Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk erge ekonomiese skok van Covid-19

Die Covid-19-pandemie gaan die vordering wat wêreldwyd sedert die 1990’s gemaak is om hongersnood te beëindig, ongedaan maak.

Weens afleggings en korter werkure, het die ekwivalent van 300 miljoen poste in die tweede kwartaal wêreldwyd verlore gegaan. Veral ongeskoolde en halfgeskoolde werkers – wat nie die opsie gehad het om van die huis af te werk nie – is die swaarste getref.

Die wêreldekonomie gaan vanjaar met -4,9% groei – en die risiko van ’n selfs groter inkrimping is baie hoog.

Dís onder die gevolgtrekkings van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) oor die ontsettende ekonomiese impak van die Covid-19-pandemie op elke land en streek. Dit word uitgestippel in die kwartaallikse World Economic Outlook, wat Woensdag uitgereik is.

hongersnood
Die Covid-19-krisis gaan meer mense in uiterste armoede dompel. As verlore poste en verlore werkure opgetel word, het die ekwivalent van 300 miljoen poste verlore gegaan. Foto: Unsplash
Groeiverwagtinge

Die IMF voorspel nou dat die Suid-Afrikaanse ekonomie in 2020 met -8% gaan groei. Dis teenoor die April-voorspelling van -5,8%. Dis ook selfs swakker as die -7,2% wat Tito Mboweni, minister van finansies, voorspel het toe hy, ook Woensdag, sy aanvullende begrotingsrede gelewer het.

Groei in groot ekonomieë wat Suid-Afrika se vernaamste handelsvennote insluit, lyk ook droewig, soos die VSA (-8%), eurogebied (-10,2%), Brittanje (-10,2%) en Duitsland (-7,8%). China is met 1% een van weinig lande wat positiewe groei kan aanteken, maar dis teenoor 2019-groei van 6,1%.

Vir die hele wêreldekonomie verwag die IMF nou groei van -4,9%. Dis 1,9 persentasiepunte swakker as die voorspelling van -3% net drie maande gelede.

“Die Covid-19-pandemie het in die eerste helfte van 2020 ’n baie meer negatiewe invloed op bedrywighede gehad as wat verwag is, en die herstel gaan na verwagting meer geleidelik wees as wat voorheen voorspel is.”

Wêreldgroei gaan wel in 2021 sterk herstel – die IMF verwag tans 5,4% groei. Vir Suid-Afrika word 3,5% voorspel. Groei in handelsvennote gaan ook sterk herstel, soos die VSA (4,5%), eurogebied (6%), Brittanje (6,3%), Duitsland (5,4%) en China (8,2%).

imf

Ander soort resessie

Die IMF sê die Covid-19-resessie is anders as vorige resessies. “In die meeste resessies grawe verbruikers diep in hul spaargeld en maak op maatskaplike veiligheidsnette en families se steun staat om besteding gelyk te maak, en verbruik word relatief minder as beleggings geraak. Maar dié keer het verbruik en dienste ook skerp gedaal.”

Soos ekonomieë geleidelik heropen, het beweeglikheid in sommige gebiede toegeneem, maar dit bly in die algemeen laag vergeleke met vlakke voor die virus, wat suggereer dat mense vrywilliglik hul blootstelling aan ander verminder.
IMF

Die IMF skryf dit toe aan “die unieke kombinasie van faktore” wat met die Covid-19-krisis te doen het: vrywillige sosiale distansiëring, inperkings, skerp inkomsteverliese en swakker verbruikersvertroue. Maatskappye het óók hul besteding ingekort, onder meer weens die ontwrigting van verskaffing en die skerp daling in vraag.

Die IMF se kantore in Washington, VSA. Foto: Reuters

Die ekonomiese herstel word geraak deur permanente gedragsveranderinge. Die IMF sê wêreldwyd was die strengste en mees verspreide inperkings vanaf middel Maart tot middel Mei.

“Soos ekonomieë geleidelik heropen, het beweeglikheid in sommige gebiede toegeneem, maar dit bly in die algemeen laag vergeleke met vlakke voor die virus, wat suggereer dat mense vrywilliglik hul blootstelling aan ander verminder.”

Blywende skade

Die IMF sê daar heers groter onsekerheid as gewoonlik oor sy voorspellings omdat dit onder meer afhang van infeksiekoerse en in watter mate sosiale distansiëring in die res van 2020 sal voortduur. Daarby kan die krisis blywende wonde laat van ondernemings wat nie heropen nie.

Produktiwiteit gaan ook daal weens die protokolle wat in werkplekke ingestel word vir higiëne en veiligheid – insluitend sifting voordat mense begin werk, verspreide skofte en skoonmaak tussen skofte.

Die verlies aan opvoeding gaan die verdienvermoë van veral arm kinders in die toekoms raak.
IMF

Die IMF sê dit bly baie belangrik – selfs vir lande wat oënskynlik verby die piek van infeksies is – om te verseker dat hul gesondheidsorgstelsel “voldoende gefinansier” is.

Die wêreldliggaam doen ’n beroep dat die internasionale gemeenskap saamstaan en lande ondersteun, veral arm lande. Die IMF doen ook ’n beroep op finansiering vir entstofproduksie en dat verseker word wanneer ’n entstof beskikbaar word, genoeg daarvan en teen ’n bekostigbare prys vinnig aan alle lande beskikbaar gestel word.

Uiterste armoede

Die persentasie mense wêreldwyd wat in uiterste armoede – op minder as $1,90 per dag – leef, het die afgelope paar jaar tot minder as 10% gedaal, in vergelyking met meer as 35% in 1990.

Dié vordering word deur die Covid-19-krisis bedreig, sê die IMF.

Meer as 90% van ontluikende lande gaan vanjaar negatiewe groei per capita beleef.

“In lande met hoë persentasies informele indiensneming het inperkings tot werkverliese en skielike inkomsteverliese vir baie van dié werknemers gelei. Migrante werk dikwels ver van die huis af, geskei van ondersteuningsnetwerke.”

Die IMF sê met skole wat in sowat 150 lande gesluit was, is nagenoeg 1,2 miljard skoolkinders – oftewel 70% van alle skoolkinders – geraak. Die verlies aan opvoeding gaan die verdienvermoë van veral arm kinders in die toekoms raak.

Meer oor:  Imf  |  Inperking  |  Covid-19  |  Staat Van Inperking  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Koronavirus  |  Wêreldekonomie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.