Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Spesiale Eskom-wet g’n blanko tjek, sê Tito

’n Spesiale toedelingswetsontwerp sal op 23 Julie by die parlement ingedien word om ekstra geld vir Eskom te kry, het Tito Mboweni, minister van finansies, Donderdagaand gesê.

Tito Mboweni, minister van finansies.

Sodra die huidige toedelingswetsontwerp goedgekeur is, sal verdere stappe gedoen word om ook ekstra staatsteun aan die SAL, Denel en die SAUK te gee. Dit sal egter nie ’n blanko tjek wees nie, sê Mboweni.

“Dit kan nie so aangaan nie,” het hy in die nasionale tesourie se begrotingsposdebat in die parlement gesê.

“Verskeie maatskappye behaal wins in lugvaart en uitsaaiwese en lewer goeie diens, maar van ons staatsondernemings in dieselfde sektore en onderhewig aan dieselfde handelstoestande sukkel om kop bo water te hou en is van staatshulp afhanklik.”

Eskom is tans egter die grootste risiko vir die staatskas en daar is te veel op die spel as Eskom sou ineenstort.

Die vyf goed wat ekonomiese groei belemmer is ondoeltreffende en swak dienslewering deur die staat, swak onderwysresultate, swak produktiwiteit, ongelykheid en werkloosheid, sê Mboweni.

Geordin Hill-Lewis, die DA se hoofwoordvoerder oor finansies, waarsku dat die staatskas opgeslurp word deur die reddingsboeie aan Eskom en nog reddingsboeie wat op pad is na Denel, die SAL en die SAUK. Dit sal die nasionale tesourie se verbintenis tot skuldplafonne aan flarde skeur en sal die regering met nog hoër skulddienskoste opsaal, wat teen 2023 reeds by R277 miljard sal trek.

Mboweni moet ten alle koste verseker dat Suid-Afrika sy beleggingsgraad-kredietgradering by Moody’s behou en sy beleggingsgraad terugwen by die ander kredietgraderingsagentskappe, sê Hill-Lewis.

Die DA gaan wysigings aan die wetsontwerp oor toedelings indien om vermorste uitgawes uit te skakel sodat die geld na groter besteding by die departement van polisie, arbeid, onderwys en gesondheid gekanaliseer kan word.

Hill-Lewis wil ook die privateledewetsontwerp van sy voorganger David Maynier laat herleef om fiskale reëls in te stel om die begrotingstekort en staatskuld te verminder.

Meer oor:  Suid-Afrikaanse Lugdiens (Sal)  |  Sauk  |  Denel  |  Eskom  |  Tito Mboweni  |  Staatsondernemings  |  Staatskas  |  Skuld  |  Reddingsboeie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.