Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
S&P gee SA ’n Swart Vrydag-vrypas

Suid-Afrika het Vrydagaand ’n verdere afgradering vrygespring toe Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) sowel die land se graderings onveranderd gelaat het as die vooruitsig.

Voetgangers stap verby Standard & Poor's se kantore in New York. Foto: Bloomberg

S&P gradeer staatseffekte in rand een vlak onder beleggingsgraad en staatseffekte in buitelandse geldeenhede twee vlakke onder beleggingsgraad.

Die vooruitsig vir die graderings is op stabiel gelaat.

Die besluit stem ooreen met die verwagting van 70% van die ekonome wat vroeër die week aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het.

In sy verklaring sê die kredietgradeerder: “Anemiese ekonomiese groei in 2018 en groot staatswaarborge hou aan om Suid-Afrika se fiskale vooruitsigte en skuldlas swaar te laai. Nietemin is die nuwe regering besig om ’n reeks ekonomiese hervormings deur te voer wat die ekonomie vanaf 2019 ’n hupstoot sal gee, ondanks strukturele struikelblokke, ’n chroniese gebrek aan vaardighede, en hoë werkloosheid.”

Volgens S&P behoort ekonomiese groei in 2019 matig te styg, wat die styging in die regering se skuldlas kan beperk.

S&P wy verskeie paragrawe aan die voorgestelde grondonteiening sonder vergoeding.

“Hoewel onteiening sonder vergoeding sommige ondernemings sal noop om ’n belegging in die land te heroorweeg, verwag ons dat die oppergesag van die reg en die toepassing van kontrakte grootliks onveranderd sal bly, en  dat dit beleggingsvlakke in Suid-Afrika nie beduidend sal verhinder nie.

“Ons siening weerspieël ons oorweging van die wigte en teenwigte wat geanker is in die land se institusionele raamwerk, wat ’n grondwetlik onafhanklike regbank insluit.”

Die tesourie het net voor middernag in ’n verklaring gesê S&P se besluit gee die land “’n geleentheid om verdere konkrete maatreëls in werking te stel wat daarop gemik is om die land se groeitrajek om te keer”. “Dié maatreëls sluit in die herprioritisering van staatsbesteding, die skepping van die infrastruktuurfonds sowel as van vennootskappe vir groei.”

Die regering is “vasbeslote” om die land se kredietgraderings in die tyd wat voorlê te verbeter, luidens die verklaring.

Die tesourie sê hy is heeltemal bewus van die risiko’s wat S&P uitlig en beskou die volgende paar maande as deurslaggewend.

“Om Suid-Afrika as ’n aanloklike beleggingsbestemming te posisioneer, sal die regering sy samewerking met die sakesektor, arbeidsektor en burgerlike samelewing verbeter. Nog ’n doelwit van samewerking met ander belanghebbendes is die skepping van ’n beleidsomgewing wat gunstig is vir inklusiewe ekonomiese groei.”

Hier is nog aspekte wat S&P uitgelig het:

Ekonomiese groei

  • S&P verwag ekonomiese groei van 0,8% vir 2018, wat hoër is as die 0,6% wat die Reserwebank Donderdag voorspel het. Op ’n per capita-grondslag gaan die ekonomie met 0,8% daal, raam S&P.
  • Vir 2019, 2020 en 2021 verwag S&P ekonomiese groei van 1,8%, 2,3% en 2,3%, maar beklemtoon dat dit per capita-groei van slegs 0,2%, 0,6% en 0,7% beteken. Dis van die traagste groei in ontluikende markte, met net Katar, Argentinië en Venezuela wat traer sal groei.

Hervormingsagenda

S&P sê hoewel pres. Cyril Ramaphosa breedweg vorige ANC-planne volg, lyk dit asof daar “hernieude stukrag” vir ekonomiese hervorming is. Die gradeerder lig die president se stimulusplan uit, insluitend die klem op infrastruktuur en toerisme; asook die herprioritisering van besteding; en pogings om staatsondernemings om te keer. “As dit suksesvol is, glo ons dié stappe sal ’n positiewe uitwerking op mediumtermyngroei en die stabiliteit van die staat se finansies hê.” 

Verkiesing

S&P verwag dat die regering fiskaal gesproke omsigtig sal wees, maar weens die 2019-verkiesing sal besteding nie besnoei word nie en die regering sal nie sommer belasting wil verhoog nie.

Die kredietgradering van staatskuld by die drie groot kredietgradeerders.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.