Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
So lyk miljoen rykste gesinne in SA
rykdom, inkomste
Sowat 58% van die top- miljoen huishoudings in SA is nuwe toetreders, dus mense wat nie tien jaar gelede in die groep was nie.

Net ’n miljoen gesinne in Suid-Afrika kry maandeliks meer as R40 000 in hul bankrekenings, maar hul besteding beloop amper 40% van wat Suid-Afrikaanse verbruikers altesaam bestee.

Die Universiteit van Kaapstad se instituut vir strategiese bemarking werp in ’n nuwe studie meer lig op dié rykste miljoen huishoudings in Suid-Afrika.

Dit is huishoudings met ’n netto inkomste van meer as R40 000 per maand.

Dié huishoudings, met ’n gesamentlike koopkrag van R700 miljard, verteenwoordig net 5% van die bevolking.

Hulle dra ook omtrent die helfte van die staat se inkomste uit persoonlike inkomstebelasting by.

’n Vyfde van hierdie huishoudings verdien meer as R75 000 per maand.

Wie is nuut in die miljoen huishoudings?

Sowat 58% van die miljoen huishoudings is nuwe toetreders, dus mense wat nie tien jaar gelede in die groep was nie.

Van die nuwe toetreders is minstens driekwart swart.

Wie is die swart toetreders?

Sowat die helfte van die swart toetreders was voorheen in die middelklas.

Die ander helfte (meer as 200 000 huishoudings of ’n halfmiljoen mense) kom uit die armer gemeenskappe – onder die middelklas.

Dit sluit in van die gemeenskappe wat as ultra-arm (die laagste inkomstegroep) geklassifiseer word of van die sogenaamde geskoolde sukkelaars (wat fabriekswerkers, onderwysers en polisielede kan insluit).

armoede

Hoe het dit gebeur?

Dr. James Lappeman, projektehoof van die Instituut vir Strategiese Bemarking, sê die skuif van lae inkomste tot meer welvarend deur die middelklas te omseil, het plaasgevind ten spyte van die verlangsaming in die ekonomiese groei.

Volgens hom is dit deels te danke daaraan dat hierdie mense opleiding ontvang het en hulle bekwaam het vir poste waarin hoër loonverhogings die afgelope jare ondervind is.

Dit kan ook aan huishoudings met twee broodwinners toegeskryf word. Omtrent die helfte van die top- miljoen huishoudings is in dié groep omdat daar meer as een broodwinner is, sê Lappeman.

Helfte wit, derde Afrikaans

  • Meer as die helfte van die huishoudings is wit.
  • ’n Derde is swart vergeleke met die kwart wat dit in 2008 was.
  • Net 8% van die top- miljoen huishoudings is bruin en 6% is Indiërs.
  • 35% praat Engels
  • 32% praat Afrikaans
  • 8% praat Tswana
  • 8% praat Zoeloe

Hier bly hulle

Die meeste van die top- miljoen huishoudings bly in Gauteng (44%), gevolg deur die Wes-Kaap (16%) en KwaZulu-Natal (14%).

Wat dink hulle

Driekwart meen hul kinders het ’n beter toekoms buite Suid-Afrika.

Alles is nie maanskyn en rose vir dié groep relatief rykes nie, want hulle gaan gebuk onder groot stygings in wat Lappeman as “private belasting” beskryf, naamlik mediese skemas se premies wat elke jaar met meer as die inflasiekoers styg (Discovery het pas ’n verhoging van 9,2% vir 2020 aangekondig); die styging in private of voormalige Model C-skole se skoolgelde (sowat 8% vanjaar); motors (die instandhoudingskoste van motors het die afgelope jaar met 14% gestyg); asook sekerheidskoste; data en kommunikasie.

Volgens hom besnoei hierdie groep hul besteding en word die waarde van iets wat aangekoop word, mooi bekyk. Fin24

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Huishoudelike Inkomste  |  Rykdom
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.