer dae in die voorafgaande week honger bly.
  • 7% van die respondente het gesê iemand in die huishouding het elke dag of byna elke dag honger gely. Onder kinders moes 4% elke dag of byna elke dag honger ly.

Die studie oor honger vorm deel van die Nids-Cram-navorsing wat Woensdag uitgereik is (sien inligting hieronder).

Dekades se vordering in gevaar

Volgens die navorsers het die hongersnood onder kinders jonger as vyf tussen 2002 en 2007 danksy die uitbreiding van die kindersorgtoelae meer as gehalveer. Dit het egter tydens die wêreldwye finansiële krisis van 2007-’08 weer toegeneem.

Dit het ’n dekade geduur voordat honger onder kinders weer tot die 2007-vlakke gedaal het.

Die verwagting is egter dat hongersnood nou weer skerp gaan styg. “Dié resessie is dieper, en sy uitwerking is meer onmiddellik.”

Só het hongersnood onder kinders verander:

In Statistieke Suid-Afrika se algemene huishoudelike peiling (GHS) word mense gevra of ’n kind in hul huishouding die vorige jaar op enige tydstip honger was. Só het die persentasie kinders oor die jare verskil.

  • 2002: 35%
  • 2007: 17%. Die daling vergeleke met 2002 word grootliks toegeskryf aan die uitbreiding van kindertoelae van kinders jonger as ses jaar tot dié jonger as 14 jaar in 2005. Teen 2010 is dit uitgebrei tot kinders jonger as 18 jaar.
  • 2010: 22%. Die styging word toegeskryf aan die impak van die resessie wat deur die finansiële krisis van 2007-’08 veroorsaak is.
  • 2018: 16%. Dit het dus meer as ’n dekade geduur om van die ekonomiese skok van 2007-’08 te herstel.

Stand van sake nou

Die eerste aanduiding van hongersnood onder kinders weens die inperking is dat 15% van kinders in die sewe dae voor die datum waarop die peiling gedoen is, honger gely het. Hoewel dit laer is as 2018 se 16%, waarsku navorsers dat dit wys hoe vinnig en hoe fel honger tydens die inperking toegeslaan het.

Die navorsers raam dat die persentasie kinders wat heeltyd honger is, byna verdubbeld het van 8% in 2018 se GHS tot meer as 15% in April vanjaar.

In 2018 se GHS het 25% van mense gesê hul kos het oor die vorige jaar (dus in 2017) opgeraak. In die Nids-Cram-peiling het 47% mense gesê hul geld vir kos het in April opgeraak.

“Anders gestel, dubbeld soveel huishoudings se geld vir kos het in ’n enkele maand van inperking (April) opgeraak as wat vir die hele jaar (2017) opgeraak het.”

Die impak van die Covid-19-krisis op kinders se toegang tot kos word as veel erger as die impak van die finansiële krisis beskryf.

Die langtermynimpak van kinders wat honger ly

Hongersnood onder kinders is nie net ’n tragedie vir die oomblik nie – dit lei ook daartoe dat kinders se groei en verstandelike ontwikkeling vertraag word en dat hulle ’n hoër risiko loop om vroeg te sterf.

Dit het ’n lewenslange impak op hoeveel kinders skoolopleiding kan voltooi en dus op die tipe werk en inkomste wat hulle as volwassenes kan kry.

Die impak van tydelike wanvoeding kan potensieel wel deels ingehaal word, maar navorsing dui daarop dat kinders wat in hul lewe honger gely het, altyd ’n agterstand sal hê teenoor dié wat nooit honger gely het nie.

Reserwes is op

Die navorsers vrees dat dinge oor die volgende paar maande gaan vererger. “Die belangrikste meganismes om honger af te weer, is om geld te leen of spaargeld te gebruik – meganismes kan net ’n kort tydjie werk. Dit is dus waarskynlik dat hongersnood onder kinders oor die volgende paar maande heelwat sal styg in die lig van wat ten beste ’n trae ekonomiese herstel gaan wees.”

Die toename in hongersnood is die regstreekse gevolg daarvan dat mense hul werk of inkomste verloor het. Die kindersorgtoelae op sy eie is te min om die hongersnood onder kinders af te weer – dit kan bloot uiterste honger verminder, sê die navorsers. Die navorsers raam dat huishoudings elke maand R578 per persoon nodig het om hongersnood af te weer; die kindersorgtoelaag is R440. Die peiling is gedoen voordat die toelae in Mei met R300 per ouer (nie per kind nie) verhoog is en met R500 vir Junie tot Oktober.

Aanbevelings

Van die aanbevelings wat die navorsers doen, sluit in:

  • Die verhoging van maatskaplike toelae moet ná Oktober volgehou word (toelae is van Mei tot Oktober verhoog). Die verhoging moet ook per kind eerder as per versorger toegeken word.
  • Skole se voedingskemas moet heropen en uitgebrei word. 9,6 miljoen skoolkinders word met dié skemas gevoed – in ’n gewone jaar op elkeen van die nagenoeg 200 skooldae. Dit is deur die inperking ontwrig. Alle kinders sal eers weer in Augustus terug in die skool wees – ’n onderbreking van byna vyf maande in die voedingsprogram. Hoewel die departement van onderwys aangedui het dat voedingskemas hervat gaan word selfs voordat kinders terugkeer skool toe, is dit nog nie algemeen die geval nie. Die navorsers beveel aan dat voedingskemas ook oor naweke oopmaak.
  • Meer finansiële steun moet aan sentrums vir vroeëkinderontwikkeling verskaf word. “Baie sentrums en kleuterskole sal dalk nie die inperking oorleef nie. Hulle sal ook onder druk kom omdat baie ouers dalk nie meer kan bekostig om hul kinders daarheen te stuur nie. Bykomende finansiering kan hulle finansieel volhoubaarder maak, wat die koste vir arm ouers sal verminder en die sentrums in staat sal stel om meer voedsame maaltye te verskaf.”
k

  

Oor die studie

Die National Income Dynamics Study (Nids) Coronavirus Rapid Mobile Survey (Cram), oftewel Nids-Cram, is die grootste nie-mediese navorsingsprojek oor Covid-19 tot nog toe. Dit word deur ’n konsortium van meer as 30 navorsers van vyf Suid-Afrikaanse en buitelandse universiteite gedoen.

Meer as 7 000 mense is in telefoniese onderhoude van 20 minute lank oor aspekte soos werk, honger in hul huishouding, migrasie, staatstoelae en hul persepsies en gedrag met betrekking tot Covid-19 uitgevra. Die oproepe is deur 50 oproepsentrumagente gedoen wat in tien tale kon werk.

Die navorsers gaan tot Desember vanjaar minstens vyf fases van die navorsing uitreik. Fase 1 se navorsing is Woensdag uitgereik.

Die eerste fase se peiling is van 7 Mei tot 27 Junie gedoen. Daarin is mense uitgevra oor die tyd van Februarie tot April, met veral April wat besonder moeilik was gegewe dat die land toe die strengste vlak van inperking beleef het.

Nids is ’n afsonderlike studie wat voorheen deur navorsers aan die Universiteit van Kaapstad in opdrag van die regering gedoen is. Nids-Cram peil dieselfde groep individue, wat só saamgestel is dat dit die Suid-Afrikaanse bevolking verteenwoordig.

Meer oor:  Staat Van Inperking  |  Gesondheid  |  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Werkloosheid  |  Hongersnood  |  Gesondheidsorg  |  Inperking  |  Armoede  |  Nids-Cram  |  Covid-19  |  Honger
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.