Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só styg minimum loon op 1 Maart

Die nuwe nasionale minimum loon verhoog op 1 Maart met 76c per uur tot R20,76. Dis tans R20 per uur.

Vanaf 1 Maart moet huiswerkers minstens R15,57 per uur verdien. Foto: iStock

Dié aankondiging is vervat in die Staatskoerant van 17 Februarie, wat nog nie aanlyn gepubliseer is nie. Dis eerste deur Business Insider, susterpublikasie van Netwerk24, berig.

Die verhoging van slegs 3,8% – dus minder as die inflasiekoers vir 2019, wat 4,1% beloop het – is ietwat van ’n verrassing gegewe dat die bedingingsliggaam Nedlac nog einde Januarie onderhandel het oor verhogings van 5%, wat toe deur vakbonde as te min beskryf is. Vakbonde het 12,5% geëis.

Ander minimum lone verhoog ook met net 3,8%.

  • Huiswerkers, wat vir nog ’n jaar 75% van die nasionale minimum loon verdien, moet vanaf 1 Maart minstens R15,57 per uur kry teenoor R15 tans.
  • Plaaswerkers, wat 90% van die nasionale minimum loon verdien, moet vanaf 1 Maart minstens R18,68 per uur betaal word, teenoor R18 tans.
  • Werkers in die regering se program vir uitgebreide openbare werk gaan vanaf 1 Maart R11,42 per uur betaal word, 42c meer as die R11 tans.

Die aankondiging kom te midde van rekordhoë werkloosheid van 29,1%.

Die bedrag van R20 per uur vir die minimum loon het op 1 Januarie 2019 van krag geword nadat dit reeds in 2017 beding is. Dis dus die eerste verhoging tot nog toe van die nasionale minimum loon.

Die landbou-organisasie TLU SA het in reaksie gesê hy glo steeds die minimum loon keer indiensneming en “verlam die ekonomie”.

“Die ANC en sy alliansievennote gee nie om oor die ekonomie of werkloosheid nie, maar tree slegs in belang van hul lede op,” sê Louis Meintjes, president van TLU SA.

“Die beperking van ’n minimum loon ontneem iemand wat wíl onderhandel vir hul loon van ’n werkgeleentheid.

“As iemand byvoorbeeld bereid is om vir R2 500 as plaaswerker te werk omdat dit is wat die boer kan bekostig, pleks van die gedwonge R3 360 per maand, kan jy vir daardie mens die waardigheid gee om nie van ’n staatstoelae of bedel afhanklik te wees nie.”

Meintjes sê as meer as een mens in ’n gesin kan werk, is hul gesamentlike inkomste hoër as wanneer een mens vir ’n hoër loon kan werk.

“Anders as wat mense dalk dink, gee boere vir hul werkers om en wil hulle hê hul lewe moet verbeter. Maar om die moeiliker te maak om meer werkers aan te stel, is teenproduktief.”


Meer oor:  Huiswerkers  |  Plaaswerkers  |  Minimum Loon
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.