Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk 2020 se bloedbad van afleggings

Die formele sektor het nou minder werknemers as byna vier jaar gelede.

Nagenoeg 594 000 poste het volgens die jongste syfers in 2020 in die formele sektor – die grootste werkverskaffer in die land – verlore gegaan.

Die formele sektor het in 2020 baie swaar getrek weens die swak ekonomie en inperkings. Illustrasie: iStock

Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) se kwartaallikse indiensnemingspeiling (QES) het 10,234 miljoen mense in Desember 2019 in die formele sektor gewerk. Teen Desember 2020 was dit 9,64 miljoen, 5,8% minder.

Dis minder as die 9,8 miljoen mense wat in Junie 2017 in die formele sektor gewerk het.

Indiensneming in die formele sektor het in die tweede kwartaal van 2020, toe die land op die strengste vlak van inperking vir die Covid-19-pandemie was, met 648 000 getuimel en toe elke kwartaal daarna gestyg. In die vierde kwartaal het 76 000 mense weer werk gekry wat nie in die derde kwartaal gewerk het nie.

Indiensneming was egter nie genoeg om die Covid-skade op indiensneming ongedaan te maak nie.

Die QES sluit landbou, die informele sektor en private huishoudings uit. Dit word net gedoen onder ondernemings wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is.

Die bedrywe wat die meeste werk geskep het in die vierde kwartaal teenoor die derde kwartaal was handel (54 000 aanstellings) en gemeenskapsdienste (51 000). Gemeenskapsdienste is grootliks die staatsdiens.

Konstruksie (-18 000), vervaardiging (-13 000), vervoer en kommunikasie (-1 000) en mynbou (-1 000) het mense afgedank.

Die syfers van SSA se peiling oor werkloosheid, die kwartaallikse indiensnemingspeiling (QLFS), het daarop gedui dat 1,394 miljoen poste in 2020 verlore gegaan het. Die QLFS sluit egter ook private huishoudings, die landbou en informele sektor in.

Die land se amptelike werkloosheidskoers is nou 32,5%.

k

Verskil tussen QES en QLFS

Die QES beeld altyd ’n effens meer optimistiese beeld van werkskepping uit as die kwartaallikse arbeidsmagpeiling (QLFS) omdat dit slegs gedoen word onder maatskappye in die formele sektor wat vir belasting op toegevoegde waarde (BTW) geregistreer is en ’n omset van meer as R300 000 per jaar het.

Die QLFS kyk ook na die informele sektor, landbou en indiensneming in private huishoudings.

In die QLFS word individue gevra waar hulle werk en, indien hulle nie werk nie, waarom nie en of hulle werk soek. In die QES word BTW-geregistreerde ondernemings gevra om te sê hoeveel werknemers hulle het.

Die QLFS is beperk tot werkers van 15 tot 64 jaar oud, maar die QES vra nie mense se ouderdom nie.

Die QLFS tel elke persoon net een keer, selfs al het hulle meer as een werk. In die QES kan daar herhaling wees omdat verskillende ondernemings dalk dieselfde persoon op hul betaalstaat het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.