Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
S&P se gradering: Dís wat vanaand voorlê

Terwyl die meeste mense vanaand dalk braaivleis hou of gaan fliek, gaan ekonome, batebestuurders en heelwat sakelui op hete kole wag wanneer Suid-Afrika se kredietgradering weer onder die loep kom.

En dit lyk asof die meeste maar slegte nuus verwag.

Gaan S&P tot Februarie 2020 se begrotingsrede wag voordat hy Suid-Afrika se gradering verander?

Standard & Poor’s Global Ratings (S&P), wat Suid-Afrika reeds in 2017 tot rommelstatus afgegradeer het, neem laataand sy sesmaandelikse graderingsbesluit.

S&P gradeer staatseffekte in buitelandse geldeenhede op twee vlakke onder beleggingsgraad en staatseffekte in rand op een vlak onder beleggingsgraad. Die vooruitsig vir die gradering is tans stabiel.

Uit die vyf ekonome wat aan Netwerk24 se peiling deelgeneem het, verwag drie dat die vooruitsig in negatief verander gaan word, een verwag ’n volslae afgradering en een verwag geen verandering (in gradering óf vooruitsig) nie.

S&P se besluit kom nadat Moody’s Investors Service – die laaste groot kredietgradeerder wat Suid-Afrika op beleggingsgraad hou – begin November sy vooruitsig vir die gradering van stabiel in negatief verander het. Moody’s het toe gesê die Februarie-begrotingsrede gaan deurslaggewend wees vir sy volgende graderingsbesluit.

Wat gaan besluit bepaal?

Die belangrikste faktor in S&P se besluit vanaand is die skerp styging in Suid-Afrika se staatskuld in verhouding tot bruto binnelandse produk (BBP), wat by 70% kan draai, sê Annabel Bishop, hoofekonoom van Investec. Sy verwag ’n verandering in die vooruitsig van die gradering.

Emile du Plessis, ekonoom van Finometrica, sê met die land se skuldvlak is groei onvolhoubaar. Hy verwag ’n volslae afgradering.

Elize Kruger, senior ekonoom van NKC African Economics, reken die vooruitsig gaan in negatief verander word weens die “benarde fiskale vooruitsigte te midde van teleurstellend lae ekonomiese groei”.

Prof. Jannie Rossouw, hoof van die skool vir ekonomiese en sakewetenskappe aan die Universiteit van die Witwatersrand, verwag geen verandering nie omdat hy sê die regering het hom daartoe verbind om staatsfinansies beter te bestuur. “Die kredietgraderingsagentskappe gaan dus tot Februarie 2020 se begroting wag voordat hulle veranderings aankondig.”

Abri du Plessis, portefeuljebestuurder by Gryphon Batebestuur, sê S&P sal die druk in ag neem wat staatsondernemings op skuldvlakke plaas. Veral Eskom en die Suid-Afrikaanse Lugdiens se skuldvlakke wek op die oomblik kommer. Du Plessis verwag ’n verandering in die vooruitsig.

Wat is die gevolg van ’n afgradering of verandering in vooruitsig?

Die onmiddellike gevolg van ’n afgradering of verandering in vooruitsig na negatief kan ’n verswakking in die rand wees.

Emile du Plessis verwag dat ’n verdere afgradering die rand sal laat verswak.

Bishop, wat ’n verandering in vooruitsig verwag, sê dis grotendeels klaar ingeprys, maar die rand kan tydelik met tussen 10c en 20c teenoor die dollar verswak.

Rossouw, Abri du Plessis en Kruger reken S&P se besluit is reeds ingeprys in die waarde van die rand.

’n Volgende gevolg – wat op sigself ook ’n invloed op die rand sal hê – is ’n moontlike verdere onttrekking van buitelandse beleggers aan staatseffekte. Dit sal nie nét deur die S&P-besluit gemotiveer wees nie, maar ook

Reuters berig dat buitelandse beleggers reeds sedert 2017 hul geld aan Suid-Afrika begin onttrek, eerder as om te wag tot finale afgradering deur Moody’s.

Die persentasie wat internasionale fondsbestuurders in vaste-inkomsteprodukte aan Suid-Afrika toewys, het van 13,5% van bates onder bestuur vyf jaar gelede tot net 2,3% einde September getuimel, volgens EPFR, ’n navorsingsfirma oor kapitaalvloei.

Volgens EPFR het baie van die kapitaal in 2015 uitgevloei toe baie ontluikende lande onder druk gekom het toe hulpbronpryse geval het.

Die toewysing het egter in April 2017 gehalveer ná die afgradering deur eers Fitch Ratings en toe S&P, en ’n negatiewe vooruitsig deur Moody’s, wat later die jaar weer in stabiel verander is en eers weer in November negatief gemaak is.

Nedbank raam dat die uitvloei van buitelandse geld uit Suid-Afrikaanse effekte vir die jaar tot dusver reeds byna R31,5 miljard beloop. Tussen R11,25 miljard en R75 miljard gaan na verwagting landuit vloei indien Moody’s die land afgradeer.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.