Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só styg, daal werkloosheid in elke provinsie

Byna 27 jaar sedert die tuislandstelsel afgetakel is, is die Oos-Kaap – waar Transkei en Ciskei geleë was – steeds die arm stiefkind van die land.

werkloosheid
Landwyd is die werkloosheidskoers nou op ’n nuwe rekord van 32,5%. Foto: Unsplash

Werkloosheid in dié provinsie is baie na aan een uit twee mense van werkende ouderdom (47,9%) en as ontmoedigde werksoekers bygetel word, is dit méér as een uit twee (52,4%).

Dis die hoogste werkloosheidskoers in die land. Landwyd is dit 32,5% – vir die soveelste keer ’n rekord sedert die syfers in 2008 in die huidige formaat gemeet word – en uitgebreide werkloosheid is 42,6%.

Werkloosheid het in die vierde kwartaal in agt van die land se nege provinsies gestyg vergeleke met die derde kwartaal. Dit kan skokkend lyk gegewe dat die ekonomie in die vierde kwartaal baie oper was as in die tweede en derde kwartaal, maar dit weerspieël juis dat meer mense wat hulle tydens die strenger vlakke van inperking aan die arbeidsmark onttrek het, weer begin werk soek het.

Slegs in die Vrystaat het die amptelike werkloosheidskoers gedaal – van 35,5% tot 33,4%, ’n stewige daling van 2,1 persentasiepunte.

Uitgebreide werkloosheid het in ses provinsies gedaal en in een onveranderd gebly. Dit is deels goeie nuus omdat dit wys meer mense soek weer aktief werk, eerder as om hulle aan die arbeidsmark te onttrek.

Die grootste verskil tussen die amptelike werkloosheidskoers en die uitgebreide werkloosheidskoers is in Limpopo, waar dit 20,2 persentasiepunte beloop. Dié gaping word as problematies beskou omdat dit wys hoeveel potensiële werknemers hulle bloot aan die arbeidsmark onttrek het.

werkloosheid

Hoogste werkloosheid

Die provinsie met die hoogste amptelike werkloosheidskoers is die Oos-Kaap, op 47,9%.

Dit is ook die provinsie met die hoogste uitgebreide werkloosheidskoers, van 52,4%. Hoewel hemelhoog, wys dit dat die meeste mense sonder werk ten minste wél nog werk soek.

Laagste werkloosheid

Die Wes-Kaap bly die provinsie met die laagste werkloosheidskoers van 22,5%, en ook die laagste uitgebreide werkloosheidskoers van 26,8%. Die werkloosheidskoers is wel hoër as in die derde kwartaal, toe dit 21,6% was, maar dit weerspieël mense wat uit die ontmoedigde groep na die groep werksoekers verskuif het. Dit het uitgebreide werkloosheid van 29,1% af laat daal.

Skerpste styging

Die skerpste styging in werkloosheid in die derde kwartaal was in die Noord-Kaap, waar die koers met 5,6 persentasiepunte tot 28,7% opgespring het.

Skerpste daling

Die skerpste daling in uitgebreide werkloosheid was in die Vrystaat, waar dit met 2,7 persentasiepunte, van 42,6% tot 39,9% gedaal het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.