Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staat se toevlug tot hof troef militante se logika

In reaksie op die loongeskil in die staatsdiens: Daar is ’n algemene indruk van ’n té groot staatsdiens met ’n oordrewe salarisrekening en staatsamptenare wat nie ’n salarisverhoging verdien nie.

Gideon du Plessis

Dit moet erg negatief inwerk op die moreel van vaardige en hardwerkende staatsamptenare wat wel ’n verhoging verdien.

Die salarisverhogingstryd lê ongelukkig nie tussen die goeie werknemers en die bankrot staat nie, maar is eerder ’n politieke en ideologiese geveg tussen kamerade.

Soos die regering weet dat die staatsdiens se salarisrekening reeds voor Covid-19 onbekostigbaar was, weet die populistiese staatsdiensvakbonde – wat in die strate en deur regstappe vir staatsamptenare se verhogings veg – ook dat die staatskas weens Covid-19 se impak leeg is. Die voortgesette stryd maak uit dié vakbonde se oogpunt wel sin.

Eerstens is ’n vakbond ’n ledeorganisasie en moet daar volgens ’n ledemandaat opgetree word. In dié geval ervaar die meeste staatsamptenare, soos talle ander burgers, finansiële druk en word ’n salarisverhoging werklik benodig.

Sommige staatsamptenare snap die geldige teenargument dat staatsamptenare, vergeleke met werkers in die private sektor, gelukkig is om nie deur aflegging in die gesig gestaar te word nie, maar die meerderheid se uitkyk is beperk tot hul eie geldnood en dít bepaal die vakbondmandaat.

Tweedens besef die Cosatu-geaffilieerde staatsdiensvakbonde indien hulle nie protesteer en presteer nie, Saftu – die militante opposisie-vakbondfederasie – bloot die geveg gaan oorneem en lede gaan afrokkel.

Cosatu en Saftu is albei ook werkgewers en hul eie finansiële oorlewingstryd beteken dat hulle radikaal sal optree om hul ledebasis te behou en uit te brei. Hulle weet ook as staatsamptenare se salarisse verhoog word, die betrokke vakbonde hul lidmaatskapsgeld kan verhoog en almal wen.

Derdens het die regering nie die morele oorhand in die geveg nie en kan hy nie sy 0%-verhoging met gesag en geloofwaardigheid verdedig nie. Die staatskas kan dalk wel leeg wees, maar politieke staatskapers se eie bankrekenings loop oor danksy die plundering van die staatskas.

Hoewel dit ’n drogredenasie is, voer die vakbond Nehawu aan dat die miljarde rande wat gesteel is, bewys dat daar baie geld in die staat se beursie moet wees. Die Vrystaatse asbes-ouditkontrak, waar R255 miljoen geplunder is, die korrupsie-sage om persoonlike beskermende toerusting en die Zondo-kommissie se bevindinge toon dit.

Cosatu en Saftu is albei ook werkgewers en hul eie finansiële oorlewingstryd beteken dat hulle radikaal sal optree om hul ledebasis te behou en uit te brei.

Vierdens is daar die sterk ideologiese dryfveer om uit ’n sosialistiese perspektief te argumenteer dat werkers nie uitgebuit mag word deur die prys van wanbestuur te moet betaal nie – ’n uiters logiese argument as Karl Marx se leerstellings as riglyn dien.

Laastens kan die weerstand bloot takties wees omrede vakbonde weet dat staatsamptenare en -vakbonde nie as die regerende party se verkiesingsvennote vervreem mag word nie. Met genoeg druk kan ’n trapsgewyse verhoging of ’n kleiner verhoging vir minstens die intreevlakwerkers afgedwing word.

Dat die regering die arbeidshof gevra het om die afdwingbaarheid van die bestaande loonooreenkoms ongrondwetlik te verklaar, is ’n vreemde regstap, maar dit kan op die ou end uitkoms vir alle rolspelers bied.

As die hof die regering gelyk gee dat hy nie aan die bestaande loonooreenkoms kan of hoef te voldoen nie, sal dit nie net ’n oorwinning vir die regering wees nie, maar sal dit ook graderingsagentskappe en beleggers se goedkeuring wegdra.

Op die ou end sal die staatsdiensvakbonde wat hulself so in ’n hoek gedryf het, ook verlig wees as hulle agter ’n hofuitspraak kan skuil.

As die hof nie die regering se regsargument steun nie, is die kans groot dat hy die partye na die onderhandelingstafel sal terugdwing eerder as om ’n uitspraak teen die regering te lewer. As die uitspraak wel teen die regering is en die hof die loonooreenkoms afdwing, kan die regering slegs met eer uit die stryd tree deur derduisende staatsamptenare af te lê en ’n doeltreffende prestasiebestuurstelsel in te stel.

Die regering sal waarskynlik eerder teen ’n ongunstige beslissing appelleer.

Hoe ongewoon die regering se regsaansoek ook mag wees, troef dit wel die populistiese vakbonde se logika.

  • Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.
Meer oor:  Gideon Du Plessis  |  Staatsamptenare  |  Stakings  |  Vakbonde  |  Saftu  |  Cosatu  |  Staatsdiens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.