Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só lyk plan vir 2de konferensie oor beleggings
Joernaliste het die regering Dinsdag gepeper met vrae oor beurtkrag, Eskom as “olifant in die vertrek”, wanstaltige beleid en of die beleggingskonferensies van pres. Cyril Ramaphosa nie bloot bemarkingsfoefies is nie.

Pres. Cyril Ramaphosa lei oor twee weke sy tweede beleggingskonferensie.

Hulle wou weet hoe die regering onderskei tussen nuwe beleggings wat via die beleggingskonferensies ingepalm word en beleggings wat in elk geval in die planne van maatskappye was.

Hierop was daar nie juis duidelike antwoorde vanuit ’n mediakonferensie wat Dinsdag by die parlement gehou is oor Ramaphosa se tweede beleggingskonferensie van 5 tot 7 November nie.

Ebrahim Patel, minister van handel, nywerheid en mededinging, het verduidelik beleid oor die Mynbouhandves, energie en internetspektrum kan nie almal tevrede stel nie en ’n balans moet getref word.

Patel het gesê die tweede beleggingskonferensie van Ramaphosa sal van 5 tot 7 November in Sandton gehou word en sal terugvoering gee oor vordering met beleggings wat op die eerste een verlede Oktober beloof is.

Daar sal ’n SA-Japan-sakeraad en ’n SA-VSA-sakeraad tydens die konferensie bekend gestel word om handelsbande tussen die onderskeie lande te verbeter.

Ramaphosa het die inisiatief van die beleggingskonferensies verlede jaar begin om sy teiken te help haal vir nuwe beleggings van $100 miljard (sowat R1 200 miljard teen verlede jaar se wisselkoerse) oor vyf jaar wat hy in sy staatsrede in Februarie verlede jaar gestel het.

Sedert die vorige konferensie is ’n Suid-Afrikaans-Nigeriese adviesraad gevestig om handelsbande tussen die twee lande te verbeter, is visumreëls verslap om toerisme te stimuleer, is ’n nuwe kommissaris vir die Suid-Afrikaanse Inkomstediens aangestel, en is die krag-bloudruk tot 2030 gepubliseer.

Van die 30 beleggings van R300 miljard wat op die vorige konferensie belowe is, is sommige reeds in bedryf of deels in aanbou, soos fabrieke by Coega in die Oos-Kaap en by die Dube Tradeport buite Durban, en uitbreidings by Ford se motorfabriek in Pretoria.

In die eerste ses maande van vanjaar is vloei van R38 miljard se buitelandse belegging na Suid-Afrika aangeteken, volgens die Reserwebank se syfers.

beleggingskonferensie
By die mediakonferensie Dinsdag in die parlement oor pres. Cyril Ramaphosa se tweede beleggingskonferensie was van links Ebrahim Patel, minister van handel en nywerheid, en Trudy Makhaya, ekonomiese adviseur van Ramaphosa.
Dit is beter as die voljaarsyfers wat in 2015, 2016 en 2017 aangeteken is, sê Patel.

Agenda

Trudy Makhaya, ekonomiese adviseur van pres. Cyril Ramaphosa, het bevestig net meer as 1 030 afgevaardigdes het al bevestig dat hulle die tweede beleggingskonferensie gaan bywoon.

Op die konferensie sal sleutelsektore uitgelig word wat beleggingspotensiaal toon, en afgevaardigdes sal ingelig word oor van die regering se aansporings om belegging aan te moedig.

Op die derde dag sal daar soos verlede jaar se rondstap-geleentheid in Soweto weer ’n geleentheid in Soweto wees, het Makhaya vertel. By die Universiteit van Johannesburg se kampus in Soweto sal daar ’n minikonferensie wees oor entrepreneurskap, waagkapitaal, en nuwe sake-idees.

Borge

Nolitha Fakude, voorsitter van Anglo American in Suid-Afrika wat die hoofborg van die konferensie is, sê as grootste mynboufirma in Suid-Afrika en grootste enkele werkgewer, het Anglo American in die afgelope jaar R50 miljard in die land belê deur nuwe myne te open. Anglo American het by verlede jaar se konferensie belowe hy gaan tot 2023 R71 miljard in Suid-Afrika belê.

Anglo American het die teiken om teen 2030 vyf bykomende onregstreekse werkgeleenthede te skep vir elke regstreekse werkgeleentheid wat hy by sy bedrywighede skep.

Carol Hall, ’n topbestuurder van Vodacom, het gesê Vodacom het teen Maart reeds R9 miljard in Suid-Afrika belê, nadat hy op die vorige konferensie belowe het om oor die volgende vyf jaar R50 miljard in die land te belê.

Vodacom is ook een van die borge van die konferensie.

Shamiela Letswalo, kommunikasiedirekteur by Naspers, het gesê Naspers het op die vorige konferensie die entrepreneurs-broeikas Naspers Foundry bekend gestel. Naspers het belowe om R4,6 miljard te belê.
  • Netwerk24 is ’n publikasie van Media24, ’n filiaal van Naspers.
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.