Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Sonder Ramaphosa was rand R17 per dollar’

Sonder die “Ramaphosa-herkalibrering” sou die rand vandag nader aan R17 per dollar werd gewees het.

Die rand gaan na verwagting verswak indien die Fed Woensdag aankondig hy voorsien die rentekoers gaan nog vier keer vanjaar styg.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, sê sonder die positiewe sentiment wat sedert Desember voortgespruit het uit Cyril Ramaphosa se verkiesing tot ANC-president, sou die rand boonop tot R19 teenoor die euro en R22 teenoor die pond verswak het.

Haar opmerkings kom nadat die rand die afgelope week weer tot swakker as R13 per dollar verswak het. Dinsdag teen middagete was dit sowat R13,20 per dollar, R15,56 per euro en R17,68 per pond werd.

Die rand het verswak in die lig van beleggers se weersin in risiko wêreldwyd, onder meer in aanloop tot die historiese spitsberaad tussen pres. Donald Trump van die VSA en Kim Jong-oen van Noord-Korea.

Ontleders verwag dat die rand die res van die week wisselvallig sal bly, selfs al het Trump en Kim ’n ooreenkoms onderteken waarin Noord-Korea se kernontwapening voorsien word. Die rand se lot sal vir die res van die week bepaal word deur monetêre besluite van sentrale banke soos die Federale Reserweraad (Fed) van Amerika en die Europese Sentrale Bank.

Daar word alom verwag dat die Fed Woensdagaand 20:30 Suid-Afrikaanse tyd sy rentekoers sal verhoog en ’n deel daarvan is bes moontlik reeds in die rand ingeprys. As die Fed egter aandui dat hy rentekoerse oor die loop van die jaar vinniger gaan verhoog – vier keer, pleks van die drie keer wat in Maart voorspel is – sal dit die rand laat verswak.

“Elke woord in die Fed-verklaring sal ontleed word, en enige waargenome toename in valkagtigheid (dus ten gunste van hoër rentekoerse) sal verdere risikovermyding ontlok en swakheid in ontluikende geldeenhede soos die rand meebring,” sê Bishop.

Bishop wys daarop dat die rand voor die ANC-leierskapskonferensie in Desember op so swak soos R14,57 teenoor die dollar, R17,07 teenoor die euro en R19,08 teenoor die pond verhandel het.

Nadat Ramaphosa in Januarie ook die president van Suid-Afrika geword het, het die rand tot R11,51 teenoor die dollar, R14,17 teenoor die euro en R16,08 teenoor die pond versterk.

“Suid-Afrika se plaaslike risiko is as wesenlik minder gesien, en wêreldwye beleggersaptyt vir Suid-Afrikaanse bates het gestyg vergeleke met ander ontluikende markte,” sê Bishop.

Sonder dié versterking sou die verswakking van die rand met tussen R1,5 en R2 teenoor die groot geldeenhede die afgelope maande van ’n baie hoër basis af gewees het.

Buitelanders het van Januarie tot April vanjaar ’n netto belegging van R32,3 miljard in Suid-Afrikaanse bates soos aandele en effekte gedoen. Netto beleggings verwys na die verskil tussen nuwe beleggings en beleggings wat onttrek is.

Van Mei tot sover in Junie, het buitelanders ’n netto onttrekking van R60,8 miljard uit Suid-Afrikaanse bates gedoen.

Bishop skryf dit ook toe aan ’n afname in risiko-aptyt namate die Fed rentekoerse verhoog. Alle ontluikende markte word daardeur geraak.

Volgens die Instituut van Internasionale Finansiering is ’n netto $58,4 miljard van Januarie tot April in ontluikende markte belê en in Mei is ’n netto $12,3 miljard verkoop. Die grootste verkope was in Indië en Suid-Afrika.

Vir gewone Suid-Afrikaners is die uitwerking van die randwisselvalligheid dat pryse skerper begin styg, insluitend brandstofpryse, en ook dat ’n rentekoersverlaging vir die res van die jaar onwaarskynlik is.

Meer oor:  Annabel Bishop  |  Fed  |  Wisselkoers  |  Rentekoers  |  Rand  |  Markte  |  Dollar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.