Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk DA se 7-punt-plan vir die ekonomie
Mmusi Maimane, leier van die DA, stel sy sewepuntplan vir die ekonomie in Johannesburg bekend.Foto: Elvira Wood

Dit is duidelik die ANC en die presidensie het geen plan hoe om Suid-Afrika uit die resessie waarin hy hom tans bevind te lig nie, sê Mmusi Maimane, leier van die DA.

Hy het Maandag die party se sewepuntplan vir die land se ekonomie by die party se hoofkantoor in Bruma, Johannesburg, bekend gestel.

Die plan behels:

1. Suid-Afrika moet ontslae te raak van roekelose ekonomiese beleid soos die voorstelle om die Reserwebank te nasionaliseer en grond sonder vergoeding te onteien.

2. Suid-Afrika moet ’n program aankondig waarvolgens staatsondernemings geprivatiseer word. “Die Suid-Afrikaanse Lugdiens moet ten minste deels geprivatiseer word en Eskom moet in aparte afdelings verdeel word,” sê Maimane.

3. Eskom se monopolie moet gebreek word. Mense moet toegelaat word om krag regstreeks by onafhanklike kragprodusente te koop.

4. Skep ’n fiskale begrotingspakket om huidige uitgawes te besnoei en nasionale skuld teen 50% van die bruto binnelandse produk te stabiliseer.

5. Verklein die kabinet tot net 15 departemente. “Ons is daarvan oortuig pres. Cyril Ramaphosa se kabinet is té groot. Ons moet die kabinet tot net 15 departemente besnoei. Ons moet dit onmiddellik doen,” sê Maimane.

6. Maatskappye met minder as 250 werknemers moet vrygestel word van striemende arbeidswetgewing. Dit sluit nie basiese voorwaardes van indiensneming in nie.

7. Alle uitstaande fakture wat die nasionale en provinsiale regerings aan kleinsake skuld, moet onmiddellik betaal word.

da

Maimane sê Suid-Afrikaners is nie net die afgelope twee kwartale in ’n tegniese resessie soos die nuutste syfers wat deur Statistieke Suid-Afrika (SSA) bekend gestel is, wys nie. Suid-Afrikaners se per capita-inkomste het die afgelope vyf jaar al hoe minder geword, wat beteken die verbruiker is lank reeds in ’n resessie.

SSA het op 4 September aangekondig die ekonomie het in die tweede kwartaal met 0,7% ingekrimp. Dit volg op die eerste kwartaal se inkrimping van 2,6%.

“Suid-Afrika bevind hom weens sy eie toedoen in ’n resessie,” sê Maimane.

Hy sê daar moet net gekyk word na die gemiddelde ekonomiese groeikoers in die res van Afrika, sowat 3,5%.

“Dit is dus nie waar dat (die resessie) net weens eksterne faktore is nie.

“Dit is weens twee fundamentele probleme: ekonomiese wanbestuur en swak ekonomiese beleid,” sê Maimane.

“Ons moet nou alles doen om plaaslike en buitelandse beleggers te lok.

“Dit vereis sekerheid van beleid. En dit vereis sekerheid van die oppergesag van die reg en die basiese beskerming van eiendomsreg. Dis alles nie-onderhandelbare elemente wat tans in Suid-Afrika bevraagteken word.”

Meer oor:  Mmusi Maimane  |  Fiskale Beleid  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Politiek  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.