Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só styg werkloosheid in elke provinsie
werkloosheid

Werkloosheid het in die derde kwartaal in agt van die land se nege provinsies gestyg. Slegs die Noord-Kaap kon ’n duik in sy koers maak, maar daar is ook suur saam met dié sout.

Die Oos-Kaap het die hoogste werkloosheidskoers in die land, op 45,8%. Dié foto is naby Port Elizabeth geneem. Foto: Ayesha Cantor

Die styging in werkloosheid nasionaal, van 23,3% in die tweede tot 30,8% in die derde kwartaal, is skeefgetrek omdat mense weens die inperking nie in die tweede kwartaal kon werk soek nie. Die meer akkurate styging is die verskil tussen die eerste kwartaal se 30,1% en die derde kwartaal se 30,8%.

Risenga Maluleke, statistikus-generaal, wys in sy voorlegging oor die kwartaallikse indiensnemingspeiling op die al groter wordende verskil tussen die amptelike werkloosheidskoers en die uitgebreide werkloosheidskoers van talle provinsies.

Dié syfer dui op die styging in die persentasie mense van werkende ouderdom wat nie werk nie en ook nie werk soek nie – sonder dat hulle byvoorbeeld verder studeer, kies om tuisteskeppers te word of ’n sinvolle rede gee waarom hulle nie werk soek nie, soos dat hulle voel hulle is te oud of te siek.

Landwyd is die uitgebreide werkloosheidskoers nou op ’n nuwe rekord van 43,1%.

In die Noord-Kaap – die einste provinsie waarin werkloosheid met 2 persentasiepunte tot 23,1% gedaal het – is die uitgebreide werkloosheidskoers 44%. Dis ’n verskil van 20,9 persentasiepunte.

KwaZulu-Natal het ’n amptelike werkloosheid van 26,4%, maar 21,2 persentasiepunte méér mense, 47,5%, is volgens die uitgebreide definisie werkloos.

Ook Limpopo het ’n verskil van 20,6 persentasiepunte tussen die amptelike werkloosheidskoers van 26,3% en die uitgebreide werkloosheidskoers van 47,5%.

Hoogste werkloosheid

Die provinsie met die hoogste amptelike werkloosheidskoers is die Oos-Kaap, op 45,8%.

Dis ook die provinsie met die hoogste uitgebreide werkloosheidskoers, van 51,2%. Hoewel hemelhoog, wys dit dat die meeste mense sonder werk ten minste wél nog werk soek.

Laagste werkloosheid

Die Wes-Kaap bly die provinsie met die laagste werkloosheidskoers, 21,6%, en ook die laagste uitgebreide werkloosheidskoers, 29,1%.

Skerpste styging

Die skerpste styging in werkloosheid in die derde kwartaal was in Mpumalanga, waar werkloosheid met 14,5 persentasiepunte tot 27,8% opgespring het. Uitgebreide werkloosheid beloop 45,6%.

Daar was ook ’n dubbelsyferstyging in die werkloosheidskoers van die Vrystaat, waar 35,5% van mense hulle nou as werkloos beskryf, ’n styging van 10,2 persentasiepunte. 42,6% is volgens die uitgebreide definisie werkloos.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.