Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Solidariteit: Tito se plan ‘reusestap vir ANC’

Dink jy Tito Mboweni, minister van finansies, se nuwe ekonomiese plan is nie ambisieus genoeg nie? Die vakbond Solidariteit sê “wees versigtig” – vir die ANC is dit ’n reusestap, en dus ook vir die land.

“Dit is die eerste keer in meer as 20 jaar wat ons so iets vanuit die ANC sien,” sê Connie Mulder, hoof van Solidariteit se Navorsingsinstituut, Donderdag op ’n mediakonferensie in Centurion.

Tito Mboweni, minister van finansies. Foto: William Horne

Mboweni se beleidsdokument is uit die bloute einde Augustus gepubliseer en het uit ’n betreklik liberale invalshoek probeer om idees te skep om die ekonomie dringend reg te ruk.

Dit het ontleders, politici en vakbonde gepolariseer en sowel kritiek as lof ontvang.

Volgens Mulder is die feit dat die Suid-Afrikaanse Kommunistiese Party gal gebraak het oor die beleidsdokument juis die bewys dat dit ’n tree in die regte rigting is.

Ek sou eerder hê dat hulle sê ‘ons gaan ’n bietjie beter word en só maak’, as wat hulle baie belowe, dit dan nie doen nie en net aanhou in die verkeerde rigting beweeg.
Morné Malan

Morné Malan, senior navorser van Solidariteit se Navorsingsinstituut, het uiteengesit hoekom dit van so ’n uiterste belang is om aan elke ekonomiese front in Suid-Afrika dringend van koers te verander.

Hy het veral verwys na die ongelooflike agteruitgang van Suid-Afrika se posisie op elke denkbare ranglys van ekonomiese vryheid, asook die land se rampspoedige werkloosheidsyfers.

Malan voer aan dat die beleidsdokument praktyke bevat wat die land nader aan die “hoofstroom” van globale ekonomiese beleid kan neem.

“Ons kan nie voortgaan om uitgediende idees, wat kenmerkend was van die Sowjet-Unie, aan te hang en te dink dat die res van die wêreld verkeerd is omdat hulle dit nié doen nie,” sê Malan.

Maar Solidariteit meen dat die waarde van die dokument nie soseer lê in spesifieke planne nie, maar eerder dat dit dalk ’n draaipunt kan wees vir ’n neiging wat toenemend die land nader aan die fiskale afgrond bring.

Dit is dus belangriker, na Solidariteit se mening, om eerder Suid-Afrika se linksgesinde neigings te staak en in die algemeen van ideologiese koers te verander.

“Mboweni, wat só sy hakke inslaan en sê ‘nee’, is hopelik dié draaipunt,” sê Mulder.

“Natuurlik kon dit meer ambisieus gewees het,” voeg hy by. Maar Mulder meen ’n meer ambisieuse plan sou eintlik minder waarde gehad het.

Connie Mulder (regs), hoof van die Solidariteit se Navorsingsinstituut, en Morné Malan, senior navorser, Donderdag by die vakbond se hoofkantoor in Centurion. Foto: William Horne

Malan stem saam: “Ek sou eerder hê dat hulle sê ‘ons gaan ’n bietjie beter word en só maak’, as wat hulle baie belowe, dit dan nie doen nie en net aanhou in die verkeerde rigting beweeg.”

Die beleidsdokument het onder meer kritiek van die private sektor ontlok vir sy blykbare nie-ambisieuse fokus op ekonomiese vryheid.

Solidariteit reken vryheid is eintlik ’n vreeslik belangrike fokusgebied, wat ’n sneeubaleffek kan hê om die ekonomie in ’n meer liberale rigting te stoot. ’n Nuwe verslag oor ekonomiese vryheid word juis Donderdagaand uitgereik.

Mulder sê in Nieu-Seeland neem dit ’n enkele middag om ’n onderneming te begin. “In Suid-Afrika vat dit 40 dae. Dis langer as in Sirië waar dit 16 dae neem. Hulle het ’n oorlog daar!

“Ons sit met ’n staat wat ’n sentrale ekonomie probeer beplan, maar dié dokument gaan teen daai neiging.”

Malan verduidelik: “Ekonomiese vryheid, in die breër sin, het al tot die opheffing vanuit armoede van etlike miljoene oor die wêreld heen gelei, en dit kan dieselfde in Suid-Afrika doen – mits Suid-Afrika die plan in werking stel.”

Solidariteit sê hy sal ’n “kampvegter” wees om te help verseker dat Mboweni se idees wel die daglig sien.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.