Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só raak Trump se handelsoorlog plastiek in SA

As jy al ooit gewonder het hoe die handelsoorlog tussen Amerika en China ons land raak, kan Gary Chaplin, uitvoerende hoof van die nywerheidsmaatskappy KAP Industrial, jou vertel.

Een van Safripol se fabrieke waar plastiek vervaardig word. Foto: Verskaf

Weens die impak van die internasionale toestande in die polimeer-bedryf op sy plastiekvervaardiger het dié JSE-genoteerde maatskappy se bedryfswins in die halfjaar tot einde Desember skerp gedaal.

KAP Industrial se aandeelprys het teen Woensdag 15:00 met 8% tot R2,94 gedaal nadat dit Dinsdag 7,5% laer gesluit het. Die aandeelprys is op die laagste vlak sedert Mei 2013.

Die bedryfswins van KAP se polimeer-afdeling, waarby die plastiekvervaardiger Safripol ingesluit is, het in die halfjaar met 70% tot R145 miljoen (teenoor R485 miljoen in die ooreenstemmende halfjaar) geval.

Dit het daartoe gelei dat die groep se bedryfswins met 23% (R1,5 miljard) tot R1,1 miljard gedaal het.

Volgens Chaplin word die plastieksektor deur toestande in die res van die wêreld beïnvloed omdat die pryse van die grondstowwe internasionaal in dollar bepaal word. Terselfdertyd word die pryse van die produkte wat vervaardig word, ook deur internasionale vraag en aanbod beïnvloed.

“Daar was redelik wesenlike faktore wat die bedryf internasionaal beïnvloed het.”

Verbruik is in verskeie sektore internasionaal onder druk en dit benadeel die vraag na plastiek omdat dit wyd gebruik word.

Chaplin het ook verwys na die handelsoorlog tussen Amerika en China. Dit het volgens hom “ ’n vreemde implikasie gehad” omdat wesenlike volumes uitvoer van poliëtileen-tereftalaat (PET) vanuit China van Amerika na Europa verskuif het. “Dit het tot ’n reuse-ooraanbod in Europa gelei, wat pryse daar laat tuimel het.”

Volgens hom het Europa van die produkte tariefvry na Suid-Afrika uitgevoer. “Dit het ’n wesenlike impak op ons mark gehad. Ons het wel teenstortingsmaatreëls teen China, maar nie teen Europa nie.”

Op die vraag of daar wel storting in Suid-Afrika plaasvind, het hy gesê dit word tans ondersoek. So ’n ondersoek neem egter tyd.

SA ’n voorloper in PET-herwinning

Ten opsigte van die vooruitsigte vir KAP Industrial het hy gesê dit is nie duidelik wanneer daar lig aan die einde van die tonnel vir die polimeer-bedryf gaan wees nie.

’n Foto van die South Durban Community Environmental Alliance wat Greentimes in November op sy webwerf gepubliseer het. Hulle betoog teen die impak wat die besoedeling van Safripol se fabriek glo op mense se gesondheid het. Foto: Greentimes

Boonop gaan die nuwe koronavirus, Covid-19, ’n impak hê omdat China so ’n groot rolspeler – as vervaardiger en as verbruiker – in die bedryf is.

Van die ander internasionale faktore wat die sektor raak, is die stryd teen plastiek wat eenmalig gebruik word. Maar plastieklepels, -sakke en -strooitjies speel nie ’n groot rol in KAP se bedrywighede nie.

‘n Skermgreep van Gary Chaplin, uitvoerende hoof van die nywerheidsmaatskappy KAP Industrial, op ’n aanbieding aan beleggers wat via ’n web-uitsending gedoen is.
’n Skermgreep van KAP Industrial se finansiële hoof, Frans Olivier.

Oor die PET wat in plastiekbottels gebruik word, het Chaplin gesê die herwinningskoers hiervan in Suid-Afrika (63%) is van die hoogste ter wêreld. KAP wil sy bedrywighede hierin uitbrei.

Die herwinningsektor is baie gefragmenteerd in Suid-Afrika en hy meen daar is geleentheid vir konsolidasie.

Chaplin meen KAP Industrial se aandeelprys wat tans op sy laagste vlak sedert 2013 is, weerspieël die impak van die swak Suid-Afrikaanse ekonomie en die internasionale polimeer-sektor op sy bedrywighede.

KAP Industrial is ook sedert einde 2017 deur ’n reuse-verandering ná Steinhoff se ineenstorting. Steinhoff was sy grootste aandeelhouer en moes in 2018 en weer in 2019 van sy aandele verkoop.

Wat vervaardig KAP?

KAP Industrial besit Safripol, een van die grootste plastiekvervaardigers in Afrika.

Die onderneming word by KAP se polimeer-afdeling ingesluit, wat 31% tot die groep se inkomste bydra.

Chaplin sê die plastiek vir bottels, proppe en die etikette van waterbottels of koeldranke word deur KAP vervaardig.

Dit is onderskeidelik poliëtileen-tereftalaat (PET), hoëdigtheidspoliëtileen (HDPE) en polipropileen (PP).

Volgens KAP se webwerf is Safripol die enigste vervaardiger van PET en HDPE in Suid-Afrika en een van net twee wat PP vervaardig.

Sy webwerf toon dat sy drie vervaardigingsaanlegte per jaar 212 318 ton PET in Durban, en 162 445 ton HDPE en 117 230 ton PP in Sasolburg vervaardig.

Die grootste bydraer tot die inkomste van KAP se polimeerafdeling is PET, op 42%.


Meer oor:  Kap Industrial  |  Plastiek  |  Handelsooreenkoms  |  Invoer  |  Handelsoorlog  |  Nywerhede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.