Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
S&P pessimisties oor begroting, ekonomie

Die begroting wat Tito Mboweni, minister van finansies, twee weke gelede ter tafel gelê het, het nie genoeg op ekonomiese hervorming gefokus nie.

The headquarters of Standard and Poors in New York
Suid-Afrika se kredietgradering gaan van ekonomiese groei en fiskale konsolidasie afhang. Foto: Getty Images.

So meen Ravi Bhatia, ontleder van die kredietgradeerder Standard & Poor’s Global Ratings (S&P).

Volgens Reuters het Bhatia op ’n aanlyn voorlegging gesê die gebrek aan hervorming beteken ’n volgehoue herstel in ekonomiese groei is onwaarskynlik.

Dit kom nadat Statistieke Suid-Afrika Dinsdag aangekondig het dat die ekonomie in 2020 met 7% ingekrimp het.

LEES OOK: -7%: Só ‘groei’ SA ekonomie in 2020

Ekonome voorspel groei van tussen 3% en 4% vir 2021, maar dit word teen die baie lae basis van 2020 af gemeet. Suid-Afrika se bruto binnelandse produk per capita is nou so laag soos in 2005, en ekonome verwag dat dit selfs tot 2025 kan duur voordat die ekonomie weer so groot soos in 2019, die jaar voordat die Covid-19-pandemie Suid-Afrika getref het, is.

S&P het nog nie ’n amptelike verklaring sedert Mboweni se begrotingsrede op 24 Februarie uitgereik nie.

Volgens Reuters het Bhatia gesê: “Daar was ’n bietjie nuwe momentum oor die druk vir strukturele hervorming, maar dis nogal yl, en die begroting was weer meer ’n soort oefening in fiskale beheer as ’n oefening in strukturele hervorming.

“Daar is geen rede om werklik groot, volgehoue herstel in die groeitrajek vorentoe te verwag nie. Dit is kommerwekkend.”

Moody’s Investor Service en Fitch Ratings, die ander twee groot kredietgradeerders, het net ná die begrotingsrede gesê dit gaan nie maklik wees om die begroting deur te voer nie.

LEES OOK: Politiek kan Tito se planne kelder

Albei skryf in hul ontleding daarvan dat hulle twyfel of skuldkonsolidasie so vinnig behaal gaan word as wat die tesourie nou voorspel.

Die begroting wentel daarom dat die staat se salarisrekening stadiger gaan styg as wat voorheen voorsien is.

Fitch beskou die salarisvraagstuk as “polities uitdagend”.

“Die politieke kalender sal ook die regering se onderhandelingsposisie verswak. Plaaslike verkiesings word later in 2021 gehou en spanning met sy vakbonde kan die regerende party se prestasie by die stembus beïnvloed. Voortslepende konflik in die ANC, veral oor bestuursprobleme, is nou op ’n kritieke punt en kan ook die regering se onderhandelingsposisie verswak,” het Fitch geskryf.

Fitch en Moody’s is albei bekommerd dat staatsondernemings soos Eskom nog reddingsboeie van die staat gaan benodig, hoewel geen nuwe hulp in die begroting toegeken is nie.

Moody’s het ook gewaarsku dat die pandemie groot onsekerheid skep. Nuwe variante en trae inentings kan boonop verdere probleme veroorsaak.

Staatskuld word by al drie die gradeerders op twee of drie vlakke onder beleggingsgraad gegradeer.

Meer oor:  S&P  |  Herstelplan  |  Afgradering  |  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Rommelstatus  |  Kredietgradeerders  |  Kredietgradering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.