Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsrede: 10 dinge wat jy moet weet

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand sy vyfde staatsrede gelewer. Hier is tien belangrike punte wat hy gemaak het. Die toespraak is deurentyd gekenmerk deur realisme oor die impak van die Covid-19-pandemie en swak ekonomie, en Ramaphosa het probeer klem lê op vordering wat wel gemaak is met planne wat voorheen aangekondig is.

  

1. Die Covid-19-pandemie móét oorwin word

Ramaphosa het beklemtoon dat om Covid-19 te oorwin eerste moet kom met alles wat vanjaar gedoen word. 

covid-19
Die stryd teen Covid-19 kom eerste, het Ramaphosa beklemtoon.

Die gesondheidstelsel moet versterk word en inentings moet toegedien word.

Hy het verwys na die teleurstellende nuus dat die AstraZeneca-entstof nie so doeltreffend is teen die Suid-Afrikaanse variant van die virus wat Covid-19 veroorsaak nie (501Y.v2). Hy het egter die versekering gegee dat die eerste 80 000 dosisse van die nege miljoen dosisse Johnson & Johnson-entstof wat Suid-Afrika kon bekom, volgende week in die land aankom en dat stelsels in alle provinsies gereed is om die entstof te versprei en toe te dien.

Hy het opnuut beklemtoon dat entstowwe veilig is en dat Suid-Afrika se besluite oor die virus deur wetenskaplike navorsing gelei word.

2. Toelae word verleng

Ramaphosa het aangekondig die spesiale toelae van R350 vir mense wat geen ander staatshulp ontvang nie, word met nog drie maande, dus tot middel April, verleng.

Die Werkloosheidsversekeringsfonds se Covid-19-Ters-voordeel vir mense wat afgelê is, word ook verleng. Dit het middel Oktober ten einde geloop, maar sal nou tot 15 Maart verleng word. Dit geld egter slegs bedrywe wat glad nie kan sake doen nie (dit sal dus byvoorbeeld nagklubs insluit).

3. Die plan met infrastruktuur is op koers

Ramaphosa sê infrastruktuurprojekte wat R340 miljard werd is, is reeds in die beplannings- of konstruksiefase. Dis in energie, telekommunikasie, water en vervoer.

Twee groot behuisingsprojekte wat huise aan byna 68 000 mense sal verskaf, is in Gauteng begin.

Hy het verwys na sy “droom” van twee jaar gelede dat nuwe stede gebou moet word. Hy sê die Lanseria-slimstad, die eerste nuwe stad wat in die demokratiese Suid-Afrika gebou word, sal tot 500 000 mense binne die volgende dekade huisves. Die konsepmeesterplan vir die stad is vir openbare kommentaar uitgereik.

4. Plaaslike vervaardiging omarm

Ramaphosa sê daar is ’n wye verbintenis van die private en staatsektor en vakbonde om meer dinge plaaslik te koop. Dit sal plaaslike vervaardiging aanmoedig en werk help skep.

Pres. Cyril Ramaphosa op die bekendstelling van Ford se R15,8 miljard-belegging in Suid-Afrika. Hy het weer in sy staatsrede daarna verwys.

Die verbintenis is om Suid-Afrika se afhanklikheid van invoer oor die volgende vyf jaar met 20% te verminder.

’n Lys van 42 produkte – van meubels en mediese toerusting tot kookolie – is opgestel wat plaaslik vervaardig kan word. Dit kan na raming R200 miljard by die bruto binnelandse produk voeg.

Die kabinet het 1 000 produkte geïdentifiseer wat van klein, middelslag- en mikro-ondernemings aangekoop kan word.

5. 4 meesterplanne reeds onderteken

Ramaphosa het verwys na meesterplanne vir verskillende bedrywe wat opgestel sou word as ooreenkomste tussen die regering en die bedryf. Vier daarvan is reeds opgestel en onderteken in bedrywe wat kwesbaar was of die potensiaal het om op groot skaal werk te skep.

Danksy die meesterplan vir die pluimveebedryf is R800 miljoen belê en produseer Suid-Afrika nou 'n miljoen meer hoenders elke week.

Die suikermeesterplan is verlede jaar onderteken, met ’n verbintenis van groot suikergebruikers dat hulle 80% van hul suiker plaaslik sal koop. Dit het reeds tot ’n styging in plaaslike suikerproduksie gelei, wat ’n bedryf help wat meer as 85 000 mense in diens neem.

Die meesterplan vir die klere- en skoenbedryf het al meer as R500 miljoen belê om plaaslike produksie te verhoog.

Die meesterplan vir die motorbedryf is ook op koers, maar die bedryf is swaar getref deur die inperking. Ramaphosa sê egter daar is tekens dat die bedryf gaan herstel. Hy het verwys na Ford se belegging van byna R16 miljard om nuwe Ranger-bakkies in Silverton te bou. Hy het ook daarna verwys dat Toyota binnekort sal begin om die eerste hibried-motors wat in Suid-Afrika vervaardig word, in KwaZulu-Natal te bou.

6. Daar is geen ommekeer met SEB nie

Ramaphosa het beklemtoon dat swart entrepreneurs en nyweraars ondersteun moet word om ongelykheid te bestry en alle Suid-Afrikaners in die ekonomie te betrek.

Hy het gesê daar sal geen ommekeer wees met die beleid van breëbasis- swart ekonomiese bemagtiging nie.

Dis ’n omstrede stelling net dae nadat die beoogde Toerisme-ekwiteitsfonds op ys geplaas is weens besware daarteen dat dit net ondernemings wat 51% in swart besit is, gaan help.

Liggame soos die Sakeliga en Solidariteit is uitgesproke dat bemagtiging nie nou voorkeur moet kry nie.

7. Lof vir die private sektor 

Die private sektor is die primêre en grootste werkskepper, het Ramaphosa geê.

Sakeorganisasies sal waarskynlik juig oor die klem op die lewensbelangrike rol van die private sektor om werk te skep en die ekonomie te ondersteun.

Ramaphosa het egter gesê die staatsdiens sal aanhou om werkskepping te ondersteun deur sy program van uitgebreide openbare werke totdat die arbeidsmark herstel het.

Daar is ’n “simbiotiese verhouding” tussen die staat en private sektor – die private sektor gaan die meeste werk skep, maar die staat kan werk skep op maatskaplike gebiede soos in skole en hospitale.

8. Kragopwekking moet verbeter word

Ramaphosa het beklemtoon dat betroubare kragverskaffing sentraal staan tot ekonomiese groei.

Die regering se vyfde bodronde vir groenkrag begin eersdaags.

Hy het gesê Eskom vorder met sy instandhoudingswerk om sy steenkoolkragstasies meer betroubaar te maak.

Planne word nog gemaak om Eskom ook finansieel meer volhoubaar te maak, en dit sluit in veranderinge aan Eskom se tariefstruktuur.

Ramaphosa het ook daarna verwys dat meer krag van onafhanklike kragprodusente aangekoop sal word.

Die suksesvolle tenders vir die 2 000 MW noodkrag waarvoor Eskom verlede jaar gevra het, sal binnekort aangekondig word.

Munisipaliteite wat kwalifiseer, sal binnekort toegelaat word om hul eie krag op te wek, soos voorheen aangekondig is.

Volgens Ramaphosa gaan daar binne vyf jaar ’n tekort aan tussen 4 000 MW en 6 000 MW wees soos ou kragstasies die einde van hul lewe bereik. Tenders vir die opwekking van 2 600 MW se wind- en sonkrag gaan binne weke gevra word, as die vyfde bodronde vir groenkrag van die regering.

Binne die volgende drie maande sal regulasies verslap word wat dit moontlik maak om meer krag op te wek sonder ’n opwekkingslisensie. Ramaphosa sê onderhandelinge sal bepaal wat daardie grens is – dis tans 1 MW. André de Ruyter, uitvoerende hoof van Eskom, het self onlangs gepleit dat dit tot 50 MW verhoog word.

9. Digitale migrasie is noodsaaklik

Ná jare lange vertragings migreer Suid-Afrika vanaf Maart van analoog-aardtelevisie na digitale aardtelevisie. Die proses sal na verwagting ’n jaar lank duur.

Die veiling van breëbandspektrum begin ook uiteindelik, ná vertragings van tot 14 jaar, in Maart. Dit gaan dalk deur hofsake vertraag word, met sowel MTN as Telkom wat reeds regstappe gedoen het teen die proses wat met die veilings gevolg gaan word.

10. Vaardige werkers en toeriste verwelkom

Ramaphosa het aangekondig e-visums vir besoekers van China, Indië, Nigerië, Kenia en nog tien lande gaan in werking gestel word sodra reisbeperkings opgehef is.

Dit het veels te lank geduur om te doen, het Ramaphosa toegegee.

’n Nuwe lys kritieke vaardighede, waarvoor werkpermitte versnel sal word, word binne ’n week uitgereik word.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Staatsrede  |  Staatsrede2021
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.