Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Ekonomie
Staatsrede: 9 dinge wat ekonome wil hoor
Cyril Ramaphosa is Donderdagmiddag as Suid-Afrika se president beëdig. Foto: Jaco Marais

Vrydagaand gaan Suid-Afrikaners vir die eerste keer in ’n dekade hoor wat ’n nuwe president in sy eerste jaarlikse staatsrede sê.

Daar is groot verwagtinge oor wat pres. Cyril Ramaphosa Vrydag omstreeks 19:00 gaan sê.

Die staatsrede is met meer as ’n week uitgestel as deel van die proses om Jacob Zuma te oorreed om as president te bedank.

Hoewel die begrotingsrede eers volgende Woensdag in die parlement gelewer word, het ekonome hoë verwagtinge dat Ramaphosa reeds ’n aanduiding sal gee hoe hy beplan om groot knelpunte op te los wat ekonomiese groei benadeel.

Hier is die nege vraagstukke waaroor hulle duidelikheid wil hê:

1. Radikale ekonomiese transformasie

Ekonome van PwC wil graag duidelikheid hê oor presies hoe die regering beplan om die ekonomie te herstruktureer en hoe Ramaphosa radikale ekonomiese transformasie definieer.

“Die strategie agter dié plan was tot dusver baie onduidelik.”

2. Gratis tersiêre onderwys

Dis ’n feit dat onderwys die grootste bydrae lewer om armoede te verlig, sê PwC.

“Die finansiering van tersiêre onderrig is nie net ’n fiskale vraagstuk nie, maar een wat ’n baie groot invloed op Suid-Afrika se ekonomie kan hê.

“Studente en tersiêre instellings het meer duidelikheid nodig oor hoe gesubsidieerde hoër onderwys ingefaseer gaan word.”

Dawie Roodt, hoofekonoom van Efficient Group.

3. Werkskepping

Ramaphosa het in die aanloop tot sy verkiesing as president van die ANC sy “nuwe plan” vir Suid-Afrika bekend gemaak.

Hierin het hy onderneem om een miljoen nuwe werkgeleenthede binne vyf jaar te skep.

“Die president moet uitwei oor hierdie plan en hoe hy beplan om veral die vervaardigingsektor te ondersteun,” sê PwC.

Bonang Mohale, uitvoerende hoof van Business Leadership South Africa, sê ook in ’n verklaring Ramaphosa sal dringend op werkskepping moet fokus.

4. Staatsondernemings

Die beroerde stand van sake by staatsondernemings is welbekend.

Daar moet duidelikheid gegee word oor presies watter vordering gemaak is om die druk wat hulle op die fiskus plaas, te verlig en hoe hulle ekonomiese groei in die toekoms gaan steun, sê PwC.

Dawie Roodt, hoofekonoom van die Efficient Group en Sake se Ekonoom van die Jaar vir 2016, sê hy wil hoor wat is die planne vir staatsondernemings wat betref privatisering en of van hulle toegemaak sal word.

5. Mynbouhandves

PwC wil hê duidelikheid moet gegee word oor presies hoe die dooiepunt oor die Mynbouhandves opgelos gaan word.

Ernst Muller van Herbert Smith-Freehills wil hê Ramaphosa moet reguit sê die derde weergawe van die handves, wat in 2017 uitgereik is, maar sedertdien opgeskort is in aanloop tot ’n hofsaak daaroor deur die Kamer van Mynwese, word herroep en dat ’n openbare konsultasieproses oor die onderwerp begin gaan word.

6. Grondregte

“Daar is kommer oor grondregte – ’n sleutelvereiste vir ekonomiese ontwikkeling. Dit volg nadat Ramaphosa in Desember aan die een kant aangedui het hy ten gunste is van die onteiening van grond sonder vergoeding, maar aan die ander kant gesê het grondhervorming moet só behartig word dat dit nie landbouproduksie en voedselsekerheid benadeel nie,” sê PwC.

Fanie Brink, onafhanklike landbou-ekonoom, sê Ramaphosa sal “spesifiek moet aantoon dat hy erken en verstaan dat die ANC se besluit om kommersiële landbougrond sonder vergoeding te onteien die produksie van voedsel dramaties sal verswak en die land in ongekende hongersnood en baie groter armoede sal dompel”.

Roodt wil hoor dat die staat private eiendomsreg sal respekteer.

7. Private sektor

Brink wil weet hoe Ramaphosa die private sektor gaan betrek, nie net om die regering se maatskaplik-ekonomiese beleid te ondersteun nie, maar hoe die regering dié sektor gaan ondersteun.

Dr. Roelof Botha, dosent by die Gordon Institute of Business Science aan die Universiteit van Pretoria, wil hoor hoe ’n sakeomgewing met minder regulasies geskep gaan word, wat ekonomiese groei sal bevorder.

8. Korrupsie, oor- en wanbesteding

Brink wil ook graag hoor watter stappe Ramaphosa gaan doen om “korrupsie, oor- en wanbesteding, asook die skuldlas van die regering, onder beheer te kry”.

Roodt sê hy wil hoor dat Ramaphosa gaan sê die staat van nou af minder gaan bestee en dat drastiese aksie teen korrupsie geneem gaan word.

Botha wil hê Ramaphosa moet ook verduidelik hoe probleme by munisipaliteite opgelos gaan word.

9. Kaapse droogte

Botha sal graag by Ramaphosa wil hoor dat daar ’n wesenlike begrotingstoekenning sal wees om die waternood in die Wes-Kaap te help verlig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.