Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staat verloor meer inkomste as dit wat hy leen
Tito Mboweni, minister van finansies, en dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake. Foto: Getty Images

Suid-Afrika het meer belastinginkomste in die eerste drie en ’n half maande van die fiskale jaar verloor as wat hy saam van die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) en Afrika Ontwikkelingsbank (AOB) geleen het.

Die staat van inperking wat aanvanklik bykans alle ekonomiese bedrywighede tot stilstand laat knars het, het daartoe gelei dat Jan Taks R82 miljard minder ingevorder het in die huidige fiskale jaar tot en met 15 Julie, het Edward Kieswetter, kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), Vrydag in ’n onderhoud met Bloomberg gesê.

Die inperkingsregulasies en toegewings om die impak daarvan op ondernemings te versag, het tot die daling in inkomste bygedra. Die verkoop van tabakprodukte is nou al vier maande lank verbode en die alkoholverbod geld opnuut sedert 13 Julie.

In die drie maande tot einde Junie was daar ’n onderverhaling van R47 miljard, met aksyns op alkohol, tabak en brandstof wat 42% laer was as in die ooreenstemmende tydperk verlede jaar.

Om die beleërde ekonomie te help het die regering $4,3 miljard van die IMF geleen, R5 miljard van die AOB en $1 miljard van die Nuwe Ontwikkelingsbank (NOB).

In die Februarie-begroting het die regering besluit om nie inkomstebelasting te verhoog nie weens die swak ekonomie en eerder daarop gefokus om die belastingbasis te verbreed.

Die tesourie het sedertdien gesê hy sal R40 miljard se bykomende belasting moet invorder oor die volgende vier jaar.

“Die werklikheid is dat ons reeds in Februarie R40 miljard ekstra benodig het,” het Kieswetter gesê. “Nou is daardie behoefte aansienlik groter as net R40 miljard weens die koronaviruspandemie.”

Terwyl sommige inperkingsregulasies al verslap is, het talle ondernemings hul deure permanent gesluit en die werkloosheidskoers van 30,1% gaan net vererger wat verdere druk op belastinginvordering gaan plaas.

In die aanvullende begroting in Junie het die regering sy vooruitsig vir inkomste vir die jaar met meer as R300 miljard verklein.

Die SAID gaan saam met die tesourie en die Reserwebank werk aan voorstelle vir die hoofbegroting wat deur Tito Mboweni, minister van finansies, in Februarie 2021 voorgelê sal word.

Mboweni het in Junie aan kliënte van twee van die land se grootste banke gesê dat daar tans geen planne is om inkomste, korporatiewe belasting of belasting op toegevoegde waarde te verhoog in die komende jaar nie. Maar die tesourie bekyk die moontlikheid van ’n erfenisbelasting en ’n sogenaamde solidariteitsbelasting om inkomste te vermeerder.

Belasting op die rykes geniet baie politieke steun.

Suid-Afrika se topinkomstebelastingkoers is 45%, korporatiewe belasting is 28% en BTW is 15%.

Daar is betreklik min ruimte om belasting te verhoog gegewe dat belasting as persentasie van die bruto binnelandse produk (BBP) tans 26% beloop – beduidend hoër as die internasionale gemiddelde van 15%, luidens data van die Wêreldbank.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.