Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Moody’s en Fitch gradeer SA af, S&P nié

Moody’s Investors Service en Fitch Ratings het Suid-Afrika vir die tweede keer in een jaar afgegradeer, tot dieper onder beleggingsgraad.

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het aangekondig hy laat Suid-Afrika se graderings onveranderd en behou sy stabiele vooruitsig.

Die wêreld se drie groot kredietgraderingsagentskappe het hul aankondigings die een ná die ander Vrydagnag - ná die sluiting van markte in die VSA - uitgereik.

Kredietgradeerders se besluite beïnvloed die waarde van die rand.

Moody’s, wat staatskuld nou twee vlakke onder beleggingsgraad gradeer, het die vooruitsig op sy graderings negatief gehou, wat die risiko van ’n verdere afgradering binne ses maande hoog hou.

Fitch, wat staatskuld nou drie vlakke onder beleggingsgraad het, het ook sy vooruitsig negatief gehou.

Moody’s sê sy vorige afgradering, in Maart, het die verswakking van die land se kredietprofiel vóór die aanvang van die koronaviruspandemie weerspieël. Die tweede afgradering weerspieël juis “die impak van die pandemieskok, sowel regstreeks op die skuldlas as onregstreeks deur die land se ekonomiese uitdagings en die maatskaplike struikelblokke vir hervorming te vererger.”

S&P se grasie kom ondanks sy skeptisisme oor Tito Mboweni, minister van finansies, se plan om staatskuld in bedwang te bring deur staatsamptenare se verhogings te beperk.

Moody’s beskryf ook die plan met salarisse as “twyfelagtig”.

Fitch is ewe skepties dat loononderhandelinge met staatsamptenare sal slaag, veral in die lig van volgende jaar se munisipale verkiesings.

’n Afgradering en/of verandering in vooruitsig is verwag deur 56% van die ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het.

Redes vir besluite

Fitch se afgradering weerspieël veral sy siening dat die pandemie ’n langdurige impak op ekonomiese groei gaan hê, vererger deur faktore soos beurtkrag, die onbuigsaamheid van die arbeidsmark en die trae plaaslike vraag.

Aan die positiewe kant verwys S&P na die versterking van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens en die Nasionale Vervolgingsgesag ná jare van staatskaping en korrupsie.

Daar word spesifiek melding gemaak van die inhegtenisneming van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, “tot op hede die mees senior dienende amptenaar wat aangekla word sedert pres. Cyril Ramaphosa in 2018 aan bewind gekom het”.

Oor Mboweni se plan met die staat se salarisrekening bly S&P skepties gegewe die mag van vakbonde.

Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, is tot op hede die mees senior dienende amptenaar wat aangekla word sedert pres. Cyril Ramaphosa in 2018 aan bewind gekom het.

S&P sê daar is tekens dat die ekonomie in die derde kwartaal begin herstel het van die uitwerking van die Covid-19-verwante inperkings. Die gradeerder verwag positiewe jaargroei en stadige fiskale konsolidasie van 2021 tot 2023.

S&P se verwagtinge vir die groei in staatskuld stem ooreen met dié wat Mboweni in Oktober in sy mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) gegee het en Fitch is selfs effens meer optimisties as die tesourie. 

Moody’s voorspel egter dat die verhouding van staatskuld tot bruto binnelandse produk (BBP) teen 2024 tot 110% gaan styg, ’n 40%-styging teenoor 2019. Dis teenoor die MTBR se raming dat staatskuld teen 2025 op sowat 95,3% van die BBP sal stabiliseer.

S&P is bekommerd oor die impak van ’n potensiële tweede vlaag Covid-19-infeksies.

Die agentskap sê ook: “Spanning binne die ANC tussen hervormingsgesinde en nie-hervormingsgesinde faksies sal die momentum met hervorming aanhou kniehalter.”

Moody’s sê die ernstige ekonomiese skok van die Covid-19-krisis sal waarskynlik die bestaande wrywing tussen die regering, sakesektor en vakbonde vererger, wat hervorming sal kniehalter.

Oor Ramaphosa se ekonomiese heropbou-en-herstelplan is S&P skepties. “Die groeiplan bevat benaderings wat in die verlede ter sprake was en hang skynbaar af van beduidende betrokkenheid van die private sektor in groot infrastruktuurprojekte. Dit gaan dalk nie vorendag kom nie… Daarby sluit dit ’n plan vir ’n groot openbarewerkeprogram in, wat fiskale druk kan verhoog.”

Fitch sê die regering se prestasiegeskiedenis met die inwerkingstelling van hervorming, soos in die hersteplan voorsien, is “betreklik swak en, selfs indien dit in werking gestel word, sal die uitwerking van hervormings beperk wees en tyd vat om op te bou.”

Oor die vooruitsigte

S&P se vooruitsig vir sy graderings is stabiel danksy die land se “geloofwaardige sentrale bank, buigsame wisselkoers, aktief verhandelde geldeenheid, en diep kapitaalmarkte”, wat vir S&P as teenvoeter vir trae groei en fiskale druk dien.

Moody’s sê hy handhaaf sy negatiewe vooruitsig omdat daar ’n risiko is dat die skuldlas selfs verder agteruit kan gaan. Dis omdat groei en fiskale konsolidasie albei kan vasval.       

Geskiedenis van afgraderings

S&P se vorige afgradering was op 29 April vanjaar, maar die agentskap het staatseffekte wat in buitelandse geldeenhede uitgereik is, reeds in April 2017 – net nadat oudpres. Jacob Zuma Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank het – tot onder beleggingsgraad afgegradeer. Die land is weer in November 2017 afgegradeer, wat staatseffekte in rand ook tot onder beleggingsgraad gebring het.

Fitch het staatseffekte op 3 April vanjaar afgegradeer; dit is ook reeds in April 2017 op rommelstatus gegradeer.

Moody’s het op 27 Maart vanjaar die laaste groot gradeerder geword wat staatseffekte onder beleggingsgraad geskuif het en boonop die negatiewe vooruitsig daarop behou het.

Kredietgradeerders het reeds in Junie ná Mboweni se “noodbegroting” gesê hulle is skepties oor die regering se vermoë om staatskuld te stabiliseer, veral in die lig van die bykomende besteding en laer belastinginkomste wat deur die Covid-19-pandemie en gepaardgaande inperkings veroorsaak is.

Meer oor:  Fitch  |  Moody's  |  S&P  |  Herstelplan  |  Afgradering  |  Kredietgradering  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.