Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staats-amptenare 'doen fluks sake met staat'
Nhlanhla Nene, minister van finansies.

Net meer as 2 700 staatsamptenare doen fluks sake met die regering vir ’n inkomste van tot R8 miljard, wys ’n oorsigverslag oor openbare verkrygings wat Nhlanhla Nene, minister van finansies, verlede week in die parlement ter tafel gelê het.

Die verslag handel oor die tydperk van 1 April 2017 tot 31 Januarie 2018, luidens ’n verklaring wat David Ross, DA-parlementslid, daaroor uitgereik het.

Ross, lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê hy gaan aan Themba Godi, voorsitter van Skoor, skryf om te vra dat Nene asook Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie, oor dié oortredings van die Wet op Openbare Dienste verantwoording doen.

Staatsamptenare wat met die staat sake doen, het ingevolge die openbaredienste-regulasies van 2016 tot einde Januarie verlede jaar tyd gehad om uit die staatsdiens te bedank of hul sakebelange met die staat prys te gee.

Die Wet op die Bestuur van Openbare Administrasie het boonop ’n ekstra bepaling wat staatsamptenare dwing om hul finansiële belange te openbaar. Teen einde verlede jaar het 9 689 senior staatsamptenare wel bekend gemaak dat hulle private beleggings of belange in maatskappye het.

Ayanda Dlodlo, minister van staatsdiens en administrasie.

Ross meen die wetsoortredings deur die staatsamptenare wat met die staat sake doen, druis in teen enige pogings van die staat om “die siekte van staatskaping” uit te roei.

  • Intussen wys ’n verslag van die ouditeur-generaal oor die departement van openbare werke se uitgebreide openbarewerke-program dat dié program onder swak administrasie en korrupsie gebuk gaan. Dit sluit betalings aan spookwerkers en individue sonder identiteitsdokumente in, en dan is daar nie voldoende dokumentêre bewyse van al die betalings nie.

Die verslag is Dinsdag aan die parlement se portefeuljekomitee oor openbare werke voorgelê. Malcolm Figg, DA-woordvoerder oor openbare werke, sê hy gaan aan Thulas Nxesi, minister van openbare werke, skryf om vir ’n volskaalse ondersoek na die uitgebreide openbarewerke-program te vra.

Die ouditverslag wys dat:

  • die begunstigdes van sommige projekte van die openbarewerke-program in sommige gevalle al dood is;
  • die ID’s van sommige begunstigdes ongeldig is;
  • die werkgeleenthede by projekte nie altyd deur betroubare bewyse soos ID’s, bywoningsregisters of betalingsbewyse gerugsteun word nie;
  • sommige begunstigdes by verskeie projekte ingesluit is, hoewel hulle net aan een projek deelgeneem het.

Figg sê daar is duidelike bewyse dat die openbarewerke-program gemanipuleer is om sekere werknemers van die departement van openbare werke of entiteite wat saam met die departement werk, te bevoordeel. Boonop het die departement sy teiken van indiensneming met meer as 375 000 gemis, gegrond op die teiken vir die eerste drie kwartale van die 2017/’18-boekjaar van 1,8 miljoen werkgeleenthede.

Meer oor:  Themba Godi  |  Nhlanhla Nene  |  Skoor  |  Staatsinstellings  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.