Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatskuld nou 60% van BBP
Die regering en staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) se uitstaande skuld is nou byna vier keer hoër as in 2008.

Suid-Afrika se staatskuld van R3 000 miljard beloop nou meer as 60% van die bruto binnelandse produk (BBP) – ’n persentasie gelyk aan wat dit was toe apartheid tot ’n einde gekom het.

Die regering en staatsbeheerde ondernemings (SBO’s) se uitstaande skuld is nou byna vier keer hoër as in 2008 en 15 keer hoër as in 1992, sê die onafhanklike beleidsdinkskrum Centre for Development and Enterprise (CDE) in ’n nuwe verslag oor staatskuld.

Ann Bernstein, uitvoerende direkteur, het die afgelope week met die bekendstelling van die verslag gesê daar is min aanduidings dat die styging in staatskuld in bedwang gebring word.

Luidens die navorsingsverslag, getiteld “Running out of Road”, moet die regering die krisis takel deur iets te doen aan die immer stygende openbare besteding. Hy moet ook verseker SBO’s, en die bedrywe waarin hulle sake doen, word geherstruktureer.

Bernstein sê tensy Suid-Afrika ’n nuwe groei-strategie aanvaar, sal die land nie sy staatskuld kan stabiliseer nie. Vinniger ekonomiese groei moet die hoofdoel van alle beleid wees.

LEES OOK: Só lyk staatskas se 'doodspiraal'

Luidens die verslag raam vanjaar se begroting dat die regering en SBO’s in die sewe jaar tussen 2015-’16 en 2021-’22 sowat R2 200 miljard sal leen. Dit is R1 miljard per dag, elke dag vir sewe jaar.

Volgens die CDE het dié situasie veroorsaak dat die skuldterugbetaling die begrotingsitem is wat die laaste paar jaar die vinnigste styg.

staatskuld

Suid-Afrika se terugbetaling op sy skuld is feitlik gelyk aan die land se gesondheidsbesteding en dubbel dié aan hoër onderwys.

Bernstein sê die regering het ekonomiese groei die laaste paar jaar oorskat en gevolglik vir onrealistiese uitgawes begroot. Dié besteding is nie aangepas vir swakker ekonomiese groei nie en het uitgeloop op groot, konstante begrotingstekorte, wat ons noop om baie geld te leen.

Die CDE se navorsing wys die styging in die skuldlas het grootliks ontstaan ná die wêreld- finansiële krisis in 2008, toe ’n groot gaping ontstaan het tussen regeringsbesteding en -inkomste. Die gaping het egter nie verklein toe die wêreldekonomie begin verbeter het nie.

Die CDE sê hoewel dit te verstane is dat staatsbesteding tydelik gestyg het om ekonomiese herstel ná die finansiële krisis aan te help, was die beleid wat aanvaar is gegrond op die idee dat die ekonomie (en dus ook belastinginsameling) vinnig weer sou groei teen die tempo van die vyf jaar voor die krisis. Groei was toe in die omgewing van 5% per jaar, maar ná 2009 kon ons kwalik 2% per jaar handhaaf.

Die beleid sluit in ’n groter staatsdiens en stewige salarisverhogings in die staatsdiens, wat albei ’n permanente uitwerking op bestedingsvlakke het.

Bernstein sê die meeste van die lenings ná 2009 is ook nie gebruik vir inkomste-genererende programme of lonende projekte nie.

“Baie daarvan is vermors omdat die infrastruktuur waarvoor die geld bedoel was, nooit die inkomste sal lewer wat nodig is om die lenings terug te betaal nie. Ons het miljoene rande bestee aan kragstasies wat nie krag lewer nie en miljarde aan treine wat nie loop nie. Die Passasierspooragentskap (Prasa), ondanks miljarde wat aan modernisering bestee is, vervoer 60% minder mense as ’n dekade gelede.”

Sy sê die regering se optrede tot dusver kon nie die trajek van agteruitgang keer nie. Van die SBO’s behoort toegelaat te word om te misluk omdat dit nie mededingend is nie.

“Meer mededinging is nodig en die private sektor moet toegelaat word om ’n groter rol te speel om doeltreffende, bekostigbare dienste te lewer.”

Meer mededinging is nodig en die private sektor moet toegelaat word om ’n groter rol te speel om doeltreffende, bekostigbare dienste te lewer.
Ann Bernstein

Die verslag beveel aan dat instellings van kritieke belang vir ekonomiese groei, soos sekere SBO’s, reggeruk word en beleid geformuleer word wat groei bevorder, pleks van te veel regulering in die ekonomie.

Ander sleutelhervormings is vaardigheidsontwikkeling, die verskaffing van betroubare en bekostigbare elektrisiteit en arbeidsmarkhervormings.

Daarbenewens is fiskale konsolidasie belangrik, maar pleks van hoër belasting moet besteding eerder ingekort word om die land se finansies te stabiliseer.

Bernstein het aan City Press, susterkoerant van Rapport, gesê staatsbesteding moet besnoei word. “Staatsdiens­salarisse het die laaste dekade met gemiddeld 11% per jaar gegroei. Dit kan nie só voortgaan nie. Staatsamptenare moet nie meer betaal word as werkers in die private sektor nie,” sê Bernstein.

“Ons sal net vinniger groei sien as die regering iets aan die fiskale krisis doen. Maar die teenoorgestelde is ook waar. Tensy ons groei aan die gang kry, sal ons nie die fiskale krisis kan afweer nie.”

Meer oor:  Ekonomie  |  Ekonomiese Groei  |  Staatskuld  |  Staatskas  |  Bbp  |  Belasting
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.