Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
So styg tolgeld, ook e-tol, op 1 Maart

Motoriste gaan vanaf 1 Maart tussen 50c en R2 meer betaal wanneer hulle deur tolhekke op die land se paaie moet gaan.

Gautengers sal tussen 9c en 15c meer vir e-tol betaal. Sien ook grafika hieronder.

Die stygings op tolhekke vir alle voertuie beloop gemiddeld 3,39%, volgens die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral), maar by nadere ondersoek blyk dit gewone motoriste gaan stygings van gemiddeld 3,7% betaal.

  • Tolgeld vir die Hugenote-tonnel op die N1 in die Wes-Kaap word met R1, oftewel 2,4% duurder tot R42,50.
  • Die Grasmere-plaza op pad na Parys in die Vrystaat word 50c of ook 2,4% duurder tot R21,50.
  • Die Mariannhill-plaza op die N3 naby Durban word 50c duurder, of 4%, tot R13.

Die nuwe toltariewe is op 11 Februarie in Staatskoerant 44145 en 44146 gepubliseer.

Daar is steeds afslag beskikbaar vir mense wat ’n spesifieke tolplaza gereeld gebruik en plaaslike inwoners.

Gereelde gebruikers kan ook 20% of 40% afslag kry met ’n afslagkaart. Op enkele uitsonderings na, geld 20% afslag vir gebruikers wat ’n tolhek meer as 20 keer per maand gebruik en 40% vir mense wat dit meer as 40 keer gebruik. (By sekere tolhekke is dit meer of minder.)

k

E-tol in Gauteng

Wat e-tol in Gauteng betref, styg tariewe met tussen 9c en 15c per tolhek, of in persentasie met tussen 3,2% en 3,5%.

Die maksimum e-tolgeld wat motorfietsryers sal betaal, styg van R161 tot R167 per maand, en van motoriste van R291 tot R300 per maand.

Gebruikers wat hul rekeninge betyds betaal, kan afslag verdien op grond van gereelde gebruik en gebruik buite spitstye. Die tye en koste is as volg:

  • Weekdae 23:00-05:00: 48,3% van standaardtarief
  • Weekdae 05:00-06:00: 19,3% van standaardtarief
  • Weekdae 06:00-10:00: Standaardtarief
  • Weekdae 10:00-14:00: 9,7% van standaardtarief
  • Weekdae 14:00-18:00: Standaardtarief
  • Weekdae 18:00-23:00: 19,3% van standaardtarief
  • Saterdae en Sondae 18:00-06:00: 48,3% van standaardtarief
  • Saterdae en Sondae 06:00-18:00: 29% van standaardtarief
  • Openbare vakansiedae: 48,3% van standaardtarief
k

Volgens Sanral word die tariewe jaarliks aangepas “in pas met die verbruikersprysindeks”.

“Ons gebruik die inflasiekoers as ’n riglyn sodat die toltariewe in reële terme dieselfde bly, wat beteken daar is effektiewelik geen styging in die koers vandat dit in werking gestel is nie,” sê Vusi Mona, Sanral se kommunikasiehoof, in ’n verklaring.

Gegewe dat die inflasiekoers in Januarie slegs 3,2% was, en vir die hele 2020 gemiddeld ook net 3,2%, is die gemiddeld van 3,39% wel hoër as die inflasiekoers.

Tolgeld word gehef op nagenoeg 13% van die land se padnetwerk van 22 253 km.

Sanral sê in sy verklaring tolgeld stel hom in staat om onderhoud betyds te doen eerder as wat hy moet wag vir geld wat deur die staat beskikbaar gemaak word.

“Die koste in die geval van vertraagde onderhoud op paaie kan tot 18 keer hoër wees as wat dit sou wees as voorkomende roetine-onderhoud onderneem is.”

Sanral wys ook dat tolgeld net betaal word vir mense wat wel ’n spesifieke pad gebruik, die beginsel van “die gebruiker betaal” waarvan Tito Mboweni, minister van finansies, ook ’n voorstander is.

  • Sanral het aanvanklik gesê die gemiddelde verhogings van toltariewe is 5%, maar het dit later reggestel en verminder tot 3,39%. Netwerk24 se eie berekeninge was van die begin af dat gewone motoriste se tariewe met 3,7% styg op algemene tolpaaie, en dat e-toltariewe met tussen 3,2% en 3,5% styg.
Die Grasmere-tolhek op die N1-snelweg in Gauteng.
Meer oor:  Sanral  |  Tolpaaie  |  E-Tol  |  Gfip
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.