Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsdiens dreig met staking
(iStock)

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA) oorweeg dit om eensydig te staak ná die soveelste vertraging in die loononderhandelinge met die regering.

Volgens die VSA en die sewe staatsdiensvakbonde wat by Cosatu geaffilieer is, het die regering se onderhandelaars Dinsdagmiddag gevra dat die geskeduleerde vergadering tot Donderdag uitgestel word. Dit is om die onderhandelaars meer tyd te gee om die vakbonde se eise te oorweeg, gegewe die beperkings op die fiskus.

Daar word alom verwag dat die regering Donderdag met ’n hersiene aanbod na die onderhandelingstafel sal kom, maar Mava Scott, ’n woordvoerder vir die departement van staatsdiens en administrasie, wou dit nie bevestig of ontken nie.

Die uitkoms van die onderhandelinge sal ’n deurslaggewende uitwerking op die regering se geldsake hê.

Die regering is onder groot druk van internasionale kredietgraderingsagentskappe om sy uitgawes onder beheer te hou en te keer dat die begrotingstekort toeneem. Tot 35% van die regering se begroting word deur staatsdienssalarisse in beslag geneem.

Maar staatstdiensvakbonde en hul 1,3 miljoen lede is op hul beurt ontstoke omdat belastingverhogings en hoër lewenskoste die krag van ’n verhoging wat slegs gelykstaande aan die inflasiekoers is, verwater.

Nog ’n groot knelpunt is die wyse waarop die regering die heersende inflasiekoers vir die doeleindes van salarisverhogings bereken, sê Tahir Moepa, adjunkbestuurder van die VSA.

“Die regering gebruik sy eie formule en bepaal eensydig wat die inflasiekoers is. Daardie persentasie is nie aan ons bekend nie en ons wil hê dit moet nou op die tafel gelê word.”

Die regering bied ’n verhoging van VPI + 2% vir werknemers op die laer vlakke, VPI + 1,5% vir middelvlak-werknemers en VPI + 1% vir senior staatsamptenare. Die aanbod is op ’n glyskaal vir die tweede en derde jaar van die ooreenkoms.

Die VSA vra ’n verhoging van 10% oor alle vlakke heen.

Moepa sê die VSA laat sy lede stem oor ’n besluit of daar tot staking oorgegaan sal word. Die proses sal Vrydag voltooi wees.

“Die volgende stap is om die werkgewer kennis te gee waarna ons binne sewe dae tot staking kan oorgaan,” sê Moepa.

Die vorige loonooreenkoms het op 31 Maart verstryk en die nuwe ooreenkoms moes op 1 April van krag geword het.

Staatsdienswerkers wat op die 15de van die maand betaal word, het dus Dinsdag vir die tweede agtereenvolgende maand nie ’n verhoging gekry nie.

Dié stadige pas van onderhandeling skep groot frustrasie by die VSA se lede, sê Moepa.

Intussen berig Fin24 dat sommige van die Cosatu-geaffilieerde vakbonde gereed is om die loonooreenkoms te onderteken, met die uitsondering van die opvoedkundige en gesondheidswerkersvakbond Nehawu.

Mugwena Maluleke, ’n woordvoerder vir die Cosatu-unies, ontken egter die bewerings en sê daar is nog uitstaande kwessies wat opgelos moet word.

Meer oor:  Cosatu  |  Vereniging Van Staatsamptenare  |  Staking  |  Staatsdiens  |  Vakbonde  |  Lone
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.