Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk kolossale agterstand met infrastruktuur

Suid-Afrika bestee elke dag omtrent R2,5 miljard aan infrastruktuur.

Infrastruktuurbeleggings sloer al vir jare in Suid-Afrika. Foto: Unsplash

Maar die land behoort elke dag R4,1 miljard te bestee en dit vir die volgende nege jaar elke dag doen om ’n kans te staan om die Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP) se teikens vir 2030 te haal.

Dit beteken die land moet elke dag R1,6 miljard méér bestee om op te vang.

Die agterstand met infrastruktuurbeleggings is só enorm dat daar ’n 64%-styging in beleggings sal moet wees om die teikens vir 2030 te haal.

Dis van die bevindinge van ’n nuwe verslag deur die konsultantefirma Intellidex wat deur Business Leadership SA (BLSA) aangevra is.

Die verslag is Vrydag op ’n virtuele aanbieding bekend gestel.

Dr. Stuart Theobald, geoktrooieerde finansiële ontleder en voorsitter van Intellidex, het die verslag opgesom.

Die NOP vereis dat 30% van die bruto binnelandse produk (BBP) aan infrastruktuur bestee moet word. Dis tans minder as 18%.

Daar word gejuig oor groot infrastruktuurprojekte wat onlangs deur die regering aangekondig is, maar volgens Theobald is dit glad nie genoeg nie.

Die onlangse aankondiging oor die toekenning van tenders vir die opwekking van noodkrag – insluitend vir kragskepe langs die kus – sal na verwagting R45 miljard se regstreekse beleggings in infrastruktuur meebring.

Volgens Theobald is dit maar ’n druppel in die emmer.

“Die program dek slegs ongeveer 30 dae se bykomende beleggings wat nodig is in infrastruktuur.”

Volgens Intellidex moet Suid-Afrika soveel meer belê om basies elke dag die ekwivalent van ’n nuwe universiteit te bou of om ’n sonkragaanleg met genoeg kapasiteit vir 20 000 huishoudings op te rig.

“Die realiteit beweeg in die teenoorgestelde rigting van die retoriek,” sê Theobald.

Gebrek aan vaardighede

Maar die probleem is ingewikkeld.

Dit is nie net dat die regering nie genoeg belê nie, die staatsondernemings doen dit ook nie, en daarby saam is die privaat sektor ook nie besig om sy kant te bring nie.

Die regering belê te min weens die beleërde staatskas, maar dis “ook ’n probleem van kapasiteit”, sê Theobald.

Daar is doodeenvoudig nie genoeg vaardighede binne die regering om die enorme hoeveelheid broodnodige beleggings in infrastruktuur op die been te bring nie.

Hy sê dit kan opgelos word deur die “depolitisering” van aanstellings en ’n opknapping van menslike hulpbronne regdeur die regering se aanstellingsproses.

Ekonomiese infrastruktuur

Die regering is net verantwoordelik vir “maatskaplike infrastruktuur” (soos skole en hospitale), terwyl staatsondernemings juis opgerig is om “ekonomiese infrastruktuur” (kragstasies en paaie) te bewerkstellig.

Ekonomiese infrastruktuur is al vir jare besig om agteruit te boer.

Benewens die verwoesting van staatskaping is staatsondernemings tot onder beleggingsgraad afgegradeer, wat hul vermoë om kapitaalbesteding uit te voer in die wiele gery het.

“Staatsondernemings kan doodeenvoudig nie meer kapitaal invorder nie.”

Private sektor

Aan die ander kant sloer die private sektor ook met betrekking tot sy “plig” om in infrastruktuur te belê.

Theobald verduidelik dat twee faktore gelyktydig nodig is om privatesektor-beleggings mee te bring: sakevertroue en kapasiteitsbenutting.

Sakevertroue is weens beleidsonsekerheid en swak ekonomiese groei sedert die finansiële krisis in 2008 heeltemal afwesig.

Sedertdien het die private sektor nog nooit weer sy volle infrastruktuur benut nie. Daar is dus geen nood om meer te bou nie.

Theobald reken die oplossing lê in die verwydering van rompslomp en die betrekking van die private sektor by meer openbare projekte, veral op plaaslike en provinsiale regeringsvlak.

“Die idee om van bo af al die projekte te wil bestuur werk nie,” sê hy.

Projekte moet kom uit die gemeenskappe waar hulle nodig is, meen hy.

Deur regulasies te skep wat dit vergemaklik om private-openbare-vennootskappe (PPP’s) te vorm, kan die teikens van die NOP gehaal word, reken Intellidex.

“Sedert 2017 was daar nog geen nuwe PPP’s nie.”

Regulasies moet gewysig word om sulke vennootskappe aan te spoor, anders sal die land nooit genoeg infrastruktuur bou nie en sal die ekonomie nooit optimaal groei nie.

Die volledige verslag kan hier afgelaai word.

Meer oor:  Intellidex  |  Infrastruktuur  |  Skole  |  Konstruksie  |  Hospitale  |  Paaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.