Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsbank: daar’s nie geld
’n Argieffoto van Absa in Sandton. Pres. Cyril Ramaphosa het in sy staatsrede herhaal dat die regering voornemens is om ’n staatsbank te skep.

Die staatsbank en soewereine welvaarts­fonds wat die regering wil stig, sal sukkel om op dreef te kom in ’n klimaat van nypende begrotingstekorte, ’n berg staatskuld en geringe ekonomiese groei, het ekonome ná afloop van pres. Cyril Ramaphosa se staatsrede gesê.

Die president het Donderdagaand aangekondig dat die regering besluit het om ’n soewereine welvaartsfonds tot stand te bring om die land se grondstowwe te bewaar.

Soewereine welvaartsfondse is redelik algemeen in lande met ryk neerslae van grondstowwe soos olie of minerale waar lande ’n groot oorskot van inkomste het danksy die grondstowwe.

Ramaphosa het gesê die regering sal voortgaan met sy planne vir ’n staatsbank sodat alle Suid-Afrikaners toegang kan hê tot bankdienste. Dié idee is nie nuut nie – dit was een van die resolusies wat die ANC in sy beleidskonferensie aan die einde van 2017 aanvaar het.

Ramaphosa het nie nadere besonderhede verstrek nie en gesê dié aspekte sal toegelig word in die begrotingsrede wat Tito Mboweni, minister van finansies, op 26 Februarie sal lewer. Ekonome is egter skepties oor die uitvoerbaarheid van ’n staatsbank en ’n soewereine welvaartsfonds gegewe die swak fiskale posisie waarin Suid-Afrika hom bevind.

Johan Gouws, hoof van adviesdienste by Sasfin Wealth, het aan Rapport gesê hy weet nie waar die geld vandaan gaan kom vir dié inisiatiewe nie. “Ons het Eskom, staatskuld en ’n begrotingstekort wat baie naby aan 7% van BBP is.” Suid-Afrikaners sal nie entoesiasties wees oor ’n staatsbank of ’n welvaartsfonds totdat korrupsie nie aangepak is en die finansiering daarvan uitgeklaar is nie.

“Korrupsie in ons land is tans so endemies en so iets kan weer ’n geleentheid wees vir wanbesteding.”

Christie Viljoen, hoofekonoom by PwC, sê Suid-Afrika is nie in dieselfde bootjie as Noorweë met ryk olieneerslae of Botswana met diamante nie. Al twee lande het soewereine welvaartsfondse wat met welslae bestuur word. “In Suid-Afrika is mynbou nie meer so dominant nie. Ons kan nie sê ons goudmyne sal byvoorbeeld so ’n fonds kan finansier nie. Die geld sal iewers gevind moet word – dít terwyl daar geen oorskot in ons begroting is nie.”

Viljoen sê daar is innoverende maniere om mense wat nog nie deel van die bankstelsel is nie betrokke te kry. “Maar bankdienste kos geld. Jy kan dit nie verniet lewer nie.”

’n Staatsbank sal in wese beteken dit is ’n regeringsinstelling wat dienste lewer teen ’n afslag wat die staat nie kan bekostig nie.

Kevin Lings, hoofekonoom van Stanlib, meen die idee van ’n staatsbank en soewereine welvaartsfonds is nog ver in die toekoms. “Dit kos geld om hierdie soort goed tot stand te bring. En wie gaan dit bestuur? Wat sal so ’n bank se mandaat wees? En wie sal die verantwoordelikheid dra as daar verliese is?”

Wat ’n soewereine welvaartsfonds betref, is daar net soveel vraagtekens, sê hy. Die vraag is waarom die regering nie sy doelwitte kan bereik deur middel van bestaande instellings soos die Nywerheidsontwikkelingskorporasie (NOK) die Ontwikkelingsbank van Suid-Afrika of die Landbank nie.

Meer oor:  Ekonomie  |  Staatsrede2020  |  Staatsrede  |  Staatsbank
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.