Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Covid-19-fonds: Só is die geld bestee
Gloria Serobe, voorsitter van die Solidariteitsfonds.

Die Solidariteitsfonds sou al teen hierdie tyd ontbind gewees het, maar weens die tweede vlaag van koronavirus-infeksies sal die fonds waarskynlik tot einde volgende jaar voortleef.

Só het Tandi Nzimande, uitvoerende hoof van die Solidariteitsfonds, Dinsdag in die parlement gesê.

Die fonds, wat in Maart gestig is as ’n onafhanklike en outonome agentskap om as noodmaatreël skenkings in te samel en te versprei in die stryd teen die Covid-19-pandemie, het aan die staande komitee oor finansies verslag gedoen oor sy werk.

Gloria Serobe, voorsitter van die fonds, het beklemtoon die fonds se personeel van 200 mense insluitende die uitvoerende hoof ontvang geen salaris nie en daar is geen geld aan enige administrasie bestee nie.

Sy het bevestig die fonds se eerste uitvoerende hoof, Nomkhita Nqweni, wat einde Oktober vertrek het omdat sy ’n nuwe werk gekry het, het pro bono, d.w.s. gratis ten bate van die gemeenskap, gewerk.

Nzimande se aanstelling is in die vorm van ’n afstanddoening (“secondment”) van haar huidige werkgewer. Die fonds het geen bedoeling om enige geld aan salarisse en oorhoofse koste te bestee nie sodat alle skenkings wat ontvang word, volledig bestee word in die stryd teen Covid-19, het Serobe gesê.

Daar is nie langtermynplanne vir die fonds nie, het Nzimande gesê. “Ons verwag die fonds sal sy bedrywighede binne ’n twaalfmaandetydperk afhandel. Daar is verwag dit sou alreeds afgehandel wees, maar weens die tweede golf het ons voortgegaan, en sodra ons die tweede golf hanteer het, glo ons die land sal in ’n beter posisie wees om meer regstreeks die siekte te kan hanteer, soos wat met tuberkulose of griep gedoen word. Ons sien nie dat die fonds ’n langer leeftyd het as einde volgende jaar nie.”

Serobe het bevestig die fonds sal deur die ouditgroep PwC geoudit word vir die boekjaar tot einde Februarie.

Hulp van oral

Martin Kingston, een van die raadslede van die fonds, het verduidelik hoe vinnig die Solidariteitsfonds opgerig is. Dit is teen 23 Maart aangekondig, en teen einde Maart is R500 miljoen al aan die fonds beloof. Teen 2 April is die eerste geld al uitgedeel vir die aankoop van persoonlike beskermende toerusting.

Tot 60 organisasies, maatskappye en instellings het hulp aangebied, nie net in die vorm van geld nie, maar deur dienste en toerusting. Dit sluit BP en Total in wat brandstof geskenk het, Transnet wat sy treine aangebied het om toerusting te vervoer, en Distell en L’Oreal wat handreinigers geskenk het.

Daar is ook strategiese vennootskappe met die Verenigde Nasies, FirstRand, die Bill & Melinda Gates-stigting, die Nelson Mandela-stigting en die Elma-stigting.

Die primêre doelwit van die fonds was om vinnig in te gryp in die stryd teen die virus, om finansiële hulp te mobiliseer en koördineer, om die omvang van die probleem te verstaan en maatreëls te steun om infeksiekoerse te verlaag, het Kingston verduidelik.

Die fonds wou saam met die nasionale strategie werk op alle regeringsvlakke, maar sonder om te dupliseer en pogings te herhaal, maar om aan te vul en dringende gapings te vul. Tito Mboweni as minister van finansies en Ebrahim Patel as minister van handel, nywerheid en mededinging is die twee regeringsverteenwoordigers op die Solidariteitsfonds se raad.

Só is geld bestee

Volgens Adrian Enthoven, ondervoorsitter van die fonds, is R3,1 miljard al sedert die begin van die fonds ingesamel, en R2,4 miljard daarvan is bestee.

Benewens groot skenkings van ryk familiestigtings soos Mary Oppenheimer en Dogters, die Hasso Plattner-stigting en Allan & Jill Gray Philanthropy, het duisende gewone Suid-Afrikaners ook geld geskenk. Die Vrystaat en Noordwes is die provinsies met die meeste individuele skenkers, waar mense byvoorbeeld na hul naaste Shoprite- of USave-winkel kon gaan om bydraes aan die fonds te maak.

Enthoven het die volgende oorsig gegee oor die besteding tot dusver van die fonds:

Persoonlike beskermende toerusting:

  • R884 miljoen se geld is toegeken waarvan R835 miljoen al bestee is; en
  • 51 miljoen eenhede is bestel en 38 miljoen is ontvang en word uitgedeel.

Ventilators:

  • R281 miljoen is toegeken en R181 miljoen daarvan is bestee;
  • Die mikpunt was om 20 000 ventilators te koop;
  • 10 000 ventilators is deur die WNNR gebou en 6 918 daarvan is al versprei; en
  • Save-P het 2 000 ventilators gebou en die oorblywende 8 000 sou teen 20 November voltooi wees.

Toetse:

  • R410 miljoen is toegeken vir toetse, waarvan R340 miljoen al bestee is; en
  • Die Nasionale Gesondheidslaboratoriumdiens het in Maart 100 toetse per dag gedoen en dit is teen Julie tot meer as 45 000 toetse per dag opgestoot.

Noodsaaklike toerusting:

  • R196 miljoen is toegeken maar nog net R6,4 miljoen is bestee, want van die verkryging moes herprioritiseer word, maar die program word nou uitgevoer, veral in die Oos-Kaap waar dit nou dringend nodig is.

Kos:

  • R320 miljoen is toegeken, en sowat R181 miljoen is uitbetaal;
  • In fase 1 is kospakkies aan 280 000 huishoudings uitgedeel;
  • In fase 2 is koskoepons aan 135 000 kwesbare huishoudings gegee wat nie staatstoelaes kry nie; en
  • 47 000 landelike huishoudings is ook gehelp.

Gendergeweld:

  • R95 miljoen is toegeken, en sowat R19 miljoen is uitbetaal om 133 skuilings en sorgsentrums te voorsien van beskermende toerusting en kritieke mediese dienste.
Meer oor:  Ekonomie  |  Koronavirus  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.