Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatskaping rem SA steeds – Moody’s
Moody’s het Suid-Afrika nié afgegradeer nie.

Die internasionale kredietgraderingsagentskap Moody’s het in sy jaarlikse verslag oor Suid-Afrika gesê die land se kredietstatus word steeds ondersteun deur sy sterk instellings – spesifiek die Reserwebank en die regbank.

Moody’s verwys egter na die “swakker bestuur in die openbare sektor, soos deur staatskaping getoon word”.

Die verslag is nie ’n besluit oor die land se kredietgradering nie, wat stabiel op Baa3 bly.

Lucie Villa, senior kredietontleder en medeskrywer van die verslag, het gesê Suid-Afrika se kredietstatus word ondersteun deur hoe sterk dié kern-instellings is, asook die land se diep en goed ontwikkelde finansiële sektor en markte.

Die grootste probleme spruit uit die stadige ekonomiese groei te midde van die voortslepende hoë werkloosheidsyfer onder veral jonger mense.

Die finansiële verknorsing waarin staatsondernemings is bring ook wesenlike gevare vir die staatsbegroting mee, soos in die begroting vir die boekjaar tot einde Maart 2020 gesien is toe R23 miljard jaarliks aan Eskom vir die komende drie jaar toegewys is.

Suid-Afrika se staatskuld in verhouding tot die BBP stem ooreen met dié van ander Baa3-lande, maar dié skuld is besig om op te skuif.

“Ons verwag Suid-Afrika se regeringskuld gaan 65% van die BBP bereik in die jaar tot einde Maart 2024,” sê Villa.

Moody’s bepaal die gradering van ’n land se staatseffekte op grond van vier faktore: hoe sterk die ekonomie is, sy staatsinstellings, sy begroting, en die kwesbaarheid van sy ekonomie vir negatiewe gebeure.

Oor Suid-Afrika se ekonomie het Moody’s gesê sy telling is matig, soos ook dié van Roemenië en Rusland. Suid-Afrika se groot, oop en gediversifiseerde ekonomie help met sy punt.

Die ekonomie is groter as die meeste van sy eweknieë met ’n gradering van Baa3, hoewel hy kleiner is as belangrike spelers in die opkomende markte soos Rusland, Indonesië en Brasilië.

“Die ekonomie is groter as die meeste van sy eweknieë met ’n gradering van Baa3, hoewel hy kleiner is as belangrike spelers in die opkomende markte soos Rusland, Indonesië en Brasilië. Die ekonomie word ook ondersteun deur sy diversifikasie. Die land het veral ’n goed ontwikkelde finansiëledienstesektor.”

Probleme vir die ekonomie is die voortslepende lae ekonomiese groei en hoë werkloosheid. Boonop stagneer arbeidsproduktiwiteit vergeleke met die land se eweknieë, volgens Moody’s. Terwyl produktiwiteit hier afneem, groei dit teen dubbelsyfers in Roemenië en Rusland.

Moody’s meen ook toenemende emigrasie veroorsaak ’n tekort aan sekere vaardighede omdat dit mense is wat betreklik skaars vaardighede het en welvarend is wat die land verlaat.

Ongelykheid dra ook by tot hoë misdaadvlakke. “Hoewel die misdaadvlakke afgeneem het, dra dit by tot emigrasie en dit ontmoedig plaaslike investering.”

Moody’s verwag die herstel in die ekonomiese groei gaan stelselmatig wees, maar dat sakevertroue gaan verbeter ná die verkiesing in Mei vanjaar.

Moody’s het oor Suid-Afrika se instellings gesê sy telling stem ooreen met dié van die Bahamas en Hongarye.

Dit stem ook ooreen met die mediaan-getal vir die Baa3-lande.

Die finale punt vir Suid-Afrika se instellings is matig, nadat ’n aanvanklike punt van hoog vir die land gegee is. Die matige punt word toegeskryf aan die voorkoms van staatskaping.

“Sistemiese korrupsie wat bekend staan as staatskaping, waar individue organisasies in die openbare sektor gebruik om hulself te verryk, het openbare bestuur verswak. Hoewel die praktyk, wat gedeeltelik staatmaak op politieke beskerming, nie uniek is aan Suid-Afrika nie, het dit ’n omvangryke en diepgesetelde vorm aangeneem wat nasionaal gedebatteer word. Dit is ook die vernaamste rede vir die geldprobleme wat staatsondernemings ondervind, en vir die swak belastinginsameling van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID).”

Moody’s sê hoewel die geveg teen staatskaping vorder, gaan tasbare resultate tyd neem.

“Die grootste risiko gaan wees dat lede van die regering by staatskaping betrek word en dit tot ’n groot omset van ministers lei, en dit weer beleidsonsekerheid kan skep.”

Moody’s sê hy beskou steeds die Reserwebank as onafhanklik ten spyte van die praatjies in die ANC om die sentrale bank te nasionaliseer.

Die land se kwesbaarheid vir sekere negatiewe gebeure is laag. Dié telling word bepaal op grond van hoe kwesbaar die land vir politieke gebeure is; vir probleme in die banksektor; vir probleme om skuld terug te betaal en vir internasionale gebeure.

Die belangrikste gevaar van buite is die groot getal buitelandse beleggers wat van die staatseffekte hou wat in die binneland uitgereik is. As dié beleggers binne ’n kort tyd die staatseffekte gaan verkoop, gaan dit die rand erg wisselvallig maak.

Meer oor:  Moody's  |  Reserwebank  |  Ekonomie  |  Staatskuld  |  Rommelstatus
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.