Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
‘Staat sit apartheid-vervoerstelsel voort’

Ondanks beleggings van miljarde rand het die regering bloot die openbare vervoerstelsel van apartheid voortgesit met minibustaxi’s wat die leemte moet vul.

’n Voorbeeld van ’n oorvol trein van Metrorail, filiaal van Prasa. Die foto is bewerig weens die fotograaf se haas om sy selfoon weer weg te steek weens vrees vir sakkerollers en grypdiewe op stasies en in oorvol treine. Foto: Fransois Williams

Dit is deel van die bevindinge in ’n voorlopige verslag van die Mededingingskommissie oor sy ondersoek na openbare vervoer wat Woensdag in Pretoria bekend gemaak is.

Die kommissie se grootste griewe handel oor die totale afwesigheid van wat hy noem ’n “openbare vervoerstelsel” in Suid-Afrika en sê daar is geen integrasie tussen die verskillende vorms van openbare vervoer nie. Dit laat miljoene uit die prentjie, stoot pryse op en die uiteinde is ’n ondoeltreffende vervoerstelsel.

“Die sleutelrol van minibustaxi’s in Suid-Afrika se openbare vervoer is opmerklik,” sê Tembinkosi Bonakele, kommissaris van die Mededingingskommissie.

“Hulle is in der waarheid die kern van ’n vervoernetwerk wat miljoene mense vervoer.”

Die regering het nog min gedoen om ’n ware vervoerstelsel op te bou, hetsy deur beleid of subsidies. Die rol van minibustaxi’s het dus al hoe groter geword, terwyl treine en busse al hoe meer agteruitgaan.

Die kommissie sê in sy verslag die deursnit-Suid-Afrikaner bestee sowat 20% van sy inkomste aan openbare vervoer. In ander ontwikkelende lande is dit gewoonlik 10%. Dit dui dus op sowel die groter behoefte aan vervoer in Suid-Afrika as die hoër prys daarvoor.

Van alle pendelaars gebruik 66,5% minibustaxi’s vir vervoer, 23,6% gebruik busse en slegs 9,9% maak gebruik van treine.

Subsidies volg egter glad nie die land se gebruikspatrone nie, bevind die verslag.

“Die subsidie-raamwerk van die apartheidsera is in 1994 bloot oorgeneem deur die regering,” skryf die kommissie. Selfs die patroon om bloot ’n stelsel in plek te hê om swart mense in en vinnig weer uit die stad te kry, is “onveranderd”.

As jy treine subsidieer, is jy eintlik besig om Kaapstad, wat by verre die meeste treingebruikers het, te subsidieer.
Tembinkosi Bonakele

Minibustaxi’s wat 15 miljoen pendelaars per dag vervoer, kry sowat 1% van die subsidies vir openbare vervoer, terwyl busse (23,6% van pendelaars) 42% kry en treine (9,9% van pendelaars) 57%.

“Subsidies is nie verwant aan watter soort vervoer die meeste gebruik word nie,” sê Bonakele.

“As jy treine subsidieer, is jy eintlik besig om Kaapstad, wat by verre die meeste treingebruikers het, te subsidieer.”

Die Gautrein op sy eie kry ook 6% van alle subsidies. Volgens die kommissie is subsidies dus elitisties.

LEES OOK: Gautrein was ‘enorme fout’, sê kommissaris

Die kommissie het ’n reeks aanbevelings gedoen om die nalatenskap van apartheid, sowel as die onmededingende en ondoeltreffende aard van Suid-Afrika se openbare vervoer, hok te slaan.

Die treffendste aanbeveling is om die bestuur van openbare vervoer te begin afwentel van die nasionale departement na nuwe provinsiale of selfs munisipale owerhede.

“Vir doeltreffende beplanning moet dit gebeur op die laagste moontlike vlak van regering,” sê Bonakele. Hoe nader die bestuur van openbare vervoer is aan die gebruikers, hoe beter sal dit begin aan hul behoeftes voldoen.

Die kommissie beveel byvoorbeeld uitdruklik aan dat die Kaapstadse metroraad die bestuur van Metrorail oorneem om dienste te verbeter, en het ’n soortgelyke aanbeveling vir Metrorail in Johannesburg, wat ook die Gautrein sal betrek.

Die toewysing van subsidies sal dus ook afgewentel moet word tot dieselfde vlak as die bestuur van dienste sodat elke provinsie of metro self kan besluit hoe en waar geld nodig is.

Bonakele verwys na die mislukking van die Bus Rapid Transit- (BRT) projekte in verskeie stede as ’n voorbeeld van hoe swak roetes beplan en verkeerde beleggings gedoen word as besluite nie op ’n laer vlak van die regering geneem sal word nie.

Die kommissie beveel wel ook aan om ’n ware openbare vervoerstelsel te skep sal beteken dat treine, busse en minibustaxi’s as een stelsel bedryf moet word, met uiteindelik een kaartjiestelsel wat toegang bied tot die hele vervoerstelsel.

As die verskillende vorms van vervoer egter nie verenig word in een stelsel nie, waarsku Bonakele dat dit nie net swak vervoer en hoër pryse gaan meebring nie, dit gaan ook tot toenemende geweld lei omdat almal met almal meeding vir dieselfde dienste en roetes.

“Daar sal nie gesonde mededinging wees totdat nuwe mededingers en oplossings maklik die mark kan betree nie. En nie nuwe mededingers sal nie toetree as hulle dalk met hul lewe daarvoor sal moet betaal nie,” sê Bonakele oor die geweld wat volg wanneer nuwe vorms van vervoer beplan word.

Treine, busse en minibustaxi’s kan elkeen deel van die stelsel wees, maar ’n totaal nuwe benadering van regeringskant is nodig, sê die kommissie.

Meer oor:  Metrorail  |  Prasa  |  Apartheid  |  Treine  |  Busse  |  Markondersoek  |  Openbare Vervoer  |  Minibus-Taxi
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.