Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Só wil OG korrupsie met staatsgeld vasvat

Wat die besteding van staatsgeld betref, sal niemand nou kan sê: “Ek het nie geweet wat die reëls is nie.”

Kimi Makwetu Foto: Argief

Só het Kimi Makwetu, die ouditeur-generaal (OG), Woensdag gesê by die bekendstelling van ’n stel voorkomende maatreëls oor hoe staatsdepartemente en -ondernemings moet verseker dat geld goed bestuur en reg bestee word.

Linda le Roux, hoof van navorsing en ontwikkeling in die kantoor van die OG, het aan die hoof gestaan van die span wat die maatreëls opgestel het.

Sy het gesê dit is nie nuut nie, maar ’n samevatting van alles wat nou uit die staanspoor aan die verantwoordelike amptenare gegee kan word.

Die maatreëls sluit onder meer in dat die besteding van geld goed beplan moet word, dat amptenare met die regte vaardighede aangestel moet word en dat gestandaardiseerde prosesse gevolg moet word.

Le Roux het gesê die maatreëls stippel ook duidelik uit wat botsende belange beteken en hoe dit gehanteer en bestuur moet word.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie, wat die bekendstelling bygewoon het, het die maatreëls verwelkom.

“Dit is ’n belangrike instrument om te help om staatsgeld te bestuur. Selfs die suksesvolste instrumente en agentskappe vir wetstoepassing kan eers ingespan word nadat ’n misdaad gepleeg is, en teen daardie tyd is die skade reeds gedoen.”

Dit is dus belangrik om voorkomend op te tree, het hy gesê.

Volgens Mogajane is die Covid-19-pandemie ’n goeie voorbeeld van hoe ’n omgewing sonder streng voorkomende maatreëls ’n teelaarde vir korrupsie kan word.

Hy het verwys na die OG se onlangse oudit oor die besteding van staatsgeld om die pandemie te beveg, wat grootskaalse ongerymdhede blootgelê het.

LEES OOK: Dís wat skeefgeloop het met Covid-19-inisiatiewe

Makwetu het gesê nog sowat die helfte van die geld wat vir Covid-19-inisiatiewe bewillig is, is nog oor en hy hoop dat dié maatreëls wat nou bekend gestel is, sal help dat dié geld verantwoordelik bestee word.

Freeman Nomvalo, uitvoerende hoof van Suid-Afrikaanse Instituut vir Geoktrooieerde Rekenmeesters (Saica) en voorheen die rekenmeester-generaal, het gesê die riglyne moet ook selfs in die mees afgeleë dele van die land aangewend word om te verseker dat die staatsgeld reg bestuur word.

Makwetu het daarmee saamgestem en gesê daar is talle voorbeelde waar miljarde rande se staatsgeld sonder enige behoorlike oorsig bestee is.

Die maatreëls kan van die OG se webtuiste afgelaai word.

Meer oor:  Dondo Mogajane  |  Kimi Makwetu  |  Korrupsie  |  Inperking  |  Covid-19  |  Ouditeur-Generaal  |  Bedrog  |  Koronavirus  |  Tenderbedrog  |  Verkrygings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.