Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Soveel kos handelsoorlog wêreld se ekonomie – IMF

Die belangrikste bedreiging vir die wêreld se ekonomie is die voortslepende handelsoorlog tussen Amerika en China, het Christine Lagarde, besturende direkteur van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), met afloop van die byeenkoms van die G20 se ministers van finansies in Japan gesê.

Links is Dondo Mogajane, direkteur-generaal van nasionale tesourie, langs Christine Lagarde, hoof van die IMF. Regs van haar is Takehiko Nakao, president van die Ontwikkelingsbank van Asië. Voor is van links Taro Aso, minister van finansies van Japan, en Ahmed Alkholifey, Saoedië-Arabië se monetêre owerheid, ná afloop van die byeenkoms van G20-lande se ministers van finansies en hoofde van sentrale banke, wat die naweek in Japan plaasgevind het. Foto: Reuters

Lagarde het ’n verklaring ná die byeenkoms, wat ook deur die hoofde van sentrale banke bygewoon is, uitgereik.

Volgens haar toon die internasionale ekonomie op die oomblik tentatiewe tekens van stabilisering en die ekonomiese groei gaan na verwagting versterk.

“Hoewel dit goeie nuus is, bly die pad vorentoe onseker en is onderhewig aan talle risiko’s wat dit afwaarts kan druk.

“Die hoofbedreiging spruit uit die voortgesette handelspanning.”

Volgens haar het die IMF bepaal die invoertariewe wat Amerika en China wedersyds op mekaar se goedere hef, insluitende dié wat verlede jaar ingestel is, gaan die internasionale BBP met 0,5% in 2020 of omtrent $455 miljard laat krimp.

“Dit kan ’n wesenlik duik maak in die geskatte verhoging in ekonomiese aktiwiteit.”

Nog ’n risiko is dat die baie lae rentekoerse veroorsaak dat skuld in baie ontwikkelde lande styg en dat opkomende markte kwesbaar bly vir ’n skielike verskuiwing in finansiële toestande.

“Om die risiko’s te versag het ek beklemtoon die eerste prioriteit moet wees om die huidige handelspanning op te los.”

Reuters het berig die G20 se ministers van finansies het ongelukkig nie ’n beroep gedoen dat die handelskonflik opgelos word nie.

Die G20-ministers het ná heftige onderhandelinge glo amper nie ’n communique uitgereik wat gebruiklik is ná afloop van hul byeenkoms nie.

In die communique is net ’n lou reaksie herhaal dat “ ’n reël-gegronde multilaterale handelstelsel” nodig is.

Hul communique lui dat handel en geopolitieke spanning vererger het.

Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die nasionale tesourie, het die G20-byeenkoms bygewoon.

Een van die netelige kwessies wat op die byeenkoms bespreek is, is hoe deursigtigheid bevorder moet word onder G20-lande wat finansiering verskaf aan veral laerinkomstelande.

China kom toenemend onder skoot oor hoe sy finansiering van infrastruktuurprojekte laerinkomstelande beïnvloed, het Bloomberg berig.

Meer oor:  Imf  |  Nasionale Tesourie  |  G20  |  Japan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.