Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só spaar gesinne danksy laer rentekoers

’n Gesin wat ’n huis van R1 miljoen en ’n motor van R200 000 finansier, sal in Junie al nagenoeg R2 000 lafenis in hul begroting hê vergeleke met Januarie danksy die opeenvolgende dalings in die rentekoers.

Sien ook grafika hieronder.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank.Foto: Argief

Dit kom nadat die Reserwebank Donderdag vir die vierde keer vanjaar die rentekoers verlaag het vir ’n totale verlaging van 2,75 persentasiepunte. Dié keer is die koers met ’n halwe persentasiepunt verlaag, ná die 0,25 van ’n persentasiepunt in Januarie en 1 persentasiepunt elk in Maart en April.

Die besparing kom terwyl die Reserwebank gelooi is oor sy “optimistiese” siening dat die ekonomie vanjaar met “net” 7% gaan inkrimp, teenoor voorspellings van tot -12% deur ekonome.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het egter in geen onsekere woorde nie gemaan dat die rentekoersverligting hoogstens lafenis is vir individue en maatskappye met skuld. In die huidige wêreldwye ekonomiese krisis wat deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings veroorsaak word, is daar nie sprake daarvan dat die ekonomie gestimuleer word nie.

“Monetêre beleid kan finansiële toestande verlig en die veerkragtigheid van huishoudings en maatskappye weens die ekonomiese implikasies van Covid-19 verbeter... Monetêre beleid op sy eie kan egter nie die potensiële groeikoers van die ekonomie verbeter of die fiskale risiko verminder nie.

Monetêre beleid kan finansiële toestande verlig en die veerkragtigheid van huishoudings en maatskappye weens die ekonomiese implikasies van Covid-19 verbeter.
Lesetja Kganyago

“Dié dinge moet aangepak word deur die instelling van verstandige makro-ekonomiese beleid en strukturele hervormings wat koste in die algemeen verminder, en beleggingsgeleenthede, potensiële groei en werkskepping verhoog.”

Prof. Raymond Parsons, ekonoom van die Noordwes-Universiteit se sakeskool, loof die rentekoersverlaging as “nog ’n waardevolle versagtende stap” te midde van die ekonomiese krisis.

“Monetêre beleid is nie ’n wonderkuur om die ekonomiese skade wat deur die uitgereikte inperking veroorsaak word nie,” sê Parsons, wat byvoeg dat dit wel die druk op ondernemings en verbruikers kan verlig.

Hy waarsku dat die doeltreffendheid van monetêre beleid afhang van die pas waarteen Suid-Afrika die inperking verlaag, sowel as hoe doeltreffend ander ekonomiese steunmaatreëls in werking gestel is.

Parsons beveel aan dat die land nie nét die daaglikse nuus oor die gesondheidsituasie met betrekking tot Covid-19 kry nie, maar ook gereelde, dalk weeklikse, ekonomiese verslae. Dit moet insluit inligting oor werkverliese, ondernemings wat ondergaan en verlore belastinginkomste “ten einde ’n gebalanseerde perspektief oor die suksesvolle bestuur van Covid-19 in die maande wat kom, te verskaf”.

Sy opmerkings kom te midde van opbouende frustrasie oor die streng inperking wat steeds heers, met nog geen finale aanduiding wanneer die land na vlak 3 gaan beweeg en hoe dit gaan lyk nie.

Mamello Matikinca-Ngwenya, hoofekonoom van FNB, verwag dat inflasie die vlak van 3% nog vanjaar gaan toets. Gegewe dat die swak rand nie tans plaaslike inflasie laat styg nie, reken sy die Reserwebank het nog ruimte om later vanjaar weer die rentekoers te verlaag.

Die Reserwebank se eie model verwag egter nie verdere verlagings in die rentekoers nie. Die bank voorspel dat inflasie vanjaar gemiddeld 3,4% sal beloop.

Spaarders moet diversifiseer

Die laer rentekoers gaan mense wat in rentedraende instrumente – soos geldmark- en vastedepositorekeninge – belê of van rente-inkomste leef, opnuut tref.

Mark Dunley-Owen, portefeuljebestuurder van Allan Gray, sê hoe moeilik dit ook al in dié tyd is, moet beleggers wat nog ’n redelike spaarhorison het, dit oorweeg om effekte en aandele te koop, wat tans betreklik goedkoop is.

Aandeelpryse het skerp gedaal weens die impak van die Covid-19-krisis op finansiële markte en maatskappywinste, maar op medium- tot langtermyn presteer dié bateklas steeds beter as kontant.

rentekoers

Meer oor:  Reserwebank  |  Lesetja Kganyago  |  Spaar  |  Rentekoers
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.