Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk die salaris wat Cyril, ander vir 3 maande prysgee

Nagenoeg R10,4 miljoen.

Dís by benadering hoeveel pres. Cyril Ramaphosa en sy kabinet saam met die land se nege premiers oor die volgende drie maande uit hul eie sak prysgee. Dit kom nadat Ramaphosa Donderdagaand gesê het ’n “noodsaaklike deel van ons reaksie op dié noodtoestand is die beginsel van solidariteit”. 

Pres. Cyril Ramaphosa

Hy het aangekondig dat hy, adj.pres. David Mabuza, en die land se 28 ministers, 34 adjunkministers en nege premiers vir die volgende drie maande ’n derde van hul salaris aan die Solidariteitsfonds skenk. Sien grafika hieronder.

Die Solidariteitsfonds, wat veral gebruik word om beskermende toerusting vir gesondheidswerkers aan die voorste linie van die stryd teen Covid-19 te koop, is reeds sowat R2,2 miljard sterk.

Ramaphosa verdien altesame R3,9 miljoen per jaar, wat neerkom op R251 875 per maand nadat die 22,5% wat (volgens die Staatskoerant) sy pensioenfondsbydrae beloop, afgetrek is. Ander aftrekkings en byvoordele is nie bekend nie en die bedrag is dus ’n rowwe raming.

’n Derde van dié bedrag is nagenoeg R83 958.

Mabuza verdien R2,8 miljoen per jaar en sy bydrae sal nagenoeg R60 826 per maand beloop.

Ministers, wat R2,4 miljoen per jaar verdien, sal nagenoeg R51 702 per maand bydra. Adjunkministers, wat R1,98 miljoen per jaar verdien, sal nagenoeg R42 578 per maand bydra. Premiers, wat nagenoeg R2,26 miljoen per jaar verdien, sal nagenoeg R48 662 per maand bydra.

Die bydraes sal geen impak op die staat se begroting hê nie – dit bly belastingbetalersgeld ongeag of die ampsdraers dit in hul bankrekening ontvang en of dit aan die Solidariteitsfonds geskenk word – maar word alom as ’n belangrike simboliese gebaar van solidariteit beskou.

Ramaphosa het ook ’n beroep op ander ampsdraers en die uitvoerende hoofde van groot maatskappye gedoen om ’n soortgelyke gebaar te toon “en die reikwydte van dié nasionale poging verder te vergroot”.

Talle groot maatskappye het wel die afgelope ruk hul topbestuur se salarisse met tussen 20% en 30% besnoei as ’n manier om tydens die krisis koste te besnoei en nié om geld aan die Solidariteitsfonds te skenk nie. Dit sluit in Woolworths, DGB en EOH.

Met die aankondiging dat die staat van inperking met nóg twee weke tot einde April verleng word, het Ramaphosa werkgewers bedank wat aanhou om werknemers se salarisse te betaal of wat hulle bystaan om hulp soos werkloosheidsversekering te kry.

Hy het ook ’n pleidooi aan maatskappye gerig om nie force majeure te verklaar en op te hou om huur en verskaffers te betaal nie, “aangesien sodanige praktyk ’n domino-uitwerking het op alle ander ondernemings wat van die ketting afhanklik is”.

“Ons moet alles moontlik doen om te verseker dat die onderliggende ekonomie aanhou werk en steun te fokus op daardie klein ondernemings wat dit regtig nodig het.”

Die pleidooi kom egter nadat heelwat genoteerde reuse reeds eensydig besluit het om betalings te staak.

TFG, wat onder meer Foschini, American Swiss, Donna, Totalsports en @home besit, het opgehou om huur te betaal weens die impak van die koronavirus-pandemie.

Woolworths het sy internasionale klerevervaardigers in kennis gestel dat hy hulle weens kontantvloeiprobleme eers oor 90 dae kan betaal.

Edcon, wat Edgars en Jet besit, kan in Maart net salarisse betaal en het sy verskaffers Donderdag ingelig dat hy hulle nie kan betaal nie en dat hulle dalk nooit betaal gaan word nie. Edcon se probleme het egter reeds voor die koronavirus-krisis bestaan.

k
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.