Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Spertyd vir entstof g’n misgeloop, raas Tito

Die spertyd vir Suid-Afrika se betaling van R500 miljoen om deel te wees van ’n Covid-19-entstofprogram is glad nie misgeloop nie, het Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydag in die parlement gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Die spertyd is eers 15 Desember en die Solidariteitsfonds staan gereed om die geld te betaal, het Mboweni gereageer op ’n vraag van Geordin Hill-Lewis, DA-parlementslid.

Hill-Lewis wou in die debat oor die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) by Mboweni weet hoe hy dit regverdig dat die entstof-spertyd misgeloop word, maar dat R1,5 miljard sommer al Donderdag aan die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL) betaal is nog voordat die wetgewing goedgekeur is wat die MTBR moet bekragtig.

Volgens Hill-Lewis gaan die DA regstappe doen teen die regering se besluit om geld aan die SAL te betaal voordat die nodige wetgewing daarvoor deur die parlement bekragtig is.

Sfiso Buthelezi, voorsitter van die staande komitee oor toedelings, het die staat se steun van R10,5 miljard aan die SAL verdedig en gesê voorstelle om die lugdiens te verkoop, sal net beteken sy bates sal vir weggeepryse verkoop word, tot nadeel van die staatskas.

Omphile Maotwe, EFF-parlementslid, het gesê die EFF stem teen die MTBR want dit weerspieël volgens haar bloot die “Amerikaanse regtervleuel se ekonomiese ideologie wat alles wil privatiseer”.

clicks, hareherrie, menlyn mall
Omphile Maotwe (in swart), tesourier-generaal van die EFF, lei betogers buite die Clicks-tak in die Menlyn Mall in Pretoria vroeër vanjaar. Foto: Gallo Images

Maotwe het protes aangeteken teen die sny van die begroting vir plaaslike regerings, terwyl hulle kritieke dienste moet lewer.

Hill-Lewis het in sy spreekbeurt gemeen die MTBR wys die Ramaphosa-regering is nie geloofwaardig nie en gee nie om vir die armes nie.

Volgens Hill-Lewis het Mboweni vroeër beloof daar sal geen meer reddingsboeie vir die SAL wees nie, en dat die staat die staatsdiens se salarisrekening in toom gaan hou. Maar nou gee die staat al R1,5 miljard van die R10,5 miljard aan die SAL nog voordat die parlement die MTBR bekragtig het, en R27 miljard word soos ’n wortel voor die staatsdiensvakbonde gehang “om die probleem te laat weggaan”.

Volgens hom is dit immoreel om noodsaaklike dienste in te kort om die SAL te finansier.

Byna R1 uit elke R2 wat die staat bestee, is geleende geld. Die gemiddelde Suid-Afrikaner is armer as ’n dekade gelede, het Hill-Lewis gesê.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP. Foto: Lerato Maduna

Die ANC-regering het die land op ’n eenrigtingbaan na nasionale bankrotskap geplaas, sê hy, maar waar die DA regeer, is daar respek vir openbare geld. “Ons lok beleggings waar ons regeer.” Hy het ’n lys van internasionale maatskappye gegee wat R7,8 miljard se nuwe beleggings na gebiede beloof het waar die DA regeer. Selfs die internasionale internetreus Google het ’n belegging van R2,2 miljard in Kaapstad se ekonomie beloof.

Mboweni het in sy repliek verduidelik die land is in ’n totaal ander internasionale en binnelandse omgewing sedert Februarie. Die regering moes sy planne sedert Februarie totaal verander en sedert Junie aansienlik verander. Die laer groei in die internasionale en plaaslike ekonomieë beteken inkomste- en uitgaweprojeksies moes aangepas word.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.