Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staat bestee méér aan salarisse, wyl private sektor besnoei

Die private sektor is beduidend harder gekap deur die staat van inperking as die staatsdiens.

salarisverhogings
'n Argieffoto van werkers wat in Midrand betoog vir salarisverhogings. Foto: Felix Dlangamandla

Terwyl die meeste maatskappye hul salarisrekening skerp besnoei het – deur mense af te lê, hul skofte te verminder of salarisse, bonusse en oortyd te verminder –

het die staat se salarisrekening steeds gestyg.

Charles Simkins, hoofnavorser van die Helen Suzman-stigting, wys in sy ontleding van die rampspoedige bruto binnelandse produk (BBP) wat Statistieke Suid-Afrika dié week bekend gestel het, dat die private sektor se pyn baie groter was as dié van die staatsdiens.

Die BBP het in die tweede kwartaal met 16,4% ingekrimp op ’n kwartaalgrondslag, vir ’n geannualiseerde groeikoers van -51%.

Simkins wys daarop dat die bedrywe wat die swaarste getref is, grootliks in die private sektor is, insluitend spyseniering en akkommodasie; vervoer, berging en kommunikasie; vervaardiging; konstruksie; en mynbou en steengroewe.

Dié bedrywe se totale vergoeding aan werknemers het met 12,5% gedaal, van ’n totale vergoedingspakket R251 miljard tot R219 miljard in die tweede kwartaal.

Dis meer as die gemiddelde vergoedingspakkette vir alle werknemers, wat met 6,2% ingekrimp het.

Die enigste bedryf in die private sektor waarvan die vergoeding gestyg het, met 3,6%, was in die landbou, wat ook die sektor was wat ekonomiese groei getoon het (van 15,1%).

Helen Suzman Stigting
Die embleem van die Helen Suzman Stigting, 'n navorsingsinstelling wat in 1993 ter ere van die eertydse parlementslid Helen Suzman gestig is. Suzman was in die apartheidstyd in 'n stadium vir 13 jaar die enigste lid van die Progressiewe Party in die parlement. Die stigting bevorder 'n liberale, grondwetlike demokrasie en die oppergesag van die reg.

Simkins verduidelik dit is omdat die landbou grootliks onaangetas is deur die staat van inperking en dus byna soos normaal kon voortgaan.

Die staatsdiens se vergoeding het in dieselfde tydperk met 2,8% gestyg, van R181 miljard tot R186 miljard.

Staatsamptenare het tydens die staat van inperking hul volle salaris ontvang. Gegewe dat verhogings in die staatsdiens vanjaar bevries is – wat vakbonde steeds in die hof betwis – is die hoër totale vergoeding waarskynlik danksy nuwe aanstellings en bevorderings.

Dis ondanks die feit dat baie staatsdepartemente amper geheel en al gesluit was tydens die eerste vlakke van die staat van inperking.

Volgens Simkins is dit van die uiterse belang dat dié feite in ag geneem word wanneer die regering weer met sy werknemers begin onderhandel vir die volgende paar jaar se salarisverhogings. Onderhandelinge oor die volgende drie jaar se verhogings, wat in April volgende jaar toegepas moet word, begin in Oktober.

“Die ongelykheid tussen die impak op die private sektor en die vergoeding van werknemers in die openbare sektor moet in ag geneem word wanneer lone en salarisse in die openbare sektor vir die volgende paar jaar bepaal word.”

Hy sê verhogings kan nie bekostig word nie en die staatsdiens kan nie aanhou om hoër salarisse te betaal terwyl die res van die land verhogings prysgegee het nie.

Meer oor:  Private Sektor  |  Salarisse  |  Bbp  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.