Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsdiens: Uurglas loop ál leër vir skikking
Vakbondlede van Saftu betoog vandeesweek in Johannesburg teen onder meer die nuwe minimum loon. Lees Jan de Lange se rubriek hieroor in Stemme. Foto: Felix Dlangamandla

Die staatsdiens-loononderhandelinge gaan Woensdag waarskynlik op ’n volskaalse arbeidsgeskil uitloop wanneer die staatsdiensvakbonde in Pretoria voor Kenny Govender, die staat se onderhandelaar, stelling inneem.

Die onderhandelinge het al vroeg in Oktober verlede jaar begin, maar daar is nog geen vordering gemaak nie weens onsekerheid rondom die begroting en die uitslag van die ANC se leierskonferensie in Desember, en omdat Faith Muthambi in Februarie as minister van staatsdiens en administrasie vervang is deur Ayand­a Dlodlo.

Die land se 1,3 miljoen staatsamptenare eis verhogings van 12% vir die laags besoldigde werkers en 10% vir die hoogs besoldigdes. Die regering het tot dusver verhogings van 5,2% vir die laags besoldigde werkers aangebied en 4,2% vir die hoogs besoldigde amptenare.

Ná maande van onderhandelinge was daar geen beweging van enige kant om die gaping tussen die looneise en die aanbod van die staat te verklein nie.

Die huidige loonooreenkoms het op 1 April verval en amptenare was veronderstel om toe al weer verhogings te kry. Die onderhandelinge was in vorige jare teen Desember reeds agter die rug, selfs al het dit op stakings uitgeloop.

Govender was ook die hoof-onderhandelaar toe ons in 2010 gestaak het en weer in 2012. Ons het nie goeie herinneringe aan hom nie.
Basil Manuel van Naptosa

Nhlanhla Nene, minister van finansies, verwag dat die staat se loonrekening vanjaar R494,1 miljard gaan beloop – 35% van totale staatsbesteding. Elke 1% meer as die staat se loonaanbod beteken dat belastingbetalers ’n bykomende R4,91 miljard moet opdok om die verhogings van staatsamptenare se salarisse te betaal.

Die temperatuur in die onderhandelinge het effens gestyg toe Dlodlo voorverlede week vir Govender, adjunk-direkteur-generaal in haar department, as die regering se hoofonderhandelaar aangewys het.

“Govender was ook die hoofonderhandelaar toe ons in 2010 gestaak het en weer in 2012. Ons het nie goeie herinneringe aan hom nie. Sy aanwysing gaan dit nie makliker maak om te skik nie,” sê Basil Manuel, sameroeper van die arbeidskoukus in die staatsdiensbedingingskamer en president van die onderwysvakbond Naptosa.

Die Vereniging van Staatsamptenare (VSA), wat sowat 230 000 lede het, het reeds in Januarie ’n dispuut verklaar, maar die ander vakbonde, meestal die Cosatu-geaffilieerde Sadou (onderwysers), Nehawu (gesondheidswerkers) en Popcru (polisie en tronkbewaarders), het nog geen skuif gemaak nie.

Die Cosatu-vakbonde het egter verlede week aangekondig dat hulle vandeesweek met betogings oor etenstye begin omdat geen vordering in die onderhandelinge gemaak word nie.

Nhlanhla Nene, minister van finansies, verwag dat die staat se loonrekening vanjaar R494,1 miljard gaan beloop – 35% van totale staatsbesteding. Foto: Bloomberg

Aan regeringskant het Naledi Pandor, minister van ­hoër ­onderwys, die vakbonde verlede week gevra om geduldig te wees. Sy wil hê die ministeriële span van 13 ministers wat die onderhandelaars opdragte moet gee, moet meer tyd kry om binne die staatsdiens te konsulteer. “Ons verstaan dat die saak dringend is, maar ons het tyd nodig sodat ons kan seker maak ons stel ’n pakket saam wat werkbaar en volhoubaar is vir die regering, die vakbonde en die Suid-Afrikaanse publiek,” het sy gesê.

Die vakbonde dring egter daarop aan dat onderhandelinge Woensdag hervat word.

“Ons het destyds al besef daar gaan nie gevorder word nie en het toe ’n mandaat by ons lede gekry om ’n dispuut te verklaar. Ek verwag dat die ander vakbonde Woensdag dieselfde gaan doen, tensy die regering met ’n nuwe aanbod kom,” sê Ivan Fredericks, hoofsekretaris van die VSA.

As dit gebeur, verloop 30 dae waarin ’n vergoedingskommissaris ’n skikking tussen die regering en sy amptenare probeer beding. As ’n skikking nie in dié tyd bereik word nie, kan die vakbonde ’n staking regdeur die staatsdiens uitroep.

Die vergoedingstruktuur is egter heelwat ingewikkelder as blote persentasieverhogings. Huissubsidies, begrotings vir bevorderings en ander byvoordele skep heelwat beweegruimte vir die onderhandelaars.

“Ons het nog glad nie kans gehad om dit met die vakbonde te bespreek en opsies aan hulle voor te lê nie. Hulle moet net sê wanneer hulle nadere besonderhede wil hê, dan doen ons dit,” het Govender gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.