Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
S&P raak negatief oor SA gradering

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P) het Suid-Afrika se kredietgradering Vrydagaand onveranderd gehou, maar die vooruitsig daarvoor van stabiel na negatief verander.

Gaan S&P tot Februarie 2020 se begrotingsrede wag voordat hy Suid-Afrika se gradering verander?

Dit beteken die volgende stap is na alle waarskynlikheid ’n verdere afgradering binne die volgende jaar of wat – tensy die regering sy fiskale posisie kan verbeter.

Dis egter dalk nie nét slegte nuus nie.

Die ekonoom Razia Khan reken S&P se besluit verskaf ’n groter politieke dekmantel waaronder die tesourie kan druk vir versnelde hervorming.


S&P het Suid-Afrika reeds in 2017 tot rommelstatus afgegradeer.

Die meerderheid ekonome het die verandering in vooruitsig verwag ná Tito Mboweni, minister van finansies, se uiters kommerwekkende mediumtermynbegrotingsraamwerk van Oktober.

In sy verslag skryf die kredietgradeerder die land se trae ekonomiese groei, groter begrotingstekort en stygende skuldlas “doen afbreuk aan Suid-Afrika se fiskale maatstawwe”.

“Tensy die regering stappe doen om die fiskale tekort te beheer en ons volgehoue momentum vir hervorming waarneem, beskou ons dit as onwaarskynlik dat staatskuld binne ons driejaar-voorspellingstydperk sal stabiliseer.”

Schalk Louw van PSG Invest het op Twitter gesê “ouch” met verwysing na S&P se verdoemende blik op die land se ekonomie en geldsake.

S&P gradeer staatseffekte in buitelandse geldeenhede op twee vlakke onder beleggingsgraad en staatseffekte in rand op een vlak onder beleggingsgraad. 

S&P sê hy sal Suid-Afrika afgradeer as die fiskale situasie verder agteruitgaan, wat kan volg as daar druk kom op die staat om meer geld te bestee of as die staat duurder vir sy skuld moet betaal – maar vernaam as staatswaarborge vir staatsondernemings, veral Eskom, realiseer.

Swakker ekonomiese groei kan ook tot ’n afgradering lei.

“Ons sal die vooruitsig na stabiel hersien as die regering geloofwaardig die styging in die netto staatskuld in verhouding tot die bruto binnelandse produk stuit, fiskale tekorte beheer, en staatsondernemings regruk. Ons kan ook die vooruitsig hersien as ons ’n beduidende verbetering in die vooruitsig vir ekonomiese groei sien.”

Uit die vyf ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, het drie verwag dat die vooruitsig in negatief verander gaan word, een het ’n volslae afgradering verwag en een het geen verandering (in gradering óf vooruitsig) verwag nie.

“Faksie-verskille binne die regerende ANC-party bedreig die hervormingsmomentum wat deurslaggewend is om ekonomiese groei aan die brand te skop,” sê S&P.

S&P se besluit kom nadat Moody’s Investors Service – die laaste groot kredietgradeerder wat Suid-Afrika op beleggingsgraad hou – begin November sy vooruitsig vir die gradering van stabiel in negatief verander het. Moody’s het toe gesê die Februarie-begrotingsrede gaan deurslaggewend wees vir sy volgende graderingsbesluit.

Die onmiddellike gevolg van die verandering in vooruitsig na negatief kan ’n verswakking in die rand wees.

Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec, meene die rand kan tydelik met tussen 10c en 20c teenoor die dollar verswak.

Elize Kruger van NKC Africa Economics reken S&P se besluit is reeds ingeprys in die waarde van die rand.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.